Ek glo

Een van die verrykendste ervarings wat ek hier is blogland kry, is die verskeidenheid van mense, sieninge, geloof, wat nog alles. Oor elke ding onder die son is daar soveel verskillende sieninge en wat ek veral waardeer is dat ons die voorreg het om dit hier te kan deel.

Wat geloof aanbetref loop ek ook ‘n groot verskeidenheid raak. Ons glo nie almal dieselfde nie. Party van ons glo dat God bestaan, ander nie. Sommige glo in lewe na die dood, ander nie. Party glo in reïnkarnasie. Party glo in een God, ander glo in baie gode. Ek dink, vir mense wat gereeld hier lees, is dit duidelik wat ek glo, maar ek wil dit graag weer verwoord, nie om enige debat hieromtrent te ontlok nie. Ek kan niemand oortuig van my geloof nie, net die Heilige Gees kan. Ek wil dit baie duidelik stel dat ek, indien jy anders sou glo, dit respekteer.

Ek is dankbaar dat ek met sekerheid kan sê dat Jesus Christus waarlik leef, dat Hy, as God, mens geword het, en op die aarde kom woon het vir ongeveer 33 jaar, gekruisig is en weer opgestaan het uit die dood en opgevaar het hemel toe. Ek is dankbaar dat daar in daardie tyd baie mense was wat dit gesien het, mense wat dit beleef het, mense wat dit geglo het, mense wat bereid was om eerder te sterf as om die waarheid te verdraai en ‘n ander storie te vertel.

Waaroor ek geweldig dankbaar is, is dat ek dit nie hoef te glo op grond van gissings of teorieë van mense nie, maar suiwer op die Woord vna God, wat oor duisende jare vas staan. Ek is nie seker hoeveel keer daar in die Ou Testament voorspel word na die Messias wat sou kom nie, en Jesus Christus is die enigste persoon ooit wat aan AL daardie voorspellings voldoen.

Ek glo in die Ewige Lewe na die dood.

Ek glo dit ook op grond van my verhouding met Hom, wat ‘n werklikheid is. Ek beleef God op soveel maniere waarby mensehande nie betrokke is nie, byvoorbeeld gister in die kerk is daar ‘koringkorreltjies’ uitgedeel. Daar was meer mense as koringkorreltjies, en ons het sommer die ander vriende in ons kerkbank s’n geleen. As daar een iets is waaraan ek die laaste tyd regtig ‘n behoefte het, is dit aan beskerming. Wat staan op die een kant van die kaartjie? “Die Here beskerm hulle wat Hom dien.” Hello! Daar is baie kaartjies uitgedeel daardie dag, almal met verskillende tekste op, maar ek kry presies die een wat ek nodig het!

My opdrag van God is nie om mense te probeer oortuig nie, maar om te getuig. Dis ‘n wonderlike God wat ek dien! ‘n God van Liefde en Genade en Trou en Beskerming, Een na wie ek kan gaan selfs al het ekself soveel droog gemaak en dit dan glad nie verdien nie. Hy is altyd daar vir my!

Toortsie

Toortsie se Faceboekblad

4 thoughts on “Ek glo

  1. Wat vir my wondelik is, is dat dit nie ‘n lering is nie, maar ‘n lewende verhouding met ‘n lewende God. Hy openbaar Homself op soveel maniere aan diè wat in Hom glo.

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!