Toortsie se Toeka Tokkel oor Bestuur

In opdrag van Scrapydo.

Of mans beter voertuigbestuurders is as vroue? Ek weet nie of ek in dáárdie debat betrokke wil raak nie. Ek weet dit in my hart: My man is beslis ‘n baie beter bestuurder as ek, en raai, ek is glad nie ‘n vrot bestuurder nie! Hy is net nog soveel beter.

Ek wil skryf oor die bestuur van ‘n besigheid.

Dit het ek al met my eie oë gesien hoe ‘n besigheid floreer onder goeie bestuur, en dan kry hy skielik ‘n ander bestuurder, en binne ‘n jaar of twee vou die besigheid.  Ek het al gesien hoe ‘n besigheid wat ‘n absolute goudmyn was, wat verskillende takke orals het, waarvan ook van húlle goudmyne was, onder nuwe bestuur só gekwyn het, dat die een tak na die ander toemaak en die besigheid op die ou end insolvent is.  Groot besighede. Ek wens ek kon name noem.

Terselfdertyd het ek ook al gesien hoe ‘n kwynende besigheid onder nuwe bestuur kom, deur goeie bestuur die regte dinge begin doen, sy sokkies begin optrek, goeie besigheidspraktyke begin toepas, en sterbesighede word.  En nee, dit gebeur soveel keer nié met ‘n finansiële inspuiting nie, slegs deur goeie bestuur, weldeurdagte besluite, gevaarlike spronge selfs.

Daar is soveel maak-of-breek situasies wat bepaal word deur die bestuur.

Topbestuur van besighede is soms in ‘n baie moeilike situasie. Dis nie maklik om ‘n bestuurder te moet afdank waar dit regtig nodig is nie. Soms kan dit net nie anders nie. Dis dán wat baie lelike dinge soms gesê word, soos dat geld die mense se baas is, of dat die bestuur niks omgee vir mense nie. Tog, soos dit dan nie lyk nie, is dit juis die teendeel wat waar is. Soms moet harde besluite geneem word om te keer dat selfs méér mense nie seerkry nie, omdat daar gewoonlik baie meer mense deur ‘n besigheid geraak word as wat ‘n mens selfs dink.

Dit verg uiters goeie bestuur om ‘n skip wat dreig om teen ‘n ysberg vas te loop, om te draai. Tog is dit moontlik. Deur goeie bestuur, streng besluite, baie gebed.

My wens is dat ons almal goeie bestuurders sal wees, van ons lewe, ons gesin, die klein dingetjies waarvoor ons verantwoordelik is. Sou ons egter in bestuursposisies in groot besighede wees, is dit ook my wens dat ons dáár goeie bestuurders sal wees.

Groete

Toortsie

Toortsie se faceboekblad

10 thoughts on “Toortsie se Toeka Tokkel oor Bestuur

  1. Goeie bestuur is tog so belangrik vir n maatskappy. Jy het beslis mooi uiteengesit wat goed is en wat nie. Dankie vir jou bestuurs deelname.( Ek het n baie oulike boekie gekoop wat presies së hoe publikasie werk! Het hom gebruik as hulp.)

    Like

  2. Waar wat jy hier sê, bestuur maak of breek, of dit nou ‘n besigheid of jou eie huishouding, of agter ‘n stuurwiel, of jou eie lewe is. Slegte bestuur…. slegte gevolge :(.

    Like

    1. Ja. In boerdery ervaar ons natuurlik dat ons kan bestuur hoe goed ons wil, as die natuur teen ons draai kan dit ons ook breek. Jy kan als na die beste van jou vermoë doen, jy het steeds God se guns ook nodig. Maar dit help BESLIS as jou bestuur goed is – van jou lewe of jou besigheid of jou voertuig, wat ook al. Dis al ver heen gewen. In slegte omgewingsomstandighede vereis dit van ons net nog BETER bestuur. Soms werk dit, soms nie. 🙂

      Like

Gesels saam, asseblief!