Die liewe tannie Paula

Hello, my naam is Pauline. Hier waar ek nou op ons stoep sit en kyk hoe die groot vragmotor al tannie Paula se goedjies oplaai, is my hart baie, baie seer.

Ek is regtig lief vir tannie Paula. Vandat ek maar kan onthou het sy hier oorkant ons gewoon, met net ‘n stofstraat tussen-in. Twaalf jaar lank ken ek haar al, al was ek darem seker die eerste paar jaar te klein om te kan sê ek het haar geken. Sy was maar altyd hier, sy het immers veertig jaar hier oorkant gewoon!

Ek het graag by haar gekuier, sommer waar sy ook al besig was. Sy het graag in haar kombuis gewoel-en-werskaf. Oee, sy kon die lekkerste lekkers maak! Fudge. Ek het by niemand anders nog ooit sulke lekker fudge geëet nie, en as sy die dag lus was, het sy fyn neute ingegooi. Dan moes ek my behoorlik inhou om nie net nóg en nóg te eet nie. En Turkish Delight! Pienkes en Wittes. Haar Turkish Delight het altyd anders gesmaak as dié in die winkels, sy het wit versiersuiker oorgegooi. Sjoe! Ek gaan dit mis!

Nou gaan sy weg, sy gaan glo iewers by een van haar kinders bly. Ag, ek hoop sy gaan gelukkig wees. Vandat oom Thom dood is, het dit met haar net slegter en slegter gegaan.

Sy het al die vrugte en groente in haar tuin verwerk. In Oktober het sy altyd groenvyekonfyt gekook, en in Januarie, ryp vyekonfyt. As sy lekker goed gemaak het, kon ek natuurlik altyd die potte uitlek.

Sy het altyd sulke lekker stories vertel, stories uit haar kinderdae. As ons in die tuin gewoel het, het sy nooit ophou vertel nie. Sy het my geleer van al die verskillende soorte plantjies.

Toe ek nog klein was, het sy my altyd op haar skoot getel, en dan het ons twee onder die bont gehekelde kombers sit en boeke lees. Sy het my Paultjie genoem, haar naamgenoot!

O, tannie Paula, as ons skoolkonserte hou gaan ek vir tannie mis. Tannie het my altyd gehelp om die mooiste kostuums saam te stel. Daar was altyd ‘n verrassing in daardie ou kis met die outydse klere. Ag! En het ons graag mode-parade gehou toe ek nog klein was. Liewe, liewe tannie Paula.

Oom Thom het altyd ronde, wit peppermente in sy sak gehad, altyd gereed vir ‘n ou grappie. Kleintyd het hy my altyd met sy kruiwa rondgestoot.

Mooi loop, tannie Paula, julle was vir my ‘n oupa en ‘n ouma. Volgende jaar gaan ek hoërskool toe, dan sou ek dalk nie meer so baie kon kom kuier by tannie nie, maar weet, o weet, tannie Paula… ouma Paula… ek gaan julle verskriklik mis. Ek is só verskriklik lief vir tannie.

……………………………………………………………………………………………………………………………….

Writing 101, opdrag 18

Groete, Toortsie

Toortsie se faceboekblad

Advertisements

About Toortsie

'n Flitsliggie wat oral inskyn, ook waar dit soms ongemaklik is... A Toortsie is a small flashlight, like a torch.
This entry was posted in Toorts se verbeeldingsvlugte. Bookmark the permalink.

11 Responses to Die liewe tannie Paula

  1. Met soveel deernis geskryf!

    Like

  2. Baie mooi en gevoelvol geskryf. Dit tiekkel my die hele tyd; het jy al n vorige keer 101 geskryf? Indien wel, het die onderwerpe verander? Klink vir my anders as wat ek kan onthou.

    Like

  3. ekmyselff sê:

    Spesiale tannie’tjie – so klink dit my!

    Like

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s