Kersfees

Kersfees is ‘n familiefees, ‘n fees van vreugde, ‘n fees van saamwees.  As jy gelukkig is, ‘n fees van saam eet, ‘n fees van geskenke uitdeel, ‘n fees van saam kerktoe gaan. ‘n Fees van saamsing, saam lag.

‘n Fees van vreugde oor ‘n Verlosser wat gebore is, ‘n Koning wat bereid was om Sy Hemelse bestaan tydelik prys te gee sodat Hy mens kon word, ‘n nederige aardse bestaan kon voer. ‘n Koning wat bereid was om te sterf vir my en jou sondes, selfs al het Hyself nooit gesondig nie. ‘n Koning wat die dood oorwin het.

Wat maak die korrekte datum van Sy geboorte saak? Wat maak dit saak dat daar glo ook heidense feeste op hierdie dag gehou is in die verlede? Wat maak die kommersialisering van hierdie dag saak? Christus ís gebore, of ons dit wil erken of nie, Hy is ‘n Koning, of ons Hom erken of nie. Hy hét opgestaan uit die dood, of ons dit aanvaar of nie. Dis feite, ware feite.

Oor die kommersialisering van Kersfees? Ek moet erken dat dit vir my lekker is om kersliedere in die winkels te hoor. Op hierdie manier word die Boodskap tog ook verkondig. Ja, vir baie mense gaan dit oor die geld wat gemaak word, die geskenke, hoe meer en duurder, hoe beter. Dis elke persoon se eie besluit, hoe buitensporig hy of sy wil gaan, of nie. Solank ek sorg dat mý hart reg is. Solank ekself tot eer van Hom optree, solank ek Hom deur my lewe verheerlik. Soms kan ons so te velde gaan oor so iets soos die kommersialisering van ‘n godsdienstige ding, dat onsself ons eie doel en aandeel vergeet.

Wel, ek is mal oor kersfees, met alles wat daarmee saamgaan, die eet, die saamwees, die kerk, die vreugdeliedere, die presente.

Geseënde kersfees! Mag ook jý vandag God se liefde en vreugde ervaar. Is jy ver van jou familie af, dan is vandag dalk sommer net die regte dag om ‘n hand van vriendskap na iemand uit te reik …

Watter groter geskenk is daar as die geskenk van kersfees, van die geboorte van ‘n Verlosser?

Groetnis

Toortsie

Laat julle liggies skyn!

8 thoughts on “Kersfees

Gesels saam, asseblief!