‘n Dak wat lek

In slegte ekonomiese tye maak sekere maatskappye steeds wins, teen die verwagtinge in. Die persoon wat die onderhoud voer, vra die verteenwoordiger van die maatskappy hoe hul dit reggekry het? Sy antwoord was dat die beste tyd om ‘n lek in die dak reg te maak, sonskyndae is, nie reëndae nie.

Dit is só waar. Nie net in die besigheidswêreld nie, maar in ons alledaagse bestaan. In ons geldsake, ons vriendskappe, in alles.

In ons huwelik.

Ons het ‘n geneigdheid om, as dit goed gaan, so besig te raak met die lewe, die huwelik gaan maar net aan, dit gaan mos goed, so hoekom daaraan werk of daaroor bekommerd wees?  Maar dis juis in sulke tye wat ons óók hard moet werk daaraan, dit nie as vanselfsprekend aanvaar nie. Dis in hierdie goeie tye wat ons ons oë wawyd oop moet hou vir die geringste barsies of krakies, dit regmaak voordat dit groot krake word wat die huis laat verkrummel. Ons moet in goeie tye die mure van ons huis versterk, sodat, as die storms kom, dit stewig sal staan.

Ek verkyk my altyd op Struisbaai hoe toegewyd en toegerus die kampeerders is, hoe hulle hulle tente versterk en anker terwyl die wind nie waai nie, sodat as die Suid-Oostewind met mag en mening kom, hulle stewig staan. Dís wat ons in ons huwelike moet doen.

En sou die storm kom, onthou, dís wanneer ons ekstra sterk moet staan, mekaar moet deurtrek, nie die een agterlaat om te verdrink nie.

Kom ons maak ons dakke heel in die sonskyntyd!

Dis absoluut die moeite werd.

Kom ons geniet ons huwelike.

Groete

Toortsie

13 thoughts on “‘n Dak wat lek

  1. Dit is soos met ons verhouding met God. Hy is nie net daar vir wanneer ons lewe uitmekaar val nie….. dit is ‘n verhouding waarin ons elke dag nader aan Hom beweeg.

    Like

Gesels saam, asseblief!