Behoeftes rondom ‘n ouer in die ouetehuis

Ek het al voorheen geskryf dat ek soms baie dom voel ten opsigte van wat ek vir my ouers in die ouetehuis moet doen en wat moet ek los. Waar trek ek die streep? Wanneer oortree ek?

My ma beweeg baie moeilik. Sy loop met ‘n loopraam. Dalk moet ek begin dink daaraan om ‘n rolstoel aan te skaf vir die een of twee keer wat ons ‘n bietjie dorp toe gaan. Sy is 87 en het nog ‘n behoefte om soms in die winkels te kom.

Dis vir haar H E E R L I K om gou vinnig vir middagete uitgeneem te word. Sy het altyd van mooi en smaakvolle plekke gehou, so as ‘n mooi en smaakvolle eetplek ‘swaarloopvriendelik’ is, kan hulle weet dat ons daar sal ondersteun. 🙂

By ons Checkerssentrum is daar ‘n eetplekkie waar ons nogals graag eet. Dis nie té ver van die rolstoelparkering af nie, die loopstukkie gaan maar baie stadig en moeilik, maar sy geniet dit altyd só dat dit steeds die moeite werd is. Bekendes wat sy nooit meer sien nie, loop daar verby en kom sê hello. Dit gee haar sommer weer moed om aan te gaan.

Parking-handicapMaar nou is daar ‘n probleem, daar is baie selfsugtige, arrogante, lui mense wat op die rolstoelparkeerplekke parkeer. Dit bring mee dat sy dan óf baie verder moet loop, of anders moet ons dit los omdat daar nie geskikte parkeerplek is nie.

Wat ek verskriklik waardeer is mense wat hulle dienste in die ouetehuis aanbied. Die dame wat haar hare geknip het al die jare, is steeds gewillig om haar hare te versorg in haar kamer in die ouetehuis. 🙂 Is dit nie fantasties nie?

Om in klerewinkels te kom, bly maar ‘n groot taak. Daarvoor is ek weer vir Felicity op Struisbaai so dankbaar. Sy is bereid om ‘n hele oggend af te staan om vir ouma geklee te kry. Sy sal selfs kledingstukke ‘op sig’ stuur om haar te help.

Daar was ‘n dame wat soms in my ma se kamer gaan sit het vir ‘n dag en haar klere verstel het. So iets waardeer ek so baie, want om haar by die kleremaakster te kry, eers vir meet, dan vir aanpas, is regtig ‘n moeilike storie.

Is jy dalk werkloos en het dalk so iets wat jy kan doen, is dit dalk net die beginpunt. Dit word nie verwag dat jy dit gratis moet doen nie!

Groete

Toortsie

Toortsie by Finesse: Die foto of die storie

Toortsie se Bantingboerekosboek

Toortsie se faceboekblad

11 thoughts on “Behoeftes rondom ‘n ouer in die ouetehuis

  1. My skoonma is al negentig en kan nie meer loop nie.Ons gaan haal haar Saterdae vir middagete by ‘n oulike kwekery.Dis nogal ‘n gesukkel om haar en die rolstoel in my karretjie in te kry,maar my man doen dit met die grootste geduld.Sy geniet dit vreeslik.Hou aan om jou ma te bederf…hulle tydjie is kort.

    Like

  2. Dit is ‘n probleem as jy nie met hulle kan rondbeweeg nie, want hulle mis die stimulasie. Selfs op ‘n baie hoë ouderdom wil hulle nog graag mooi versorg lyk en gelukkig het ‘n haarkapper en vrywilligers wat naels doen, elke week ‘n dag bestee by my ma se ouetehuis. Dan was daar ook van die oues wat nog steeds kon musiek maak en vir groot pret gesorg het.

    Like

  3. Ag dit vat my weer terug na ‘n hartseer tyd toe my ma die laaste twee jaar bedlêend was, en my pa haar versorg het. Een dag het ek haar op die toilet laat sit en net daar haar hare en lyf gewas, en met die bad se stortkraan afgespoel. Die hele badkamer was sopnat, en moes opgedroog word. Dit is moeilik wanneer hulle hulself nie meer kan help nie.
    ‘n Rolstoel klink vir my na ‘n goeie idee vir jou ma. Sterkte vir die pad vorentoe.

    Like

    1. Dankie. Sy beweeg nog goed met die loopraam, dis net in die dorp waar sy ‘n hele entjie moet stap. Ek dink tog dit raak tyd om maar ‘n rolstoel te bestel, mens weet nie wat die toekoms gaan oplewer nie.

      Like

  4. Ek het vir jare ouetehuis toe gegaan om die biblioteek daar te bedryf. Ek het die ouens wat siek was gaan opsoek en hul boeke omgeruil. Ook met hul n 5 minute net gekuier. Ek het altyd dop gehou wie nie kom uitneem nie en dit dan opgevolg. Hul het daar ook n haarkapper gehad, speeletjies gespeel en baie stimulering gehad. Die parkering op die gestremde parkeerplek deur nie-gestremdes maak my sommer briesend.

    Like

  5. Ek was nou die dag geskok om te sien ‘n draagbaar kos meer as ‘n rolstoel. ‘n Rolstoel is eintlik glad nie so duur soos wat ‘n mens dink nie.

    Ek bewonder mense wat ‘vreemde’ ou mense kan versorg. Ek het al byvoorbeeld ‘n boek van Annelie Botes gelees waar sy op ‘n weeklikse basis ou mense se voete gaan vryf het. Ek sal dit beslis nie kan doen nie.

    Like

  6. Dit laat my dink aan my ouma wat twee jaar gelede op 94 oorlede is. Die laaste paar keer wat ek daar gaan kuier het het ons altyd ‘n rolstoel georganiseer waar ons gegaan het en dit het dinge baie vergemaklik omdat haar sig ook baie swak was, so sy kon nie mooi sien waar sy loop nie. Ek het net so ‘n broertjie dood aan mense wat onwettig op die gestremde parkering parkeer. Hier by ons is die boetes vreeslik hoog en jou motor se wiele sal geklamp word as jy gevang word dit doen.Dis nie ‘n maklike fase nie maar ons is tog so bevoorreg om ons ouers nog met ons te hê.

    Like

Gesels saam, asseblief!