As ek ooit weer ‘n resepteboek uitgee, wat sal ek anders doen?

Die boek is nog nie heeltemal klaar nie, ek is redelik klaar met my deel, maar daar moet nog baie gedoen word. Wat het ek hierdeur geleer? Wat sal ek anders doen as ek ooit in my lewe weer mal genoeg is om ‘n resepteboek te wil uitgee?

Ek moes my taalgebruik behoorlik afstof! Ek het nogals altyd gedink ek praat ‘n redelik goeie Afrikaans, maar helaas. Baie keer as ek geskryf het, het die stemmetjie iets in my oor gefluister, maar ek het iets anders getik, iets wat verkeerd is. Ek sal beslis in die toekoms meer op my taalgebruik moet let. Genadiglik het ek oulike vriendinne wat goed genoeg is vir my en bereid was om met ‘n rooi pen merkies te maak!

My oorspronklike manier van resepte neerskryf was nie voldoende nie. Ek sal moet konsentreer daarop om hoeveelhede neer te skryf, nie by benadering nie. Ek kon soveel tyd gespaar het as ek dit van die begin af reg gedoen het. My oorspronklike formaat was ook nie reg nie: Bestanddele moet eers gelys word, dan die metode. In my boek is alles nou so, maar dit het onnodige tyd geneem om dit als reg te maak.

As ek nou ‘n resep verwerk, is die grootte van die bak waarin dit kom, vanuit die staanspoor belangrik, nie eers as ek die boek al amper publiseer nie!

Eenvormigheid. Alles moet in gramme en milliliters wees, nie party in gramme en ander in koppies en emmers nie! Alles gaan maar oor die reg doen van die begin af.

Die waarde van spanwerk. Ek is ‘n individualis wat oor jare geleer het om my eie ding op my eie manier te doen. Met so ‘n boek het jy baie hulp nodig: Mense wat proeflees, mense wat die resepte help toets, die stileerder van die kos, die fotograaf, die persoon wat die blad moet uitlê. Deur mekaar te help, kom ons soveel verder. My boek lyk 100% anders as wat ek dit alleen sou doen.  Dít sou ‘n fiasko gewees het. Twee koppe is beter as een, ook met die bemarking daarvan. Danksy baie maatjies is al die dinge wat ek hierbo genoem het, nou reg! 🙂

Ek het gesien dat dit baie harder werk is as wat ‘n mens dink, en ek vermoed dat ek nog vir maande kan aanhou en oor en oor lees, en elke keer dalk nóg iets sal wil verander.

Dis ‘n groot verantwoordelikheid. Die resepte moet reg wees. Ander mense gaan geld spandeer om die bestanddele te koop en dan wil hulle ‘n suksesvolle dis op die tafel neersit.

Dit was (is steeds) ‘n wonderlike reis. Ek is dankbaar dat God my die geleentheid gegun het om dit te kon doen. Nou is die boek in die bladuitlêer se hande. Ek is SO opgewonde!

Groete

Toortsie

Toortsie se Banting Boerekos Faceboekblad.

Toortsie se faceboekblad

21 thoughts on “As ek ooit weer ‘n resepteboek uitgee, wat sal ek anders doen?

        1. 🙂 Julle kan my maar glo! 🙂 As dit ‘n RERIGE Toortsie boek is sou julle julle oë nie kon glo nie.
          Ek vertel nou die dag vir my skoondogter, iemand het ‘n resep gevra. Nou beduie ek op my manier hoe die resep werk, ‘n bietjie van dit, ‘n blerts van dat, dan demonstreer ek hoe dit werk. 🙂 My skoondogter sê, “ek weet presies hoe ma maak”. Skryf dit neer, vra ek haar. 🙂 Ander storie, hoor!

          Liked by 1 person

  1. Baue geluk sover. Ek het op jou Facebook bladsy gaan loer na die kosfotos en dis uitstekend. Moenie te skeg voel oor jou taalgebruik nie. Ek druip amper elke oggend my “Beter Afrikaans”-toets, haha. Dis ‘m npeilike taal!

    Like

      1. Ek het tog die neiging om te dink dat as die boodskap van dit wat jy sê, duidelik deurkom, presies soos wat jy voel, dit nie regtig verkeerd kan wees nie. Vir ‘n resepteboek – wat eintlik ‘n handleiding is – is dit natuurlik ‘n ander storie.

        Like

        1. My boek het 2 dele. Voor is die resepte en dan volg my Bantingstorie. Hoe het ek begin, wat het ek beleef. Toe ek begin het was daar net Tim se boek, niemand om raad te vra nie. Deesdae is daar baie Banters en daagliks raak ons meer. Elkeen van hulle vra presies dieselfde vrae wat ek ook gevra het. Dalk kan ek iemand help.
          My taalgebruik is darem nie só swak nie, maar daar wás foutjies wat reggestel moes word.

          Liked by 1 person

          1. Wel dan sal jou boek baie goed ontvang word, want ek hoor baie mense deesdae praat van banting en sien selfs restaurante beskryf hulleself as banting-vriendelik. Voorspoed met die bekendstelling!

            Like

  2. En dit is wonderlik om te weet ek ken nou ook ‘n outeur! Ek dink dit is een van die mooiste eienskappe as jy self weet jy kan by ander leer, en bereid is om na raad te luister. Só opgewonde saam met jou!

    Like

Gesels saam, asseblief!