‘n Plek van herinneringe

Scrapydo se toeka-tokkel: Herinneringe/Kuier

Daar was ‘n huis, met ‘n groot erf vol koeltebome in Randburg, wat vir 53 jaar ‘n groot rol in ons lewens gespeel het.  Ek het op sestienjarige ouderdom saam met my ouers, grootouers, my ousus en broer daar gaan bly.  Min het ek toe geweet hoeveel dinge hom op daardie erf, en tussen daardie mure sou afspeel.

Dit is hierheen waar ek Deslyn geneem het die dag toe sy as vreemdeling by my ingehaak, en my haar vriendin gemaak het.  In my kamer het ons gesels, musiek gespeel, leer “jive,” en drome gedroom.

My ousus is uit die huis getroud, en my swaer het sy intrek by ons geneem.  ‘n Jaar later is hulle dogtertjie gebore, en daar is ‘n band tussen my en die nuwe mensie gesmee wat vandag nog standhou.  Sy sou wel later jare sê dat ek haar ma moes gewees het omdat ons mekaar so goed verstaan.

Die huis het my eerste kêrel op sy rooi motorfiets, en noupyp broek op die erf “verwelkom.”  Die verwelkoming was nie baie vriendelik nie, en my pa het ‘n einde aan die verhouding gemaak.  Voor die groot skeiding en baie trane, het Jannie my darem ‘n paar keer ordentlik gesoen.

My ouers het ‘n nuwe huis laat bou, en my ousus en swaer het die ou huis oorgeneem, en deur die jare ‘n klompie veranderinge aangebring.  Daar is vir hulle nog vier kinders gebore, dus was dit ‘n huis van lewe.  Die huis en sy erf was nog net so deel van ons lewens ook.  Hier is elke makietie gehou.  Die enigste een wat ek nie geniet het nie is die dag met my en Andrè se troue.  Daardie aand was die huis vol mense met goeie bedoelings, maar my hart het swaar in my binneste geklop.  Wat vir my uitstaan van daardie aand was die swartkopman met sy skreeupers pak klere, en pers skoene aan.  Hy was ‘n familielid van Andrè – ryk soos ek kon verstaan – maar hy het soos ‘n seer duim uitgestaan tussen my ouers en hul pruutse vriende.

Dit was op daardie stuk grond wat Andrè die vyfjarige Marlè afgelaai het om by my en Ken te kom bly.  Die blondekop dogtertjie met haar blou oë wat uit my gebore is, maar wie ek nie geken het nie.  Jare later was dit ook hier waar ek my twee seuns na twaalf jaar weer gesien het.  Ons het onder die koeltebome op die gras gesit, en gesels, en drade uit die verlede probeer optel.

Die erf het ook vir ‘n paar jaar as wegbreekplek vir ons as gesin gedien.  Vir twee weke in Desember het ons die karavaan en tente in die verste hoek van die erf opgeslaan, en daar is gekuier.  Dit het krioel van kinders, wat geswem, trampoline gespring, en fietsgery het . Kom Kersfees, het die familie en vriende by die karavaan kom kuier, en my sus se huis het skoongebly.

Met my eie kinders amper almal uit die huis uit, het ek vir agt maande by my sus gaan bly om fotografiese kursusse by te woon.  Die baba van my tienertyd, was nou ‘n volwasse vrou wat in een van die woonstelle gebly het wat my swaer op die erf laat bou het.  Vele nagte het ek daar by haar gesit terwyl sy skilder.  Ons het gesels; oor die paaie wat die lewe met ons geloop het gewonder, en met tye trane afgevee, maar ook baie gelag.

My ouers se tagtigste verjaarsdae is daar gefier. Ek was toe fotograaf en het die geleenthede deur my lens belewe.  In ‘n mate is ek spyt dat ek nie saam met ‘n leeftyd se vriende, en familie gekuier het nie.  Niggies, en nefies wat ek as kind laas gesien het.

Dit is onmoontlik om die lewe wat homself op daardie erf afgespeel het alles te verwoord. Soos ek hier tik flits, gesigte, en nogmaals gesigte by my verby.  Soveel gesels, soveel lag, soveel trane, soveel lewe.

En toe kry my ousus ‘n ligte beroerte aanval.  In vyf jaar sien ons die flinke vrou agteruitgaan, en dit raak duidelik dat sy nie meer die groot huis kan hanteer nie.  Ons gaan kuier vir die laaste keer daar, en ek neem fotos van jare se bekende dinge.  “Dit sal nooit weer dieselfde wees nie,” sê ek vir Ken toe ons wegry.  Vreemdes gaan nou op die geliefde grond bly.

My sus se een seun is ‘n ontwikkelaar, en hy laat nie gras onder sy voete groei nie.  Die huis word herskep in vyf woonstelle.  Kenneth ons kunstenaarseun het gaan kyk. “Dit is pragtige woonstelle,” sê hy, “maar daar is niks herkenbaars aan die plek nie, en as ek mamma is bly ek daar weg, dit is hartseer om te sien.”

Herinneringe bly, en daarvoor is ek dankbaar.

Advertisements
This entry was posted in Uncategorized. Bookmark the permalink.

23 Responses to ‘n Plek van herinneringe

  1. karen sê:

    Sjoe, ‘n paar leeftye tussen daardie mure – wat nou nie meer bestaan nie. Soos jy sê, gelukkig bly die herinneringe.

    Like

  2. Toortsie sê:

    Mooi herinneringe van ‘n vol en vrolike lewe.

    Like

  3. Baie mooi geskryf, ek kan voel hoe daar gelewe is.

    Like

  4. Sjoe Kameel – sommige dinge is so nostalgies … diep. Sou meer vrae wou vra , maar pragtig geskryf met goeie en slegte herinneringe.

    Like

  5. Jy vertel so lekker ek is skoon spyt toe dit p
    klaar was.

    Like

  6. Baie meisies het ‘n spesiale tannie in hulle lewe. Die meisie en die tannie is bevoorreg, want dis ‘n kosbare verhouding.

    Like

    • Kameel sê:

      Dit is ‘n lekker verhouding want ons is baie dieselfde. Ek sou nie omgegee het vir ‘n tannie wat ek al my geheime mee kon deel toe ek jonger was nie. Maar daardie jare het niemand mos met niemand oor die diep dinge van die lewe gesels nie.

      Liked by 1 person

  7. Dis nou pragtige herinneringe. My pa en nou ek self ook sê altyd : alles kan van jou weggeneem word maar jou hirinneringe sal altyd joune bly en by wees ook. Dit is lekker om terug te dink aan die lief en leed van so n familie-huis. Dankie vir die deel van jou kosbare gedagtes.

    Like

  8. Terug pieng: Toeka Tokkel no 41 : Mode | I scrap 2

  9. Mooi herinneringe. Geniet. Dankie.

    Like

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s