Toortsie se Toeka Tokkel oor eerste skool/werk

In opdrag van Scrapydo natuurlik, hoe dan anders?

Ek verkies om oor my eerste werk te skryf, lank gelede het ek oor my eerste skooldag in die plaasskooltjie geskryf.

Iewers klop my somme nie so lekker oor wanneer dit sou wees nie, maar ek dink dit moes in my standerd nege jaar wees wat ek vir my pa gesê het ek sal graag by die winkel op Struisbaai werk. In daardie dae was daar eintlik maar net die een winkel, tóé deel van Suidhoek Verbruikers. Verder het Struisbaai ‘n viswinkel gehad en dalk ‘n kafee. Nie veel meer nie.

My pa het met die winkeloom gaan praat en daardie Paasnaweek het ek toe geoefen op die kasregister. Die hele Desembervakansie het ek toe elke tweede dag till geslaan. Soggens 8 vm het ons ingeval en saans tussen half 10 en 10 uur wanneer die laaste mense weg was, uitgeval. Een uur middagete tussenin. Tien en ‘n half ure per dag, teen R8.00 per dag. Dit was vir my ‘n groot plesier, en nee, Departement Arbeid het nie gekla nie. (Deesdae mag iemand tussen 15 en 18 jaar oud maksimum 35 ure per week werk.)

Dit was ‘n groot ervaring en ek is so bly ek kon dit doen. Dit was uiters harde werk en wat sleg was was dat ek eintlik baie eensaam was. Watter vriendekring het nou lus vir ‘n maat elke tweede dag, wat nie vreeslik wil saamjol saans nie want môre vroeg moet ek by dit winkel wees? Tog sal ek dit vir niks verruil nie en as ek nou nog elke dag in my AMC kastrolle kook wat ek met daardie geld gekoop het, glimlag ek al die pad!

Die oom van die winkel het nie geweet hoe ‘n mens moet maak dat die kasregister die bedrag wys wat uitgekeer word nie. So, as die totaal R8.34 was en die persoon gee ‘n R10.00, moes ek self uittel hoeveel kleingeld uitgekeer moes word. Ek sien deesdae die jongmense neem ‘n optelmasjientjie om dit reg te kry. Ek sou so tel: R8.34, (1c) 8.35, (5c) , 8.40, (10c) 8.50, (50c) 9 rand, (R1) 10 rand.

Die oggend van die eerste dag het my pa my ‘n belangrike les geleer wat ek vandag nog toepas: Geen geselsery met ander mense terwyl jy met ‘n klant besig is nie. Jou volle aandag moet by die klant wees. Kan julle dink hoe dit my deesdae irriteer as ek by die kassier is en hulle aandag is orals anders as by my? Een oggend toe hy my kom wakker maak het ek so effens gekla, toe sê hy net: “‘n Arbeider moet sy loon waardig wees.” 🙂

En dan die rye mense! As jy opkyk, sien jy net mense, mense, mense. 🙂 Het jy al Struisbaai se OK se ry beleef in ‘n Desembervakansie?

Groete

Toortsie

19 thoughts on “Toortsie se Toeka Tokkel oor eerste skool/werk

  1. Jy was vroeg ingelyf vir die besigheidswêreld. Ek sou vir almal die verkeerde kleingeld gegee het…. my kop en syfers wil mos nie saam werk nie.

    Like

    1. Maar as jy mooi tussen die kommentare deurlees sal jy sien dat my somme VERKEERD was!
      Ek was ook die jongste. My ouboet het vakansies gevry. Ek dink nr 2 het vakansies by ‘n ouditeursfirma gewerk. En ek. Ja. Ek. 🙂 Ons hoef dit nie te gedoen het nie, my ouers het dit nie van ons verwag nie, ek dink dis wat dit lekker gemaak het, ons WOU dit doen.

      Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!