Skaalverslawing

Ek is baie lief vir die skaal. Ons het eintlik ‘n verhouding.

Die slim mense sê ‘n mens moet eintlik nie weeg nie. As jy dan móét weeg, slegs een maal per week, altyd dieselfde tyd van die dag. Ag, hulle het baie redenasies daaromtrent.

Ek weeg elke dag. Eintlik praat ek nie nou die waarheid nie. Elke dag, soggens én saans. Hoekom? Nee, ek weet regtig nie!

‘n Paar weke gelede het ek besluit om myself van my skaalverslawing te genees. Ek was erg streng met myself. Aanvanklik mag ek vir ‘n hele week slegs soggens geweeg het. As ek saans badtyd skaal toe mik, sê die stem in my kop kwaai: Nee! Ek kry dit nogals mooi reg. Toe verleng ek die tyd na Maandag, Woensdag, Vrydag. Dit verg erge selfbeheersing, maar ek kry dit reg. Toe ek van die Vrydag tot die Maandag moet wag, en dit regkry, besluit ek dat ek nou elke keer 3 dae kan wag.

Ek het nie verder gekom nie.

My gewig skommel altyd so met ‘n kilo of twee, en toe ek ‘n paar keer na mekaar die hoër massa sien, raak ek angstig. Is ek nou besig om gewig op te tel? En dít terwyl ek besig is om ‘n boek uit te bring oor Banting? Dit mág nie gebeur nie!

Net daar begin ek weer met ernstiger maatreëls wat my etery aanbetref, en, ja, ek weeg weer op my ou manier. Soggens en saans. So sal ek seker maar doodgaan eendag.

Van die effense optellery gepraat. Ek was regtig nou vir ‘n hele ruk in ‘n toestand, want dit het vir my gevoel of ek nie meer die laagste punt sedert ek begin het met Banting, bereik nie. Is die doemprofete se voorspellings waar? Wát doen ek verkeerd? Wat doen ek anders?

‘n Vriendin noem dat dit in die somer weer beter gaan as ons meer slaaie eet. Ja, maar ek eet steeds elke ete my groente. Dalk nie soveel slaai nie, maar ek eet wel groente. Intussen het ek selfs begin luister na diegene wat voel ons mag glad nie van die oranje lys se kosse eet nie. Ek het as “snack” redelik dubbelroomjoghurt geëet, dalk is dit dit? Hulle waarsku juis teen te veel suiwel vir dames? Ek het myself gevang dat ek weer meer tussenin eet.

Die verandering wat ek toe gemaak het, is dat ek nou glad nie alkohol gebruik nie, ek het ook die Coke Lite gelos. Ek het vir eers die joghurt gelos, die oranje lys is weer deel van my eetprogram en ek eet nou weer soms ‘n vrug, ek probeer om die tussenin etery te minimaliseer. Ek hou sommer ‘n groot beker water en glas byderhand waar ek sit en werk. Dit werk! Ek is so dankbaar!

Groete

Toortsie

Toortsie se faceboekblad.

Toortsie se Bantingboerekosboek faceboekblad

voorblad 001

Toortsie’s Banting Bash, the English version with nice and easy homefood recipes coming soon! It will be available in July 2016! Like the facebookpage for more information.

Toortsie's Banting Bash Nr 1

21 thoughts on “Skaalverslawing

  1. Ek weeg ook soggens en saans – dit hou my gefokus. Ek gee nie om wat sê die mense nie. Het in die laaste tyd ook weer afgedwaal en wil van vandag af weer fokus.

    Like

  2. Gelukkig is ek nie so gewig gebonde nie. Ek weet wel dat mens in die winter meer gewig optel as in die somer. Het seker maar met die stilsit en winterkos te doen. Dit moet ook maar moeilik wees om so nougeset die diëet na te kom. Ek was n Coke “verslaafde” en het nou al 5 weke sonder coke gegaan. Ek dink nie eers meer om te gaan kyk hoeveel coke kos nie. Het altyd twee bottels v 2.25l gekoop as hul goedkoop is. Dit het my n week gehou dan moes ek weer kry. Ek voel dit is ongesond om so baie coke te drink. Nou koop ek gegeurde “sparkling water” wat ook beter as sodawater is!
    Die Banting diëet voel en eet tog lekker.
    Sterkte met die skaal en gebruik hom maar as dit jou meer gerus stel!

    Liked by 1 person

    1. Ek bodder ook nie te veel met my gewig nie. Ek was op ‘n stadium redelik oorgewig, maar vandat ek afgetree het, het die kilos verdwyn. (Werk is sleg vir jou!). Ek kry nou baie meer oefening en eet minder omdat ek te besig is met ander lekker dinge. Ek is nou nie juis slank nie, maar darem ook nie ongesond oorgewig nie.

      Jy moet onthou, gegeurde water bevat (ongesonde) bygevoegde soetmaakmiddels. Ek maak my eie waterdrankie met ‘n skyfie suurlemoen en kruisementblare. Dis al wat ek ek drink, want koffie/tee/alkohol/koeldrank staan my nie aan nie.

      Like

      1. Ai, ek weet van die byvoegsels in die water ook. Dit het my darem af van die coke. Ek sal as dit somer is hier meer water en suurlemoenskyfies gebruik. Hier is n suurlemoen boom waar ek varses kan pluk! My gewig was nooit te oor nie. Laaste keer toe ek gagaan het vir harttoetse ens. het dr gesê vir my ouderdom en lengte is ek net op die grens om nie oorgewig te wees nie.

        Liked by 1 person

  3. Nie vir sensitiewe lesers nie………………………

    Gatiepie sit in die skool klas en die juffrou sê hy moet verduidelik wat is die verskil tussen “gewig” en “massa”.
    Gatiepie answers: “Daai’s mos maklik djuffrou “.
    My pa sê vir my ma: ” Djy moet gewig verloor, djou vetgat”.
    My ma antwoord: “Djou massa moer”.

    Liked by 2 people

  4. Hoekom weeg getroude vrouens normaalweg meer as ongetroude vrouens?
    ´n Ongetroude vrou kom by die huis, kyk wat is in die yskas en gaan dan bed toe. ´n Getroude vrou kom by die huis, kyk wat is in die bed en gaan soek dan maar vertroosting in die yskas.

    Liked by 1 person

      1. Ek skat so maar ek doen dit ook nie altyd omdat ek so ‘n gesonde verhouding met die skaal het nie. Soms kruip die gewiggies bietjie op maar ek steek my kop in die sand soos ‘n volstruis en vermy die skaal want ek weet ek gaan nie hou van wat dit vir my sê nie. Ander tye is ek weer vol moed om die waarheid vierkantig in die oë te kyk. Die skaal is ‘n snaakse ding vir my – soms hou ek van hom en ander dae vermy ek hom soos die pes!

        Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!