Saterdagoggendstappie – Oestyd 2015 is HIER!

Vanoggend, toe ek my manlief vra waar hy vandag werk, het hy gesê hy sny kanola (canola?) op ons werf. So later die oggend besluit ek om te gaan hello sê op die land, dis goed vir die huwelik, jy weet. 🙂

Maar hóé kom ek by hom uit? Hy verduidelik waar hy is, en tot my skande moet ek erken dat ek nou nog nie die verskillende lande se name ken nie! Ek moet verby die vullisgate kom, sê hy. Ek weet presies waar die vullisgate is, ek het mos met ons plaaskinders jare gelede daar gestap, meer as een keer, maar ek kan nie lekker onthou hoe ek daar moet kom nie. Ai.

Eers probeer ek met die kar en beland in ‘n kanola stoppelland, kry die kar te jammer, en besef ek ry in verkeerde rigting. Ry ‘n entjie terug en stap sommer veldlangs, dis immers hoe ek dit jare gelede gedoen het. Ek weet ons het een keer ook met ‘n pad gestap, maar ek kan net nie onthou waar die pad is nie. Pappa het ook gesê ek gaan dalk iewers vasval met die kar.

Wat ‘n heerlike stappie! Dis ‘n lieflike lente-oggend by ons. Al die veld is vrolik, al die voëltjies sing!

Orals stop ek om foto’s met my selfoonkamera te neem, manlief bel later en vra waar ek dan verdwaal het?

Uiteindelik kom ek by die land uit, moet behoorlik beur deur kanolarye wat klaar gesny is, en hoor hier, kanolastoppels is niemand se maat nie! 🙂

Terwyl ek nou foto’s wys, gisteraand terwyl ek gestap het, raak ek en Kameel aan die gesels. Om haar te wys waar ek loop, neem ek toe dié foto’s:

Die foto’s is al baie donker, want die son was reeds onder. Ek moes behoorlik wikkel om betyds by die huis te kom, voor die donker my vang!

Lekker naweek vir julle!

Groete

Toortsie

My landboublogs (met foto’s) word hier gepin.

Toortsie se Faceboekblad.

11 thoughts on “Saterdagoggendstappie – Oestyd 2015 is HIER!

  1. Glimlag ek nou vir jou wat hier afneem, en daar afneem….. en manlief wonder waar is jy. Mens kan mos nie verby al die mooi stap en nie stilstaan en dit geniet nie!!!

    Like

Gesels saam, asseblief!