Blogontploffing

Sedert verlede Dinsdag ervaar ek ‘n blogontploffing. Ewe skielik is daar net soveel meer lesers, iets waaroor ek natuurlik regtig nie kla nie.

Die ding het my baie laat wonder. Dis nie dat ek uitskieter goed geskryf het nie. Die gewone bloglesers het, voel dit my, maar dieselfde gebly. Wat egter vreemd was, was dit daar meestal van die ouer bloginskrywings die aandag getrek het. Sedert verlede week is die bloginskrywing, “Kersfees“, onder my eie top ses gelese bloginskrywings. Dit was geskryf op 5 November 2010.  “Kinderraaisels“, geskryf in September 2012, het ook baie aandag getrek.  Toevallig het ek die afgelope week die reeks oor water gepos, wat almal ou inskrywings was, omdat Scrapydo se Toeka Tokkel bloguitdaging hierdie week oor water gegaan het. “Watter werk kan mens van die huis af doen“, is ook ‘n ou bloginskrywing wat mos maar altyd onder die top 5 van my bloginskrywings lê, hy kry gemiddeld 15 besoeke per dag. Dit sal nie skielik die syfers laat anders lyk nie. Mense soek werk, mense is in nood, en om een of ander rede trek hierdie inskrywing deurgaans mense. Ai, ek hoop hulle kom reg.

Wat vir my verstom het, is “Verklaring oor my taal“, geskryf 3 Januarie 2011. Kyk net hierdie getalle: 18 Oktober het dit 79 sigte gehad, 19 Okt, 99;   20 Okt, 80;   21 Okt, 77;   22 Okt, 51;   23 Okt, 36;    24 Okt, 22;    25 Okt, 55;    vandag alreeds 5; dus ‘n totaal van 504 keer gelees. Die blog se tuisblad het hom elke keer net-net gewen, en dit was ver meer as enige ander van my bloginskrywings, daagliks. Vir julle is dit dalk lae syfers, vir my is dit totaal meer as waaraan ek gewoond is.

Wat sal die rede daarvoor wees? Was daar dalk iewers in die land ‘n groot konferensie oor Afrikaans? Is daar landwyd in die skole oor Afrikaans gepraat? Dalk in die Parlement? Ek het niks agtergekom op die radio nie?

Ek het ‘n bietjie gaan loer watter woorde die mense vir oom Google gaan vra het. Kyk bietjie: “Afrikaans is my taal”; “Hoekom is ek lief vir Afrikaans”; “Afrikaans my taal my trots”; “Ek hou van Afrikaans”; “My taal Afrikaans”; “Afrikaans my taal”; “Ek is lief vir Afrikaans”; “Hoekom hou ek van Afrikaans praat”; selfs “5 tale van liefde”; “Ek lief my taal afrikaans”, maar kyk hier. Ek dink HIER lê my antwoord: “Mondeling onderwerpe”; “SKOOLTAKE MONDELING AFRIKAANS MY TAAL”; “Afrikaanse mondeling onderwerpe”. Sal dit ‘n landswye ding wees dat die kinders hierdie week oor hulle liefde vir Afrikaans moet praat? As daar nog van die mammas is wat navorsing doen vir hierdie onderwerp, sal julle asb vir my vertel waaroor dit gaan? Ek sal baie daarvan hou. Skryf sommer net jou kommentaar hieronder aan. As dit wel vir mondeling is, hoop ek julle kom reg!

Daar het jy dit!

So ‘n nagedagte. Ek het na die statistiek van “Verklaring oor my taal” gaan kyk. Hy trek elke jaar in Oktober en November verskriklik baie mense. 623 lesers in Okt 2014 en 727 alreeds in Okt 2015. Interessant.

Groete

Toortsie

Toortsie se Facebookblad.

Toortsie se Banting Boerekos Resepteboek op Faceboek.

 

27 thoughts on “Blogontploffing

    1. Ek dink al hoe meer dat jy reg is, Vega. Dalk waarsku die onderwyseresse die kinders dat daar dalk ‘n opstel oor Afrikaans, en my liefde daarvoor kan wees in die matriek eindeksamen? Ek sien die statistieke is jaarliks baie hoog in Oktober en November by hierdie bloginskrywing.

      Like

  1. Baie geluk met leesgetalle.. sien by my was net iemand wat nogal gereeld Aandgesang lees en iemand wat oor skelmrook iets te lese gesoek het, jinne. My leesgetalle gaan maar altyd deur droogte, destyds oor Kinderaanneming het myne laas ten hemele opgeskiet.En as ek ‘n waarskuwing in my opskrif oor gekruide taal vir sensitiewe lesers , plaas, word daar gelees..siestog en dan is my vloek nou nie eens noemenswaardig erg nie.

    Like

  2. Mmm – soms wens ek oom Google wil eerder van my briewe weggooi. Daar was ‘n tyd dat ek ernstig met godsdienstige agnostikuste en ateiste gestry het … eintlik was dit tydmors, en nou hang die goed orals rond …
    Maar ja. Afrikaans is tops! en ons sal aanhou skryf …

    Like

  3. Ek vind ook altyd die statistieke vreeslik interessant en dikwels verbysterend. In 2012 het ek ‘n artikel vir ‘n tydskrif geskryf. Hulle het gevoel hul lesers het al meer as genoeg oor die tema gelees en wou dit nie plaas nie. Ek laai dit toe maar op my webjoernaal. Die ding is immers mos geskryf. En daar word dit die top inskrywing. Nou nog is dit elke dag die nommer 1 inskrywing wat gelees word. Dis al 12457 gelees – om presies te wees. Dit maak 15% van verkeer op my blad uit. As die ander 216 inskrywings maar so goed kon doen!!! 😀 En dit oor ‘n tema wat eintlik glad nie inpas by die res nie! As ek slim was het ek seker meer in daai lyn geskryf 😉

    Liked by 1 person

  4. Jy moenie te hard praat nie Toortsie, as jy eers wereldberoemd raak as blogger kom klop die onderwysdepartement by jou aan vir kommissie – hulle soek juis nou n paar biljoen vir goedkoper universiteite 😉

    Like

Gesels saam, asseblief!