Amper mis ons dit!

image

Baie baie jare gelede… dit móés baie jare gelede wees, want my pa het nog gelewe en hul was nog heel mobiel, hy is al amper 20 jaar dood… was hul een keer by die Muisbosskerm by Lambertsbaai. Hul was in ekstase daaroor. Tóé was dit nog ‘n nuutjie en al wat leef en beef, het Weskus toe gekom en by díé plek kom eet.

Ek het maar net kennis geneem daarvan en gewéns. Nooit kom ons noord genoeg nie, en Namibië toe dink ons ook nie hieraan nie.

Toe ons inboek by ons hotel in Lambertsbaai, wonder ek waar ons gaan eet, skoon vergeet van my jarelange wens. Maar iewers het iets onthou… ons is sowaar hier, hier by die Muisbosskerm!

Dis ‘n Banters paradys. Die eienaar sê hul het net nie kreef nie, maar verder ALLES, wat dit ook al beteken. Dis haring met gurkins en olywe, bokkoms as jy kans sien. Dan volg die vis met Griekse slaai. Dis snoek, gerookte snoek, makriel, tuna, kabeljou, swaardvis, stokvis. Wat het ek als vergeet? Die kalamari! Skep soveel jy wil hê en kom weer… en weer… en weer…

Daarná volg die boontjiebredie en die kerrie-afval.

Is jy nie ‘n Banter nie? Moenie worrie nie! Daar’s nog paella, soetpatats, vars gebakte brood wat nou net uit die oond kom, met botter en groenvyekonfyt, appelkooskonfyt, en as dit regtig moet, koeksisters!

Lambertsbaai, hierdie was beslis NIE die laaste sien van ons nie! Ek het nie eens vertel van die seemeeue op die sand nie. Ook nie van die gemoedelike atmosfeer, en dit tussen wildvreemdes nie!

Groete
Toortsie

Ek sou darem spyt gewees het as ons dit gemis het. Wraggies waar!

8 thoughts on “Amper mis ons dit!

  1. Hoe water my mond nou! Ons het darem al lekker geëet daar, dit was ook baie jare gelede. Ek mis snoek die meeste, hier is niks wat naby dit kom nie. Die varsheid van al die kos daar en die ontspanne atmosfeer sal my altyd bybly. Bly julle kon gaan!

    Liked by 1 person

  2. My sus hulle het op Lambertsbaai gebly en ons het daar geeët…. wonderlike ondervinding. Toe gaan ‘n klompie van ons een jaar om blomme te kyk….. ons verkluim byna in die tente. Gaan eet by Muisbos…. ‘n vrieskoue ondervinding, met die heerlikste kos. 🙂

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!