Hoe gemaak as jy nie professionele hulp vir jou kinders kan bekostig nie?

Hoe maak ouers wat dit nie breed het nie en hulle kinders toon ‘n belangstelling, of selfs talent in ‘n sekere rigting? Ek weet ook nie, en ek kan seker ook nie eintlik raad gee nie, behalwe uit eie ondervinding.

Toe my kinders klein was het ons regtig finasieel uiters swaar gekry. Ek moes kies: Óf ek stuur my kinders speelskool toe, óf ek koop goeie, opvoedkundige speelgoed en stimuleer my kinders self. Daar was egter nie geld vir beide nie.  Ek het die speelgoed gekies en besluit om dit self te doen. Elke middag van 5 nm af was dit mammatyd. Dan het ek my volle aandag aan my kinders gegee, die telefoon kon maar lui, ek het dit nie beantwoord nie. Dan het ons gespeel, gaan stap, net wat ons wou, vir minstens ‘n uur, maar dit het soms na ‘n uur en ‘n half gegaan. Saans 8 nm as die nuus se klingel gespeel is, is ons bed toe. Dán was dit storietyd, ook baie keer tot ‘n uur, en slaaptyd.

Pappas, mammas, dis baie duur om kinders groot te maak, ons almal weet dit, maar die goeie nuus is dat ‘n mens ook baie van die dinge wat jy vir jou kinders wil doen, self kan doen. Kinders het die geneigdheid om talente en belangstellings te hê in dieselfde goed waarin jy talentvol en belangstellings het. Dit lê in hulle gene, en soos my buurman sê, gene lieg nie! Stel jou kind in rugby belang en jy het self rugby gespeel? Spandeer tyd saam met hom op julle eie grasperk, of as jy nie ‘n grasperk het nie, dalk na-ure op die skool se rugbybaan, of selfs die dorp se parkie as daar so iets is en dis veilig.

Daar is geheimpies wat jy jou kind kan leer rondom julle belangstelling wat die onderwyser dalk nie die kinders leer nie, geheimpies wat jou kind ‘n voorsprong gee bo die ander.

‘n Mens hoef nie ‘n gekwalifiseerde persoon te wees om ‘n verskil in jou kind se lewe te maak nie, veral nie kleintyd nie. Ek, wie self nie regtig blofkfluit kan speel nie, maar wel ‘n musiektalent het, kon my kleine dogtertjie leer blokfluit speel tot op ‘n punt waar sy iemand met baie meer kennis as ek nodig gehad het. Dit het haar roeping geword. Ek kon haar help tot op ‘n punt, en daardeur het ek baie, baie geld gespaar.

Lees hoe het ek my kinders kleintyd met wiskunde gehelp, en daardeur gesorg dat hulle altyd geglo het hulle is goed in wiskunde. Jy kan dit ook doen, en nog baie meer! Kan jy nie internet by die huis bekostig nie en jou kinders moet skooltake doen? Leer hulle weer die waarde van die biblioteek, wat gratis is.

Ons as ouers kan baie meer doen as wat ons dink en daardeur baie geld spaar. Dis in ons hande om ons kinders op ‘n beter paadjie te sit, ons moet net die geleenthede en vaardighede in onsself soek en ontwikkel. Dis ‘n manier van eienaarskap neem: Ek kan dalk nie die beste, professionele, hulp vir my kinders betaal nie, maar dit gaan nie keer dat ek die beste ten opsigte van hulle ontwikkeling, dit wat enigsins vir my moontlik is,  vir hulle sal doen nie.

Sterkte met die ouerskap!

Groete

Toortsie

Toortsie se faceboekblad

Toortsie se Banting Boerekos faceboekblad

Advertisements

About Toortsie

'n Flitsliggie wat oral inskyn, ook waar dit soms ongemaklik is... A Toortsie is a small flashlight, like a torch.
This entry was posted in Opheffingswerk; Opvoeding, Ouerskap en ouerleiding and tagged , , , . Bookmark the permalink.

14 Responses to Hoe gemaak as jy nie professionele hulp vir jou kinders kan bekostig nie?

  1. Kameel sê:

    As ek na my eie kinders as ouers kyk sien ek nie waar hulle tyd gaan kry nie. Dit gaan dol hier in die stad waar albei ouers werk en eers seweuur die aand by huis kom. Dan word daar eers kos gemaak….. en, en.

    Like

  2. Die hele dinamika het verander sedert ons mammas was en aan die eenkant is dit hartseer.Kinders se opvoeding word meestal in ander se hande gelaat en mens hoop maar vir die beste.Die bietjie tyd wat hulle het kan wel so mooi gebruik word soos jy hierbo vertel.Ek dink dat dit selfdissipline verg,maar eindelik pluk mens die vrugte.

    Liked by 1 person

    • Toortsie sê:

      Beslis baie selfdissipline, tog moontlik.
      Ek besef daar is meer mammas wat werk, as wat by die huis bly. En dan, as hulle werk, is hulle saans moeg as hulle by die huis kom. Ek verstaan dit. Tog is daar ook baie tuisblymammas, wie dalk tog in hulle kinders kan investeer. Ek het gevoel dat ek baie arm mag wees , maar tog nie armsalig nie. Vandag pluk ek, en die kinders die vrugte daarvan, iets waaroor ek uiters dankbaar is. Ook dit is net genade.

      Liked by 2 people

      • Ek was ook ‘n tuisblyma en nooit spyt daaroor nie.Ek kon nou nie ‘n loopbaan ontwikkel nie,maar my opoffering het my met pragtige kinders gelaat op wie ek baie trots is.Dis netsoos jy sê,mens hoef nie ryk te wees en geld te betaal vir al die ekstra klasse nie.Mens kan met die minimum jou kinders stimuleer en help.Goeie inskrywing wat deur jong mammas gelees behoort te word!

        Liked by 1 person

  3. Welgedaan! Alles word nou kits gedoen en voor betaal!

    Like

  4. Dis so waar, en saam met die finansiële aspekte van ouers se betrokkenheid (of gebrek daaraan) by hulle kinders is daar ook die emosionele aspekte. So baie kinders word deesdae eerder meer “goed” gegee as wat die ouers tyd met hulle spandeer, en dis die tyd wat die kosbaarste is. Ek is seker jou kinders het baie goeie herinneringe van die spesiale tye wat jy so met hulle spandeer het.

    Liked by 1 person

  5. Manewales sê:

    Ek dink ons vergeet maklik dat ons tyd en aandag dikwels meer werd is vir ons as die goed wat ons met geld vir hulle kan koop. Ons leef eintlik in so ‘n moeilike tyd. Een wat vir ons probeer wysmaak dat net die beste afrigting ens goed genoeg is. Dit terwyl al meer navorsing wys dat ouer betrokkenheid op die ou end die grootste invloed op ‘n kind se sukses het.

    Like

  6. Ek is ook een wat glo aan ‘n tuisblyma. Dis die ideale resep. Daar is weer tye wat mens kan gaan werk, maar vernaam laerskool dae tydens kind vorming, is die liefde en koestering die belangrikste. Maar ja, (sug) vandag is dit ander tye … geld speel die belangrikste rol.

    Liked by 1 person

    • Toortsie sê:

      Toe ek ongeveer 35 jaar oud was, was ek gefrustreerd omdat ek net kinders grootmaak. Wat kan ek wys van my studies? ‘n Ou predikantevriend van my ouers gesels toe met my, ek kan nie meer onthou wat hy gesê het nie, maar dit het daarop neergekom dat ek miskien gefrustreerd voel omdat ek my loopbaan as werkende moeder gemis het. Die vreugde en satisfaksie wat ek wel op die ou end gekry het deur ‘n tuisbly ma te wees,kan niemand van my wegneem nie. Ek het wel by die huis goed gedoen om ‘n inkomste te verdien.

      Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s