Queen – Kween

Ek het nou die dag op die radio gehoor dat ek die woord nog altyd verkeerd het. Dis nie ‘n queen nie, maar ek kan sowaar nie onthou hoe die woord gespel word nie. Ek het hierdie benaming vir ‘n steriele vroulike bees al by my pa gehoor. Vreemd, hy het nie eintlik sulke goed gepraat nie, ek het gedink dis sommer sy eie woord!

Met dié dat ek ons beesadministrasie doen, weet ek daar is so ‘n verskynsel. Wanneer ‘n bees ‘n tweeling het, is dit soms so dat die versie steriel is. Ek kon nooit onthou in watter geval nie, maar die persoon wat dit op RSG verduidelik het, het nou vir my lig gebring! Blykbaar is dit nie ‘n probleem as die tweeling twee versies is nie, maar wel wanneer die tweeling bestaan uit ‘n bulletjie en ‘n versie. Interessant.

Volgens die slim man op RSG, en ook hierdie baie insiggewende artikel op Wikipedia oor “Freemartin“, is die rede daarvoor dat die bloedvate van die “chorion” van die twee fetusse aan mekaar vasgroei, die bloed deur beide die fetusse vloei en die versie dus manlike hormone inkry. Ek kon nêrens die Afrikaanse woord vir Chorion kry nie, maar as ek na hierdie artikel kyk, lyk dit vir my soos die buitenste membraan om die baarmoedersak. (Verskoon as ek die kat nou behoorlik aan die stert beet het! Ek hoop Karen lees hier, dat sy kan help! Karen ek kon nou nie jou regte blogadres kry om jou te tag nie.)

Hoekom sal ek nou hieroor skryf terwyl ek niks hiervan weet nie? Omdat dit my al vir jare interesseer. Nie genoeg dat ek dit nagevors het tot nou toe nie, maar wel. Sien, ons het ‘n verskalfie gehad wat nie geregistreer was toe ek die admin begin doen het nie. Q130. Hul het vir my verduidelik dat sy nie geregistreer is nie omdat sy ‘n Queen is. Toe Q130 haar derde verskalfie in ‘n ry gee, het ek haar geregistreer. Genade! Sy hét haarself mos bewys!

Ek sien Wikipedia sê dat in 10% van die gevalle mag dit gebeur dat die vers nie geaffekteer is nie. By ons stal is nou weer so ‘n tweeling gebore, nou wonder ek maar weer hieroor, sien.

Dankie, RSG, julle leer ons mooi, saam met oom Wiki wat die inligting aanvul.

Groetnis

Toortsie

Danksy Coetzeeblog wat gereageer het, die spelling is KWEEN en die HAT stem volmondig hiermee saam.

 

 

17 thoughts on “Queen – Kween

    1. Lees ‘n bietjie daardie Wikipedia artikel. Ek het sommer nou verder gelees en gesien dat wat ek nog altyd geweet het van my tweeling steeds so is. Ek het gedink dat daar al nuwe feite gekom het. Soms as ek iets sê van hulle identiesheid, vra mense moeilike vrae en dan twyfel ekself. Ek het nou sommer vir hulle ook al die skakels gestuur wat op hulle van toepassing was.

      Like

  1. Baie interessant. Klink nogal logies en tog ook vreemd. Wonder ook of ander diere dit ook kan hê, honde en katte is beslis uitgesluit. Wonder wat van bokke? Ons het wel n dubbelslagtig lam gehad. Bikke kry mos ook maar gereeld tweelinge.

    Like

  2. Hi Toorts, sien nou eers ek het met my nuwe adres jou nie gevolg nie. Geen wonder ek kry geen kennisgewings nie! Lê nou in die bed met ‘n kat op die bors en dag ek vang gou op in blogland. I.e.g. jy was amper reg – die chorion is deel van die plasenta. Die plasenta bestaan eintlik uit twee dele, een deel kom van die ma (uterussleimvlies of plasenta materna) en die ander deel, die chorion, kom van die fetus = plasenta fetalis. Daar is verskillende modelle by verskillende diere, van hoe die plasenta saamgestel is, en ook verklaar hoekom mens ‘n kween by beeste kry (ek het nie die Afrikaanse woord geken nie!) maar nie by ander diere nie. Ek sal graag ‘n blog daaroor skryf, want soos jy sê, dis eintlik vrek interessant.

    Like

Lewer kommentaar op Toortsie Kanselleer antwoord