Oor werksetiek en telefoonetiket

Sekere tye van die jaar kry ek meer oproepe waarin ek werksbevestigings moet doen. Dit kom daarop neer dat een van ons werkers iets op skuld wil koop en daardie besigheid my dan skakel om te bevestig dat die persoon wel by ons werk.

Dalk skryf ek hierdie stuk sommer vir myself ook, want as die winkels bel vir ‘n werksbevestiging, is ek sommer al, as eerste reaksie, suur.

Wat ek, en elke persoon wat vir iemand werk, nooit mag vergeet nie, is dat jy daardie firma verteenwoordig. Sodra jy die telefoon of ‘n kliënt of epos hanteer namens die firma, IS JY DAARDIE FIRMA. Jý bepaal wat die ander persoon se idee van hierdie firma is. Dit beteken, jou vriendelikheid, hulpvaardigheid, slapgatgeit, knorrigheid, kanniewarriehouding, bepaal of die kliënt jou firma as vriendelik/hulpvaardig/slapgat/knorrig/kanniewarrie gaan ervaar.

Ekself antwoord deesdae die foon met “hello” wat eintlik baie swak is, maar ek doen dit om ‘n spesifieke rede. Ek wil maar eers hoor wie my bel voor ek myself te goed bekendstel. As ek egter vir iemand bel, stel ek myself in die eerste plek voor en waaroor ek bel. Wanneer ek egter wil stuipe kry, is wanneer iemand van ‘n besigheid my bel, konfidensiële inligting vra, en nie eers die ordentlikheid het om te sê: “Goeie môre, ek is xxx van hierdie firma en ek bel in verband met xx” nie. “Hello. Werk Piet Pompies by julle?”

Ek vra nou een dag vir ‘n dame wat bel of sy nie dink dat sy haarself darem net aan my  moet voorstel voor sy sulke persoonlike inligting begin vra nie, waarop sy toe op my begin skree dat ek nie vir haar moet leer hoe om haar werk te doen nie. Ek het maar die foon saggies neergesit. Dis tog nie ék wat aan háár iets wil verkoop nie, dis sý wat iets aan een van mý werkers wil verkoop! Ek wou tóé al hieroor skryf, maar het besef dat sy heel waarskynlik nie hier gaan lees nie. Dalk lees haar werkgewer?

Ja, telefoonetiket, emailetiket, kommunikasie-etiket is aan die glip. Dalk kan ek en jy wat hier lees, dalk iets hieraan doen deur in ons eie huis te begin vee? Deur nie self ook te verval nie. Deur ons werkers wat kommunikasie doen, te probeer oplei. Ek besef dis amper ‘n onbegonne taak, maar ons kán iewers begin. Probeer bou, eerder as om af te breek?

Dis ‘n oerwoud daar buite! Sterkte!

Toortsie

Toortsie se faceboekblad

13 thoughts on “Oor werksetiek en telefoonetiket

  1. Jy’s heeltemal reg, die persoon wat bel moet homself behoorlik voorstel. My telefoon het ‘Caller ID’ en as die nommer aan my onbekend is, is ‘hello’ ook my manier van antwoord. Maar dan is telebemarkers deesdae so goed opgelei, hulle begin die gesprek sonder uitsondering met: “Good morning to you Mrs … , how are you today?” Dan is my antwoord: “I’m well, thank you for asking,” en ek plak die foon neer. Ek is vreeslik onopgevoed. SIES Hester.

    Like

    1. Ja. Mens ruik hulle op ‘n afstand! Ek antwoord ook goed dankie, maar vra nie terig hoe dit gaan nie. Siestog hulle is so ordentlik! Dan bly ek doodstil en sodra ek vir seker weet dis ‘n telebemarker sit ek ook maar die foon neer.
      Truecaller is fantasties. Ek blok dan daardie nommer.

      Liked by 1 person

  2. Ek is altyd baie vriendelik,want my kind het by so ‘n call center gewerk en hulle word soms vreeslik verbaal mishandel.Daardie bietjie vriendelikheid maak dit dan sommer ook beter wanneer mens nee sê vir die produk of wat ookal.

    Like

  3. Ek kry die call center mense ongelooflik jammer…. maar wil nie in ‘n gesprek met hulle betrokke raak nie. Wonder hoe voel hulle na ‘n werksdag? Liewe, ek kannie die hele wêreld onder my vlerk neem en gelukkig probeer maak nie….. maar so is ek gesnaar. 2

    Like

Gesels saam, asseblief!