Sus en Daan en die slapery

Toe ekself ‘n ma van klein kindertjies was, het ek verkies dat my kinders in hulle eie bedjie slaap. Op ‘n dubbelbed was daar net nie plek vir ‘n pa wat sy helfte vol lê, een of twee kinders wat elkeen sy volle plek wil gebruik, en nog vir my ook nie. Ek was doodmoeg as dit slaaptyd raak, so ek wou graag darem net my eie lêplekkie hê. Daar was wel ‘n bed by hulle in die kamer en sou dit nodig raak in die nag, sou ek dan by hulle gaan lê.

As ek aan my een ouma dink, is daar baie gedagtes, maar een wat keer op keer terugkom, is dat ek altyd as ons by haar gaan kuier het, by haar op haar dubbelbed geslaap het. Dit was maar ‘n hol bed, en ek kon nie anders nie as om styf agter haar rug te lê nie. Wat ‘n lekker herinnering! 🙂

Aanvanklik, as Sus en Daan kom kuier het, het Sus in die bababedjie geslaap en ek en Daan het in die spaarkamer geslaap, ek met my een oog oop om te verseker dat hy nie aan die ander kant van die bed afval nie. Deesdae speel ons “musical beds”. Ons staan nie noodwendig in die oggend op dieselfde plek op as waar ons gisteraand gaan slaap het nie. 🙂 Sus het nou ook al oupa en ouma se bed agtergekom!  En dis dán wat ek so terugdink aan my ouma, as sy so styf agter my rug lê.

Soggens, as oupa opgestaan het, woel ons drietjies in oupa en ouma se groot bed in. Veral in die winter, het ek probeer om hulle so lank as moontlik nog in die warm bed te hou. Dáár speel ons met ons trekkers en lorries en ons ploeg en plant, ons pak legkaarte en lees boeke.  ‘n Paar dae gelede was daar ‘n program op RSG oor die waarde van ‘n ouma, dat sy stadiger is as die ma, dat sy rustiger is (hopelik), dat sy tyd het om met die kleinkinders te spandeer. Die waarde van lees, sê hulle, is nie net die liefde vir lees wat aangekweek word nie, maar die nabyheid. As jy vir hulle lees, sit hulle in jou arm, hulle voel jou liefde, jou warmte, hulle hoor die nuwe woorde, en nou, op my oudag leer ek eers om sommer net te gesels oor die prentjies, nie noodwendig die storie te lees nie.  Tyd saam, in liefde gespandeer.

Geniet julle kleinkinders!

Groete

Ouma Toorts

Terloops, vir die mammas: Ek het altyd saans 8 uur, as die nuus begin, met die kinders gaan lê en lees. Dan het ons die lig afgesit en hul het gaan slaap sonder moeite. Die res van die aand kon ek en manlief dan alleen spandeer. Mens hét alleentyd nodig in ENIGE huwelik, veral as daar klein kindertjies ook nog in die huis is.

Toortsie se faceboekblad.

13 thoughts on “Sus en Daan en die slapery

  1. Pragtig! Ook goeie raad. Tyd saam is liefde gespandeer. Hierdie Ouma hoop net sy kan begin aftree sodat sy ook onder die groep “rustig” kan begin verval.

    Nou verstaan ek waar jou liefde vir boerdery ook ontstaan het. Dit sommer saam met ouma en oupa in die bed al begin … Lekker!

    Like

  2. My kinders het altyd by ons in die bed kom kruip, so ek verstaan heeltemal van “musical beds”. My oudste dogter het altyd so agter my oorlede ma se rug ingekruip ~ sy praat nog met verlange daaroor.

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!