Scrapydo se toeka-tokkel: Skottelgoed
Net my ma, en my sus Rika kon koskook in ‘n silwerskoon kombuis. Nie ‘n vuil lepel of ‘n spatsel was op die stoof sigbaar nie. Ewe netjies het die vier potte kos daar op die plate staan en kook, en nie durf waag oorkook nie. Skottelgoed is na ete dadelik gewas, en weggepak. Hulle wasbakke was altyd blinkskoon, en hulle vadoeke het gelyk asof dit nog nooit gebruik is nie. Om skottelgoed te spaar het ek soos hulle probeer kosmaak…. maar tevergeefs. As ek weer sien lê daar ‘n paar eetlepels, teelepels, ‘n mes of twee, en vurke in die wasbak, en die stoof is die ene gemors.
Met die huis vol kinders het Ken vir ons ‘n skottelgoedmasjien gekoop. Die kinders het kombuisbeurte gehad, sodoende het kombuiswerk nie net op een mens se skouers geval nie. Sommer so terloops, Ken het op ‘n keer die “chandelier” in die sitkamer afgehaal en in die skottelgoedmasjien gewas. Hy het skitterend skoon daar uitgekom maar die bedrading het ‘n rukkie gevat om droog te word.
Die voëlnes het nie plek vir die skottelgoedmasjien gehad nie; en ek het hier – in ‘n klein wasbak – kom leer skottelgoed was op ‘n ander manier. Ek kon my liefde vir dinge week nou na hartelus uitlewe. Die skottelgoed word onder lopende water afgespoel, en daarna in die wasbak gepak. Sunlight Liquid word mildelik gespuit, en die wasbak vol vuurwarm water getap dat die skuimbolle so staan. Die potte kry water in en word op die stoof neergesit. Wanneer die water afgekoel het was ek die skottelgoed, spoel dit onder ‘n lopende kraan af, en sit dit op die twee droograkke neer. Die volgende oggend pak Ken die vorige aand se skottelgoed weg, d.w.s vandat hy nou permanent by die huis is.
Ek het werklik van skottelgoedwas gehou. So met die skottelgoedwas saam het ek lekker met die Here gesels, en Hy het vir my heelwat dinge voor daardie wasbak geopenbaar. Kry ons mense sê ek “nee dankie,” vir enige hulp in die kombuis. Ons kuier, en nadat almal weg is vaar ek in die skottelgoed in. “Ek kannie glo mamma staan halfeen in die oggend en skottelgoed was nie,” het Marlè op ‘n dag gesê nadat ons kuiermense weg is. Vanaf hulle slaapkamer kon sy hoor hoe ek in die kombuis werfskaf. Dit is vir haar moeilik om te verstaan dat ek eerder in die nagtelike ure sal staan en skottelgoed was, as om die volgende oggend in ‘n vuil kombuis in te stap.
Noudat Ken by die huis is, begin ek ‘n ander deuntjie oor skottelgoed sing. Die wasbak is nooit sonder ‘n vuil koppie…. of koppies, ‘n mes of twee, en lepels nie. Ek kan die kombuis in die aand blinkskoon los, maar wanneer ek die volgende oggend instap lyk dit nie so nie. Ken staan in die middernagtelike ure op, en het al heelwat geleef by die tyd dat ek opstaan. Dit is asof die skottelgoed net nooit klaarkom nie, want die etery is soveel keer meer op ‘n dag. Ewe skielik is skottelgoedwas vir my ‘n las, en nie ‘n plesier nie. Ek moes myself ‘n ruk gelede hard aanspreek oor my gesindheid, en werk nogsteeds daaraan. Ek hoor vrouens wie se mans permanent by die huis is, oor dieselfde ding kla, en besef dat die probleem nie net voor my deur lê nie.
Maandagaande glimlag ek egter breed. Die skottelgoed kan maar oornag staan; môre kom Florah, my weeklikse feëtjie, dan word nie net die skottelgoed gewas nie, maar die voëlnes ook skoongemaak. So na die horlosie gekyk; ek beter myself roer, en begin kosmaak. Hoe het my ma en Rika dit reggekry om kos te kook sonder om hope skottelgoed te maak?
EK is ook was-die-skottelgoed-en-laat-dit-self-droog-word-tipe. Maar dis omdat ek afdroog haat lol
LikeLiked by 1 person
Dit is soos met stryk nê. Gee nie om vir wasgoed was nie, maar die stryk!!!
LikeLiked by 1 person
Ugh… stryk is die duiwel
LikeLiked by 1 person
My skoonma se huis was ook altyd so: perfek netjies. Ek hou van die gedeelte waar jy met die Here staan en gesels terwyl jy skottelgoed was. Het dit voorheen ook al gehoor. Ja na, dan moet dit ontspannend vir jou wees … Ekself kry nie daardie gevoel tydens skottelgoedwas nie.
LikeLike
Raai ek ook nie. 🙂
LikeLike
Ek kom so agter nadat ek jou blog gelees het 🙂
LikeLike
Glimlag ek nou vir jou Spokie. Neem dan aan skottelgoedwas “is not your cup of tea,” nie…. soos die Ingelse sou sê. 🙂
LikeLike
Hehe – ek dink my geaardheid eerder is baie haastig! Wil net altyd klaar kry en moet klomp dinge tegelyk doen. Maar, ek weet … as jy met die Here gesels moet jy ingestem en rustig wees daarvoor. Daarom werk my Houthuisie in die berg vir my die beste. Daar kan ek voorwaar afskakel van al die gejaag …
LikeLiked by 1 person
Dan wil ek ook ‘n houthuisie in die berg hê 🙂
LikeLike
Nee wat julle kan maar die skottelgoed geniet… Ek kan aan baie lekkerder dinge dink.
LikeLiked by 1 person
Jy voel seker oor skottelgoed was soos ek oor stryk 😦
LikeLiked by 1 person
Oooo neeee stryk is ook deel van daai lys
LikeLiked by 1 person
Vandat ek nou “gepensioeneerd” is, is dit my afdeling in ons huis. Geen bediende nie, dan moet die man sy kant bring. Verkies ook om dit alleen te doen, dan kan ek my systeem volg.
LikeLike
Bly om te hoor jy het ook ‘n sisteem wat jy volg…. dan is dit nie so ‘n deurmekaar spul nie. Moet sê behalwe vir my swaer is jy die enigste man waarvan ek weet wat die skottelgoed wss. Kan ‘n glasie daarop klik 🙂
LikeLike
Ai Coetzee – wil jy nie een naweek vir my man kom kuier en hom bietjie leer oor skottelgoed was?
LikeLiked by 1 person
Dis n goeie verduideliking wat Danie gee : jy kan jou sisteem volg as jy alleen is. Verlede jaar met my student het sy die skottelgoed gewas. Ten eerste kon sy nie so goed sien nie en ten tweede het sy nie rerig daarvan gehou om haar vingers in die warm water te sit nie. Sy het dit egter getrou gedoen wat vir my heerlik was. Ek kon dan rustig sit en my TV storie kyk! Ek is bly om te hoor dat jy ook kalmer raak as jy skottelgeoed was. Dis of mens rerig jou hart kan blootlê terwyl jou hande in die water werk.
LikeLike
Ek gaan ook vir my ‘n student kry 🙂 Ek moet my kalmte rondom skottelgoed was terug kry…. ek werk op oomblik daaraan. Wanneer die wasbak nooit meer sonder dinge is wat gewas moet word nie, raak dit ‘n bietjoe “too much.”
LikeLike
Ja, dis ook n probleem. Jy sal maar iets anders moet kry om jou gedagte te kanaliseer. Ek is op oomblik besig om te skryf aan n boek om te publiseer en al wat in my gedagtes is is idees en nog idees . Dan skielik kom dit net vloeiend uit en ek vorder weer n stukkie. Ek is amper sover om te publiseer. Einde Sept is mikpunt.
LikeLiked by 1 person
WOW! Jy moet kom vertel op jou blog daarvan!
LikeLike
Dis die plan. Hul beveel aan dat mens voor die tyd dit al moet begin adverteer! Party dae draai my kop sommer van al die inligting wat ek al opgelees en gevolg het om te kan publiseer.
LikeLike
Hmm, ja – “I married him for love, not for lunch!”
LikeLiked by 1 person
Ag hoe geniet ek nou jou sêding tannie Frannie 🙂
LikeLike