Dit geld seker vir enige kamp: koorkamp, rugbykamp, noem maar op. Daardie ding van ‘n naweek konstruktief op ‘n sekere iets fokus. Jare gelede was ek op ‘n kamp, kan nie onthou watse kamp dit was nie, maar daardie keer het hulle van ons patriotte gemaak soos nooit tevore nie. Ons is die wêreld in SA. Al is ons ‘n klein landjie, gebeur alles wat in die res van die wêreld gebeur, ook hier. Dit was in 1979 toe SA nog ver van die res van die wêreld was. Ek wonder hoeveel ons koppe dalk daardie naweek in ‘n sekere rigting geswaai was …
Waaroor ek eintlik wil skryf, is geestelike kampe. CSV kampe. Kerkkampe. Uitreike. Stranddienste. Huweliksverrykingskampe.
Stranddienste. Vakansiedienswerk. As daar één ding is wat absoluut uitstaan in die vorming van my eie geestelike lewe, is dit stranddienste. My ma het in haar jongdae stranddienste toe gegaan op Kleinmond. Sý het my weer as jong laerskooldogter aangemoedig om dit by te woon op Struisbaai. Die groot keerpunt het gekom toe my niggie in my st 4 jaar die spanma was. Ek het geboer by die stranddienstent, aan die lippe gehang van die studente wat spanlede was. Sonder dat ek besef het, is my lewe gevorm, my paadjie uitgelê in ‘n ietwat ander rigting as wat dit andersins sou wees.
Jaarliks het ek gedurende die Aprilvakansie die ACSV Dogterskampe bygewoon. Sielsveranderend. In my universiteisjare, die eerstejaarskamp en tweedejaarskamp bygewoon wat ons kerk aangebied het.
Soveel jare later volg my kinders in dieselfde voetspore. Hul woon ook die kampe by, gaan op uitreike, hou stranddienste.
Ek dink ek hét al hieroor geskryf, maar dit bly vir my uiters belangrik, ek wil graag nog wéér hieroor skryf. Ek sal nooit uitgepraat kan raak oor die geweldige impak wat dit op my geestelike lewe as jong tiener gehad het nie, oor die verdieping in my geestelike lewe en wat veroorsaak het dat ek steeds meer en meer die regte pad wil stap, dieper wil lees nie. Ek wil veral vir ouers aanraai: Stuur julle kinders op sulke kampe en uitreike. Dis iets waaroor jy nooit spyt sal wees nie. Stuur hulle, maak dit vir hulle moontlik, natuurlik net as hulleself belangstel om te gaan, nie onder dwang nie. Daardie kampkoste is ‘n finansiële belegging in hulle geestelike welvaart, ‘n belegging wat vir jou soveel meer gaan teruggee as wat jy ooit sal besef. Orals word daar sulke kampe aangebied, spits net jou ore en jy sal hoor daarvan. Sommer in Maart/April word Imagine aangebied. Vind asb uit daarvan en stuur jou kind. Dis fantasties. Sielsveranderend. Dalk kan jyself saamgaan as groepleier. Jy sal nie spyt wees nie. Ons land se toekoms is in die hande van die jeug. Kom ons help hulle om die regte pad te loop, om die land in die regte rigting te stuur. Kom ons maak ‘n daadwerklike verskil.
Het jyself nie ‘n tiener om te stuur nie? Borg dan iemand. Daar is soveel pragtige jongmense met soveel potensiaal wat nie die fondse het om dit by te woon nie. Maak dit vir hulle moontlik deur jou borgskap.
Pay it forward.
Groete
Toortsie
Die 1979 tydperk was regtig “ängswekkend” met die terroriste aanvalle. Kampe is rerig wonderlik. Ek het bv Voortrekker kampe help organiseer. Ons het elke jaar Majuba toe gegaan gegaan vir kamp! Dit is wonderlik om soggens en saans Bybeltyd te hê en dan die dag se verrigtinge te doen. Die kampe versterk die samesyn van jongmense en ook die leiers. Elke jongeling moet kampe bywoon om die saamsnoer van gedagtes en dade te beleef. Ek hoop daar is mense wat sulke kinders kan help of borg.
LikeLike
In daardie tyd was kommunisme ook ‘n ekstra groot bedreiging. Dit was nodig om die kinders geestelik te versterk. Nou is dit ook nodig. 🙂
LikeLike
Presies wat ek ook voel.
LikeLike
Wat jy se is die heilige waarheid. Ek het my tweeling gestuur na ‘n Gretha Wiid Skoolvoorbereidingskamp in Pretoria (ses ure se ry van ons af). Hulle het ‘n vriendin saamgevat wie se geestelike lewe maar taamlik swart was. Met die terugkoms toe kom vertel sy my haar HELE lewe het verander – Sy het Jesus ontmoet. Jip, ja, ek stem saam. Kampe bo!!
LikeLike
Fantasties! Kinders kry soms op sulke positiewe kampe die blootstelling wat hul nêrens anders kry nie. Al probleem kan wees dat hul op ‘n high terugkeer en dan geen ondersteuning kry nir.
LikeLike