Blogvernuwing

Op 10 September 2010 het ek die eerste keer iets geskryf op hierdie blog en vóór dit op my vorige blog wat ek een nag in waansin afgevee het. Op hierdie stadium is hier al 1429 bloginskrywings gedoen, deur my, die kameel en die bokbaaivygie. Darem nie almal deur my nie!

Ek wil glo dat, deur oefening en oor tyd, my skryfwerk verbeter het. As ek soms na van my ou bloginskrywings kyk, besef ek dat ek sekere goed nou anders sal skryf, dat my taalgebruik hopelik beter is, en soms ook dat my siening oor iets verander het of ryper geword het. ‘n Mens het mos soms ‘n siening oor ‘n ding en dan gebeur iets, en jou siening verander. 🙂

Wanneer die bloguitslae altyd op 31 Desember kom, maak hulle altyd melding van bloginskrywings van vorige jare wat steeds die oog vang.

Ek het nie die tyd of die krag om al my ou bloginskrywings weer oop te maak en oor te lees en te redigeer nie. Wat ek wel nou op ‘n gereelde basis doen, is om te kyk watter van my ou inskrywings miskien die vorige dag gelees is. Ek doen dit deur in die beheerpaneel op een van die dae op die statistiekgrafiek te kliek. Dit maak dan ‘n lys oop van al die bloginskrywings wat op daardie spesifieke dag gelees is.

So ‘n inskrywing sal ek dalk redigeer indien dit nodig is. Ek verander hier en daar aan ‘n sin. Sou ek heeltemal van siening verander het, sal ek die bloginskrywing so behou, maar bysit dat my siening intussen verander het en dat ek dit dalk nou anders doen as wat ek in die stukkie skryf. Soms verander ek die hele inskrywing. Ek kyk ook sommer of die kategorië nog reg is, dalk wil ek iets byvoeg en voeg ‘n paar ‘tags’ by. Soms ‘share’ ek dan die bloginskrywing sommer weer op faceboek ook. Dit is natuurlik so dat dit nie noodwendig dieselfde mense is wat nou nog op my blog lees wat in 2010 gelees het nie, so dit kan onmoontlik vir ‘almal’ ou nuus wees! 😉

Ag, hierdie is eintlik nuttelose inligting, maar dalk help of inspireer dit ‘n ander blogger. Ek glo dat ek hierdeur oor tyd dalk my blog effens kan vernuwe. Dalk bring dit sommer nuwe lewe en selfs nuwe voete! Terloops, nadat ek reeds hierdie geskryf het, sien ek dat WordPress ook dié raad gee.

Lekker blog!

Toortsie

Toortsie se faceboekblad

Toortsie se Bantingboerekos faceboekblad

Toortsie by Finesse: Kleur

 

18 thoughts on “Blogvernuwing

  1. Mens moet seker eerstens jouself afvra hoekom jy blog.Ek hou dit baie persoonlik en ek gee nie regtig om of iemand dit lees nie.Party mense skryf in Engels om ‘n groter mark te bereik,maar ek wil graag in my taal skryf.Dis vir my baie soos ‘n dagboek..sekere gedagtes en gebeurtenisse op sekere tye.Ek sien uit na jou vernuwing!

    Like

  2. Vernuwing kan net ‘n goeie ding wees. Ek het ook mos perongeluk/aspris my ou blog uitgevee, en was eers spyt daaroor, maar ek hou van die nuwe begin. Hoop jy kry gou tyd daarvoor.

    Like

  3. Ek is maar redelik nuut hier rond en gaan krap soms in almal se argiewe. As ek so kyk na my eie blogs, lyk dit vir my of ek dit merendeels gebruik as ‘n manier om stoom af te blaas of sommer net om saam te gesels.

    Like

Gesels saam, asseblief!