Toeka Tokkel oor Kinderstories

In opdrag van Scrapydo. Sy sê die opdrag is glo spesiaal vir my. 🙂

Ek is lief vir kinderstories. Ek het grootgeword met Rooikappie, die drie beertjies, Hansie en Grietjie, Aspoestertjie, al daardie Europese stories. ‘n Hele paar jaar terug was daar ‘n hele polemiek oor kinderstories, veral hierdie wat ek nou opgenoem het. Dis blykbaar wreed. Die wolf vreet die ouma op en die bere wil vir Goue Lokkies iets aandoen. Ek was natuurlik heeltemal te dom om dit te besef! Wat wel baie waar is, is dat daar lewenslesse verskuil lê in hierdie stories. Ek sal nou nog vir my dogter sê, “Pas op vir die wolf” dan weet sy presies wat ek bedoel. Toe ons in Europa was het ek ‘n intense behoefte gehad om in ‘n woud te gaan stap. Vir wie sou ek daar wou raakloop? Sneeuwitjie, dalk?

Kinderstories op TV of in ‘n fliek is vir my nét so lekker. Ek het met graagte saam met my kinders ‘n Walt Disney, gerig op kinders, gaan kyk. Ek is steeds mal oor Peter Pan, Madagascar, ag noem maar op. Of Mary Poppins, My fair lady en Sound of music as kinderstories tel, weet ek nie, maar ek en my kinders het dit maklik jaarliks uitgeneem om dit weer te kyk. Dan was daar die TV reekse oor Heidi en Pinoccio. Ek het die volledige reekse op video opgeneem en dis oor en oor en oor gekyk tot die video’s later gebreek het.

Watter kinderstorie is dit waaroor die vervaardigers glad nie gaande was nie?  Om alles te vererger, het die regisseur boonop gevra dat daar vir die weeshuis se kinders komplimentêre kaartjies gegee moes word en hierdie kinders moes verspreid oor die hele teater tussen die stywenek volwassenes geplaas word. Die kinders se gegiggel maak toe dat die volwassenes ook die vreugde en humor begin raaksien het. Ek dink dit was Annie. Anders as wat die vervaardigers voorspel het, was dit ‘n weghol sukses.

Ek was standerd 6 toe ons skool in die Hel gaan stap het. Een dag was my een been effens lam en ek moes mooi loop met hom. Om my aandag daarvan af te kry, vertel ek en my vriendin toe vir mekaar kinderstories. Die ander kinders het natuurlik gedink ons us heeltemal laf, tieners vertel nie kinderstories nie. Daardie dag het die stories my oor ‘n baie moeilike terrein gesleep!

Ek het graag kleintyd vir my kinders húlle storie vertel, waaroor hulle natuurlik mal was. Blykbaar is dit ekstra moeilik om kinderstories te skryf. Dis ‘n spesiale vaardigheid waaroor jy moet beskik. Ek het al ‘kinderstorietjies’ op my blog geskryf, maar ek vermoed dat dit nie heeltemal vir kinders bedoel is nie, dat kinders nie daarmee sal kan assosieer nie. Hulle was Senamé, Coroli en Wameel? Daar was ook ‘n trolstorie en sy opvolg,  maar dis meer vir grootmense.

Onthou om baie stories vir jou kinders te lees!

Toortsie

18 thoughts on “Toeka Tokkel oor Kinderstories

  1. Dankie! So bly dat dit nie net ek is wat hou van kinderstories nie. Lekker om dit oor en oor te kyk. Ek onthou al die ‘ou’ stories. En ja, die lewenslesse daar uit geleer, het indruk gemaak. Ek glo ook dat ons meer humoristies moet word. (Iets wat nogals moeilik vir my kom – ek is baie ernstig) Daarin is gesondheid vir die beendere voorwaar …
    Oulik geskryf.

    Like

    1. Dankie. ek dink dis die fantasie daarin wat my trek. Ons praat nou die dag oor Scifi flieks. My dogter se kêrel kon nie glo dat ek soms daarvan hou nie, toe antwoord sy, dis die fantasie daarin. Ek is bv mal oor Pirates of Caribbean. Dit het GEEN storie nie, dis so nonsens soos kan kom, maar weer eens, die fantasie daarin trek my.

      Liked by 1 person

  2. Kinderstories is darem maar so lekker om te vertel en as die kleintjies nog saam help met storie is dit nog lekkerder. My seun se kleintyd was Storieman bande en boekies die in ding. Hy kon bv dieselfde storie oor en oor weer luster. Veral as die kinders nie lekker voel nie kalmeer dit hulle omna stories te luister. Ek het self nog sprokies boeke wat ek vir my verjaarsdag gekry het 1957!

    Liked by 1 person

  3. Kan jy glo: Stories waarmee ons groot geword het – is nou van die duiwel! Kos waarop on groot geword jet – gee nou kanker! Musiek waarna ons geluister het – het verander na ‘n oor gebruikte N1 tussen Johannesburg en Kaapstad en ‘n ge “baby baby”!

    Like

  4. As kind het ek beslis Rooikappiie ens baie grim gevind. Donker. Maar dit het my nie verhinder om dit vir my kinders te vertel nie. Sound of music, My fair lady, Mary Poppins kan gn kind skaad nie. Voorverlede somer het ek en Ousus feitlik die hele kerstyd aan Heidi en Pinoccio gewy. Sy het die dvd’s by “Vat ‘n klomp”gekoop en ons het dit gate uit geniet totdat die ander gesinslede bygekom het.

    Liked by 1 person

          1. Waar en wanneer ons ‘n kansie gekry het, het ons verder gekyk, as hulle van hulle uitstappies tuisgekom het, het hulle saamgekyk. (En aanmerkings gemaak, maar nie opgestaan en weggestap nie.)

            Like

  5. Ek geniet ook die kinderstories en flieks so. Toe ons kinders kleiner was het hulle sekere flieks oor en oor gekyk. Ons is almal ewe lief vir Lion King en gaan die “musical” kyk vroeg volgende jaar. Ek het nog Heidi videos, ek wil hulle eendag vir my kleinkinders wys. Dis baie beter as sommige van die goed wat deesdae op TV is.

    Like

Gesels saam, asseblief!