Miskraam

Ek het ‘n miskraam gehad. 24 jaar gelede. Myne is regtig al lankal verwerk.

Die rede hoekom ek nou hieroor skryf is omdat een vriendin se skoondogter amper haar babatjie verloor het en ‘n ander vriendin se skoondogter wel ‘n miskraam gehad het.

Dogter, skoondogter, geen verskil. Noudat ek self ‘n ouma is besef ek dat die verlies van ‘n ongebore baba baie verder strek as net tot by die ma wat die baba verloor het.

Daar was genades by my geval. Ek het reeds twee kinders gehad. Tog was dit nie maklik nie. Dit moet verskriklik wees vir ‘n ouerpaar wat hulle eerste baba verwag. As hulle nog gesukkel het om swanger te raak, soveel te meer!

Ek was baie kort swanger en dit is mos algemeen dat vrouens babas in die eerste trimester van swangerskap verloor. Die Junie-vakansie het net begin toe ek die baba verloor het. Ek het dus redelik alleen my verlies verwerk. Die grootste fout wat ek en my man gemaak het was dat ons dit nie gekommunikeer het nie. Ek het nie besef dat dit vir hom nét so geweldig swaar was nie, ek het so op myself gefokus en op mý verlies, min wetende hoe swaar hy ook kry.

Nog ‘n genade was dat ek redelik vinnig daarná weer swanger geraak het, met my pragtige meisiekind wat ek vir niks op die aarde wil verruil nie. Die probleem is, as jy ‘n miskraam gehad het en jy raak weer swanger, dat daar twyfel in jou hart nesgeskop het. Sal jy hierdie baba behou? Sal dit goed gaan met hierdie baba? Die geringste teken van iets vreemds, maak die vrees wakker. Totdat jy die miskraamdatum verbygesteek het. Dan raak dit beter, maar tog bly die vrees onbewustelik daar.

‘n Swangerskap wat deur ‘n miskraam voorafgegaan is, laat voel die swangerskap ook ekstra lank. Dit het vir my gevoel of ek ‘n jaar swanger was, want die vorige swangerskap sonder ‘n baba word bygetel.  Dit raak lank.

Vir elkeen wat deur hierdie trauma moet gaan van ‘n miskraam wens ek net sterkte toe. Niemand kan jou daarop voorberei nie. Mag jy krag ontvang om dit te verwerk. Mag jy weer swanger raak en mag hierdie swangerskap dan goed gaan. Mag God jou wonde genees. Maar mag God ook die breër gesin wat almal daardeur geraak word, versterk. Mag julle mekaar bystaan.

Groetnis

Toortsie

Toortsie se Faceboekblad.

30 thoughts on “Miskraam

  1. Dis so waar, niemand kan n mens hierop voorberei nie! Ek het 2 miskrame gehad, die eerste een was erg. Gelukkig het ek gou daarna weer swanger geraak, haar ook amper verloor! Daarna weer n seun gehad, laaste een weer n miskraam! Ons het ook nie regtig daaroor gepraat nie en dit het baie lank geneem om die tweede een te verwerk!

    Like

  2. Moes 7 maande in bed lê toe ek Jay verwag het. Kon enige oomblik miskraam. Dit was die stresvolste tyd…! Eers na haar geboorte by dokter gehoor hulle was nie seker of dit ‘n normale baba sou wees nie, maar het niks vir ons gesê nie omrede hulle nie ekstra stres wou gee nie. Tot vir twee jaar na haar geboorte het daar ‘n onrustigheid gebly dat ons haar gaan verloor.
    Aan die ligter kant…. sy was so in haar vroeg tieners toe sy eendag vir my sê ‘Ek was mos ‘n miskraam nê.’

    Liked by 1 person

    1. Kort na my miskraam het ek toe my laatlam verwag. Ek moes toe ook ekstra versigtig wees. My man moes my op ‘n stadium elke tweede dag inspuit … grrrr … gelukkig het dit goed gegaan en is liefste laatlam nou al in ‘n beroep!

      Like

      1. My man sê toe so ewe droog vir haar ‘ja, hulle het die baba weggegooi en die nageboorte gelos.’ Ons lag toe almal lekker saam…. terg haar nog so wan en dan daarmee.

        Liked by 1 person

  3. My dogter en skoondogter het miskrame beleef. Beide het die verlies verskillend ervaar, verlies bly verlies, dit slaan mens op die krop van die maag. Sulke dae het ek gewonder of ek ooit die verlies so dapper sou kon verwerk.

    Like

      1. MAAR Toortsie jy weet .. ek het sekerlik die wonderlikste swangerskappe beleef , – daardie kerskous-soort – my dierbare hartekinders – daarom is ek tog so dankbaar dat ek nie miskrame beleef het nie, dit is my darem gespaar.

        Like

  4. Die lang swangerskap gevoel het ek nooit so aan gedink nie. Dis logies dat die reeds verby maand of meer by die volgende swangerskap tel omdat die hormone nog in die ligaam is. Kommunikasie is ook baie belangri tussen ouerpaar en hul ouers ook. My ouers was nooit naby my nie. Ek het twee maal amper miskraam gehad gedurende eerste drie maande toe ek my seun verwag het. Na tweede keer se amper verloor het alles mooi gevestig en het dit net beter en beter gegaan. Kameel en Woorde praat ook van gevoelens wat ek ook deurgemaak het. Vertroue en krag van bo bly belangrik,

    Liked by 1 person

    1. Dit voel net vir my dat daar regtig soveel vroue is wat miskrame deurgemaak het en eintlik praat niemand daaroor nie. Ons praat oor hoe ons geboorte gegee het, maar die miskraam word soveel keer net toevallig in ‘n sin genoem. Ek dink daar is regtig ‘n behoefte dat mense daaroor kan praat.

      Like

  5. Ek was 10 toe my ma uit die bloute weer swanger geraak het. As oudste seun met twee jonger sussies, het ek elke aand vir Liewe Jesus gevra dat dit ‘n boetie moet wees. Ek het selfs met my spaargeld vir die toekomstige boetie ‘n speelding gaan koop. Toe… die miskraam. Ek was verpletter en het lank oor my boetie getreur (dit was toe ‘n seuntjie).

    Liked by 1 person

  6. Gelukkig het ek geen persoonlike ervaring hiervan nie, maar ek het gedurende die jare wat ek gewerk het, baiekeer die houding gesien teenoor vroue wat miskrame gehad het: “Ag probeer maar weer”, so asof dit ‘n bal wat jy probeer raakslaan of ‘n koek wat geflop het, of “Jy is mos nou nie regtig siek nie, hoekom bly jy so lank weg van die werk af?” Dis so verkeerd.

    Like

  7. Die ergste is as die baba gebore word en dan net ‘n paar ure leef..dit het met my broer en sy vrou gebeur.Dit was verskriklik!Dit sou beter gewees het as die baba ‘n miskraam was.Ek het hulle so jammer gekry.

    Like

  8. My hart gaan uit aan elke dame wat ‘n miskraam moet deurgaan en ook haar man… My sussie is so lief vir kinders en het jare probeer swanger raak en die een keer wat sy toe dit reg ge kry het was dit ‘n buis swangerskap… sy is nou in haar laat 50s en het nooit kninders van haar eie gehad nie… maar sy doen liefdadigheid en daarin is sy geseend met honderde ‘kinders’… dit maak my dankbaar

    Like

  9. Dis so hectic! Die ergste is die gewag. En als wat deur jou kop gaan. Het jy ooit jou kinders daarvan vertel? My vriendin se baba is op die derde dag oorlede van ‘n bakterie wat hy opgetel het in die hospitaal. Iets wat ‘n doodgewone antibiotika gou kon uitsorteer. Hulle het dit te laat ontdek. Ai. Elke keer as iemand vra hoeveel kinders sy het moet jy haar dilemma sien

    Like

    1. My seuns was daardie tyd al 6 jaar oud, so hulle was heeltemal bewus van die situasie.
      En ja, my dogter weet daarvan. Ek het altyd vir haar vertel dat ek so graag ‘n dogtertjie wou hê en dat ek dink daardie babatjie was ‘n seuntjie, toe gee God eerder vir my die dogtertjie. Dalk verkeerde manier om dit te vertel, maar ek wou hê sy moes spesiaal voel.

      Liked by 1 person

      1. Sys beslis baie spesiaal. My man het eendag my kinders vertel van twee ander babas wat reeds in die hemel was. Die deernis daarvan en hulle reaksie daarop het my gehelp om dit te verwerk. Dis asof my seun in als harder leef om op te maak vir die ander ene wat die lewe nie beskore was nie.

        Like

  10. En daar het my dogter Dinsdag n miskraam. Ek is vêr in die buiteland en wil haar so graag net vasdruk. Ek het self miskrame gehad. Vir elke baba n naam gegee en n boom geplant.
    Hul het n gesonde seuntjie van 10 maande oor wie ons innig dankbaar is. Dit vat egter nie die potensiaal en holte van hierdie enetjie wat in wording was weg nie.
    N Ma se hart is dubbeld seer as so iets gebeur. Jy dra jou eie en jou dogter se hartseer.
    Maar dit sal weer heel word. Praat en vertel die storie. Beleef jou emosies en moenie dit onderdruk of afmaak nie. En vertrou die Vader om die seerkry gesond te maak. Die wete dat die kleine hartkloppie in die holte van Sy Skepperhand lê maak die gemis sagter. Sterkte aan almal wat hierdeur gaan

    Liked by 1 person

Lewer kommentaar op Kameel Kanselleer antwoord