Net een brander

20151122_102830-1Hierdie week val ek uit die bus uit wat scrapydo se  toeka-tokkel “Sopkombuis,” aan betref.  Ek weet te min daarvan af om eers ‘n poging aan te wend.

Ek het mos hierdie liefde gehad om alles wat wild is te ry…. perde uitgesluit.  See het beteken jy ry branders op ‘n “boogy” bord uit; hoe wilder hoe beter.  Om net in die branders rond te spring is nie my idee van pret nie.  Net voordat Menieres my wêreld onderstebo kom draai het, verdrink ek amper in Richardbaai, en my seeavonture – behalwe met ‘n loopstok langs die see stap – kom tot stilstand na Menieres.

Tien jaar later en ‘n diep verlange om net eenkeer weer met ‘n brander die see uit te ry, neem van my besit.  My liggaam is nie meer diè een waarmee ek sonder skaamte, met ‘n kostuum rondgeloop het nie; maar dit is ‘n struikelblok wat ek sal oor wanneer ek daarby kom, besluit ek.  Verlede week neem Ken die bul by die horings en ry met my Margate toe.  “Gaan koop vir jou ‘n kostuum sodat jy daardie brander kan gaan ry,” sê hy.  In die aantrekhokkie staar die waarheid my in die oë; ek sien te goed wat die jare aan my liggaam gedoen het.  Net daar begewe my moed my, maar Ken neem aksie, betaal vir die kostuum en pakkie in my hand loop ek by die winkel uit.  Nou is daar nie meer omdraai kans nie – die brander doem soos ‘n reus voor my op.

‘n Paar dae gelede ry ons Uvongo toe.  Die see is rof, met sterk branders. Vroeër jare sou dit idiaal gewees het, maar nou lyk dit vir my na ‘n groot bedreiging.  Ek stroop my klere van my af, en daar staan ek met kostuum op die strand.  Ten aanskoue van vele oë word daar eers ‘n foto geneem; dit moet op ons huisgesin se “whatsapp” groepie kom, sodat die kinders kan sien hul ma het die groot stap geneem.  “Hou my hand styf vas,” sê ek vir Ken toe ons die water instap.  Die probleem met Menieres is, sodra die water om jou voete begin kolk is jy dadelik van balans af, en rigtingloos. Ek slinger soos ‘n dronk persoon rond.  Ken hou so wat hy kan, maar ‘n brander slaan my onderstebo, en ek trek hom saam met my.  Nog voordat ons kan opkom, slaan ‘n volgende een oor ons, en rol ons in die sand rond, en nog een is bo-oor ons koppe.  Ek gooi handoek in, en al slingerend – met seesand wat sulke bulte in my kostuum maak – kom ek by die kampstoel terug.

Vanoggend net na ses kom maak Ken my wakker.  Dit is ‘n lieflike dag; ons moet strand toe sodat ek die brander kan gaan ry.  Voor sewe is ons op die strand, en die see is kalm.  Ons moet diep instap om by die branders uit te kom.  Nodeloos om te sê ek kom so dronk soos ‘n lord daar aan.  “Hierdie een,” sê Ken, en gee die “boogy” bord ‘n stoot.  Dis ‘n mislukking en ons probeer weer.  “Het jy vergeet hoe om te ry?” vra Ken, “druk die neus van die bord in die water.”  Die volgende brander, en ek druk die neus so diep dat ek bollemakiesie slaan.  By nou is ek pootuit, en die strand lyk myle vêr.  Die derde brander is ‘n sukses, maar nie sterk genoeg om my tot op die strand te neem nie.  Vir vandag is dit genoeg, hyg ek, en maak uitasem vir die strand.

Ek vra net een perfekte brander; daardie een wat my van daar doer met vol spoed tot op die strand sal uitneem.  Ek sal weet wanneer ek hom gery het!!!

25 thoughts on “Net een brander

  1. So bly jy kies die see en die pret bokant hangups oor jou lyf! So baie mense mis al die pret net omdat hulle skaam is viir mense wat nie eers vir hulle kyk nie. Ek hoop jy kry darie brander en ry hom lekker!

    Liked by 1 person

  2. Nou klap ek hande vir jou! Jy is beslis n wenner! Dit klink vir my baie lekerder as die sopkombuis. Ek is so bly jy durf dit aan en dat Ken jou so mooi bystaan. Wat sal jy tog sonder so n wonderlike man gedoen het? Jammer ek lees nou eers maar my week was so vol van ander dinge dat ek net nie tyd gehad het nie. Dankie dat jy dit geskryf het dit is n oorwinnings fliek op sy eie.

    Like

    1. Ai, kry so ‘n smakie van hoe die celebs moet voel oor goeie kommentaar 😆 Dink die fliek sou meer ‘n komedie gewees het…. maar dankie. Vertrou jou week gaan geseënd wees.

      Liked by 1 person

        1. Plan is om volgende Maandag terug te gaan. Gee my ‘n week om daardie brander te ry… maar die weer speel voorwaar nie saam nie. Ontsettende winde wat waai, of mistroostige weer. Bly jy geniet jou werk. Sluit die skole nie ook nou kort voor lank nie? Dan is jy seker af?

          Like

Gesels saam, asseblief!