As jy ‘n boek wil publiseer

As jy ‘n boek wil publiseer en nie dit normaalweg as ‘n lewe doen nie, besef jy nie waarvoor jy jou inlaat nie! Hierdie storie van my wat ‘n boek wil publiseer, laat my baie aan Abraham van ouds dink. Hy het daar waar Bagdad omtrent vandag is, gewoon, het niemand gepla nie, tot God vir hom die opdrag gee om te trek. Abraham het nie geweet waarheen nie, wat hy gaan maak nie, hoe sy lewe gaan uitdraai nie, hy was net gehoorsaam en het getrek.

Ek voel ook soos Abraham. Ek het net die besef gekry dat ek hierdie boek moet publiseer, ek het ook nie geweet wat gaan word, watter paaie ek orals sal stap om dit te verwesenlik nie. Ek het maar gedink aan ‘n boekie soos wat die skole of die VLV graag uitgee vir fondsinsameling, eintlik sommer net ‘n E-boek waarvan amper net ek weet. Maar dis nie hoe dit uitgewerk het nie. Daar is mense op my pad gesit wat die pad aangedui het, mense wat baie meer as ek weet, mense wat hier gekeer het, daar raad gegee het.

Soms het die angs my oorval, waarmee is ek besig? Tog, elke keer wat iemand ‘n bietjie raad in my oor gefluister het en ek dit toegepas het, het my boek ontwikkel, het ek ontwikkel, het ek moed gekry. As ek ‘n fliek kyk oor ‘n uitstekende kok, wil my moed net in my skoene sak, maar elke keer is daar iemand wat help, iemand wat raad gee.

My boek vorder mooi. Die resepte is klaar, my storie is klaar geskryf.

Wat ek nie geweet het nie, net gehoor het van, is, as jy ‘n boek skryf, beteken dit jy skryf dit, jy skryf dit oor, en nog ‘n keer, en nog ‘n keer. Dit beteken ook jy lees dit en lees dit en lees dit, tot jy dit amper uit jou kop uit ken. Jy vra ook vriende om dit te lees, want elke paar oë wat oor die woorde gaan, sien nog iets raak.

Dis ‘n wonderlike reis! Ek is besig om versigtig opgewonde te raak! Aan die einde van die tonnel brand ‘n lig. 🙂

Toortsie

Toortsie se Banting Boerekos facebookblad. 

Toortsie se faceboekblad.

14 thoughts on “As jy ‘n boek wil publiseer

Gesels saam, asseblief!