Toortsie se Toeka Tokkel oor Sopkombuis

In opdrag van Scrapydo.

Hier op die plaas waar ek bly, ken ek nie regtig ‘n sopkombuis nie. Ek glo elke liewe dorp het dalk so iets, of ‘n manier waarop hulle aan behoeftiges voorsien. Wat ‘n wonderlike gebaar van onbaatsugtige mense, mense wat hulle tyd en geld opoffer om aan hulpeloses hulp te verskaf. Hoe groot het die nood nie geraak nie!

Iets waaroor ek baie keer dink, is die voorsiening van kos by skole. Ek wil sommer heel eerste noem dat ek geen probleem daarmee het nie. Ek, as juffrou, weet hoe belangrik dit is dat kinders kos in hulle magies moet hê om enigsins te kan presteer in die skool. Hoe kan jy leer, presteer as jy met ‘n honger maag worstel? Daarom is ek bly dat die regering fondse beskikbaar stel en dat baie skole ‘n kosprogram het. Vir baie kinders in ons land is dit die enigste kos wat hulle die hele dag eet, daardie een bord kos wat by die skool voorsien word.

Ek kan egter nie help om verder te dink nie, en asseblief, moenie hierdie as negatief sien nie, sien dit eerder as bekommernis. Ek wonder net hoeveel ouers van behoeftige kinders maak deesdae só staat op die skole wat hulle kinders voed, dat hulle, al sou hulle dalk tog vir hulle kinders op ‘n skrale manier kon voed, voel dat hulle nie meer nodig het om hulle kinders te voed nie? Ek besef daar is regtig baie mense wat dit eenvoudig net glad nie kan bekostig nie. As ek sien wat die staatspensioen is, weet ek nie altyd hoe mense daarop kan oorleef nie.

My bekommernis is dit: Leer ons nie in die proses vir ouers af om vir hulle kinders te sorg nie? Leer ons nie dalk hierdeur nog slegter gewoontes aan, terwyl ons eintlik die teendeel wil doen nie?  Vererger ons nie die maatskaplike probleem nie? Asseblief, sien my hart raak. Ek het ‘n HART vir hierdie kinders. Ek wil hulle graag help. Ek gun hulle die kos wat hulle by die skool kry, maar ek kan nie anders as om verder te dink nie.

Ons moet asseblief probeer om nie afbrekend in die kommentare te raak nie.

Groete

Toortsie

 

18 thoughts on “Toortsie se Toeka Tokkel oor Sopkombuis

  1. In sommige skole sit daar leerlinge wat nie meer skoolpligtig us nie , en ook geensibds belangstel om enigsinds hulle kennis te verbreed ni. Hulle ontwrig d klas en doen geen werk in d klas of tuis nie. Hulle druip sonder om sleg te voel en bly steeds in d skool . Ek het vroeer vanjaar tot d oortuiging gekom dat hulle daar is net vir die kos.

    Like

      1. Ongelukkig doen hulle kwaad in die skool. Hulle ontwrig die klasse, vertraag die vordering met die lesse en is vir die ander leerders wat darem nog ies wil leer tot groot nadeel. Hulle gebruik ook dikwels dwelms en my man is eenkeer deur sy adjunkhoof gewaarsku om tog nie streng op te tree teen ‘n sekere leerrderr nie, omdat hy meestal vol tik is en gewelddadig kan raak. My vraag is: waarom word hy in die skool toegelaat?

        Like

  2. Ek verstaan jou hart in hierdie saak. Daar sal altyd die wees met ‘n mentaliteit soos jy hier noem, maar hoe gemaak? Ek voel so oor die bedelaars; wie bedel werklik vir sy gesin…. of wie bedel vir drankgeld?

    Like

  3. Sjoe dis ‘n vreeslike moeilike ding die Toortsie, my hart breek ook vir die kinders. En ek stem volkome saam met jou. Dalk gaan die bietjie geldjies wat die ouers wel aan kos spandeer het nou na drank, die kinders kry mos klaar een bord kos by die skool?

    In ons laerskool is meeste van die boere se kinders, die ryk mense. En dan maar die middelklas mense soos ons. Maar daar is ‘n paar kindertjies wat SO arm is hulle het ook nie kos nie. Ons dorpie is maar kleinerig so almal ken almal in die skool, en die kinders weet nou al watse maatjies het nie kos. Ons mammas pak maar ekstra broodjies in en ons het ook ‘n sopkombuis by die skool. In die somer kry hulle lekker broodjies, en in die winter sop. Maar hoe leef ‘n kind net op een maaltyd per dag?

    Een van my vriende se ma’s het klas gegee by die skool naby my werk. Die “dorpie” is gebou JARE gelede waar gestremde mense kon woon. Vandag is dit een van die armste gemeenskappe wat ek in my lewe gesien het. My vriend se ma het bedank na ‘n jaar, sy kon nie meer die hartseer oor die kinders hanteer nie. Ek ry ook nie meer daardie pad nie, maar ry eerder ompad.

    Like

    1. Jare gelede, toe my kinders nog in die plaasskool was, het ek vir ‘n dogter ‘n broodjie saamgestuur. Ons het self finansieel maar swaar gekry, dit het seker konfyt opgehad. Sy het gesê: “Nee dankie, ek eet nie bruin brood nie.”
      So ‘n paar jaar later was daar weer ‘n arm kind wat my kinders se aandag getrek het. Op ‘n Maandag het ek dan vir hom ‘n broodjie gestuur. My kinders moes eers vir hom vra of hy dit sal wil hê. Hy was baie dankbaar. Daar was kaas op. Hulle het kom sê dat hy nog nooit kaas geëet het nie. Vir so ‘n kind stuur ek graag!

      Liked by 1 person

      1. Jinne mens kry ondanbare kinders!

        Dis vir my baie sleg dat kinders so swaar moet kry. Ek dink Solidariteit se tassie projek is puik, ek gaan beslis bietjie geld van my bonus gee daar ook!

        Like

  4. Ek wil nie hoog heilig klink nie maar moet ons nie die beginsel van gee so veel as moontlik en dan die linker en regter hand beginsel toepas nie. As mense hulle kinders net vir kos stuur moet ons dalk gaankyk wat ons nog kan doen om te help?

    Like

  5. Dit is maar met die skuilings ook so. Sommige misbruik die goedheid terwyl ander te beskeie is om te erken hul het nood. Die kinders wat net vir kos skooltoe gaan is darem ook n growwe veralgemening. Daar is altyd die handjie vol wat uitbuit. Ek dink tog driekwart is rerig behoeftig en het dit nodig. Baie kinders leef op grootouers se pensioentjie. Hier is dit ook maar so. Die voorsiening aan die mindergegoede skole word hier ondersteun deur winkels wat hul voorsien van meer gesonde groente of vrugte. Nie n toebroodjie nie. In winter n beker sop met n broodjie en somer vrugte. Dankie vir jou sopkombuis. Dis die ander sopkombuis waarvan ek gepraat het. Die fliek een bestaan nie meer nie.

    Like

Gesels saam, asseblief!