Toortsie se Toeka Tokkel oor groente

In opdrag van Scrapydo.

In my kinderdae is verskillende groente in verskillende bakkies voorgesit: Soetpatats, soet wortels, boontjies met aartappels, beet met uie, wortelslaai, ertjies met botter en neut oor … Ek het ook só gekook ná my troue, maar nie naastenby so lekker soos dit in my ma se huis gemaak is nie. Soos die jare aangeloop het, het my ma net meer en meer getoor met groente, terwyl ék al luier en luier geraak het. By mý het eenpotgeregte al hoe meer prioriteit gekry, met al wat groente is sommer in dieselfde pot. Deurmekaar potjies.

In die jare toe ek nog geglo het aan lae vet disse, het ek met groot oë na my ma se boontjies gekyk wat ‘n bietjie bacon by het, of haar spinasie met al die kaas in. Ag, ek het te lekker saamgeëet, maar gewonder wie flous vir wie. Nou weet ek! Want my hele siening oor kos het mos verander!

Vandat ek verander het na ‘n hoë vet dieet (Banting), het groente ‘n nuwe dimensie in my lewe gekry. Daar is net soveel moontlikhede! Die eenvoudigste manier vir my om groente gaar te maak, is om ‘n klompie (deurmekaar) sommer net bros te kook in water en dan botter en neut oor te gooi. Daardie selfde groente kan natuurlik ‘n bietjie room en kaas ook oor kry vir ‘n nuwe baadjie. En as ek dit in lekker groot stukke sny en dit goed aanhelp met olyfolie en botter en dit in die oond druk, raak dit onweerstaanbaar. Dan praat ek nie eers van groenteroerbraai in botter nie. Spinasie word opgedollie tot iets allerheerliks; ‘n soetrissie word omtower met die heerlikste vulsel; ‘n gewone, plat, bruin sampioen verander na iets besonders met ‘n boontjie-en-uievulsel en fetakaas.  ‘n Ui, gebraai in botter, verander enige groente se aansien. (Van uie gepraat: Julle weet mos as daar kopers na julle huis kom kyk, jy ‘n bietjie uie in botter moet braai net voor hulle kom?) Dan nog al die verskillende soorte kase wat ‘n mens na hartelus kan gebruik, gee elke keer vir jou groente ‘n ander gesig.

20160220_210517[1]By Banting is groente ‘n baie prominente kos, ons moet immers by elke ete groente inneem, so ‘n mens kan dit sommer byvoorbaat interessanter maak. Só het my kossies Saterdagaand gelyk: Lamstjoppies in die oond gebraai, gevulde sampioene en spanspek (oranje lys, gebruik matig).

Terloops, vandat ek alles in botter gaarmaak, eet die hond ook selfs van die oorskietgroente!

Groentegroete

Toortsie

Toortsie se Faceboekblad

Toortsie se Bantingboerkos faceboekblad

Bestel Toortsie se Bantingboerekos HIER

24 thoughts on “Toortsie se Toeka Tokkel oor groente

  1. Jy vertel nou presies soos my kokery ook ontwikkel het. Eers moeder met groente netjies gekook. Daarna doen ek dieselfde soos sy vir n tydperk. Hoe haastiger die lewe gevlieg het hoe vinniger het alles in een pot beland. Nou is ek ook op die stadium van botter en room en kaas en gesonde groente! Dis die moeite werd. Jou resepte is uit die boonste rakke! 🙂

    Like

  2. Hierdie week skiep ek die skrywery. Het Menieres aanval gehad waar ek nie eers my kop kon ophou nie…. en dit lyk boonop of ek onderwater lees. Wanneer julle oor ryk en lekker kos praat, val ek uit die bootjie 😦

    Like

  3. Sonder hoe vet of self gaar maak, eet my honde hande vol knarsende rou wortels saam met my. Maar ek stem saam, hoe minder ek ook agter die warmstoof moet staan, hoe beter.

    Like

Gesels saam, asseblief!