My ouma se briewe

Die blogmaats was so nuuskierig toe ek, niksbedoelend, ‘n foto geplaas het van my ouma se briewekassie. Wat is daarin? Wat staan in die briewe?

20151111_075436[1]Sy het die pragtigste, fynste ou kaartjies in die kissie. Verjaarsdagkaartjies. Nuwejaarskaartjies.

Ek is nie altyd seker of dit háár briewe is, en dalk eerder briewe wat aan haar ma, my oumagrootjie, dus, geskryf is nie. Baie briewe is in Hollands geskryf, op die fynste papier, met ‘n vulpen.

20151111_080319[1]Hier is ook koerantberiggies, die een met die dood van my oupagrootjie, en die ander met die dood van ‘n jongman. Sies tog, om ‘n kind te begrawe wens ek niemand toe nie.

Dis meestal geselsbriefies. Een dierbare briefie van my jonge ouma aan háár ouma. Sy moes toe nog baie jonk gewees het, geskryf op 10 Januarie 1901. Hoe oud kon sy toe wees? 10 jaar?

20151111_081335[1]Wat vir my vreeslik oulik is, is hulle poging op papier te spaar. Sodra die bladsy vol geskryf was, is dit eenvoudig dwars gedraai en is daar verder geskryf. Tog te netjies, nie so ‘n gekrap soos wat ek deesdae doen nie! Wat daarin staan? Geen idee! 🙂

Party briewe is duidelik oor en oor gelees, hulle val behoorlik uit mekaar.

Dit was die tye voor telefone, toe daar nog briewe geskryf was en mense mekaar baie min gesien het. Tog dink ek ook nie daar was weekliks geskryf nie. Sjoe! Sou ons jongmense wat elke 4 sekondes moet weet waar die ander een is, dit kon oorleef?

Die kommunikasie het gebeur in Hollands, of Engels.
20151111_082415[1]Hierdie briefie het my laat glimlag. Dis ‘n briefie van my oumagrootjie se seun aan haar, in Engels geskryf, waarmee hy nie heeltemal gemaklik is nie. Hoekom hy nie eerder in Hollands skryf nie, weet ek nie. Hy vertel haar van ‘n gesondheidsprobleempie wat hy het. Sy briewe lyk soos myne lyk, hier en daar doodgekrap, ens. 🙂

Weet julle waaraan dink ek nou? Dis meestal my oumagrootjie se briewe. Hier is name in van mense, wie se name in nasate herhaal sal wees, mense wat ek glad nie ken nie. Vir al wat jy weet, lees ander van haar nasate vandag hierdie blog, en dan weet ons nie eers ons is familie nie!

Wel Xena, ek hou nou op grawe, en is jammer om te moet sê dat ek nou nog nie op die skat afgekom het nie. Jammer vir hulle wat liefdesbriewe verwag het, dalk het my ouma dit uit respek uitgehaal! Dis meestal briewe uit die laat 1800’s en vroeë 1900’s. Dalk moes ek verder soek!

Hierdie briewekassie is oorgedra van geslag na geslag, my oumagrootjie, my ouma, my ma, nou ek.

Mooi dag!

Toortsie

Toortsie se Faceboekblad.

23 thoughts on “My ouma se briewe

    1. My ma sê daar is ‘n verlangse verwantskap tussen ons en my skoondogter.
      Een van die briefies is waar my oumagrootjie se broer die familie in kennis stel dat hy met ‘n sekere dame gaan trou, wat ek vermoed, my skoondogter se verlangse familie is!

      Like

  1. Die mense van toe het ‘n kuns gemaak van briefskryf. My moeder het al die jare nog ‘n brief gehou wat haar een broer aan sy moeder geskryf het na ‘n ander broer se afsterwe. Dis in die laat twintigerjare geskryf, in Afrikaans met so ‘n klankie van Hollands daarin. Die rou hartseer en die troos wat hy gesoek by sy ouer het so duidelik geblyk. Nou weet niemand skielik wat van die brief geword het nie. Ai!

    Liked by 1 person

    1. Ai tog, so iets raak so maklik verlore. Ek soek weer my oom se speelgoed. Hy het verdrink toe hy 20 was. In die onderste laai in ons spaarkamer was sy speelgoed: Dominoes, bordspeletjies. Ek wou altyd graag daarmee speel, maar nee, dis oom Daantjie s’n. Dit het seker ook maar verlore geraak toe my ouers dorp toe getrek het. Daardie kas staan nou in my huis en die speelgoed is nie daarin nie.

      Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!