‘n Oudheid met oë soos diamante

Scrapydo se toeka-tokkel: Oudhede

Soos ek hier sit – oë swaar van moegheid – wil ek ‘n ou blog plaas.  Daar waar ek oor die plaas en sy oudhede geskryf het, of wat van die een oor die oukas, of die ou tafel?  Maar dan kan ek mos nie vir Scrapydo sê “My taak is in,” nie.  Dit voel na “crookings.”  Laat ek dan maar skryf oor die twee oumense wat ek Sondag ontmoet het.

FB_IMG_1440006267617Ons kerk het sy tiende verjaarsdag gevier, en daar was groot makietie na die diens. ‘n Honderd braaivleisvure is aangesteek, en vleis uitgedeel.  Ons selgroep val onder die “oudhede,” van die kerk…. of beter gestel, die Seniors.  Van binne voel ek g’n niks na ‘n senior nie, maar dit is die uiterlike wat hier tel, dus het ek die springkastele, en swaaie vermy, en my by die wyses van dae gevoeg.

Ek het dadelik die twee “antieke” oumense aan die verste punt opgemerk.  Hy verrimpeld en inmekaar getrek, sy soos ‘n porseleinpop aan sy sy.  Ek kon my oë nie van haar afhou nie.  Sy het soos ‘n oumens dogtertjie gelyk, kompleet met ‘n strik in haar grys krulhare, en klere vol frilletjies.  Behalwe vir ‘n paar plooie om haar oë is haar vel glad, en sag.  Dit is haar oë wat my verwonderd laat staar het. Koelronde groot blougroen oë wat soos diamante skitter.  Sulke diep poele lig het ek selde nog by ‘n jongmens gesien, watwou nog by iemand diep in hulle tagtigs.

Later het ek kans gehad om met haar te praat.  Nou verstaan ek vir die eerste keer wat skrywers bedoel wanneer hulle sê jy kan in iemand se oë verdrink.  Dit het half onaards gevoel om in daardie pragtige oë te kyk wat soos ‘n jongmeisie s’n lag en skitter.  Haar laggie is ook klokhelder, en tot haar praat het my aan ‘n dogtertjie laat dink.  Sy het my laggend vertel dat haar man die kos kook, en alles verbrand. Ek kon die humor daarin sien. Daardie inmekaargetrekte liggaam, leunend op sy kierie wat in slakkegang voor die kospotte beweeg!!!  Sy vertel verder, en demonstreer tegelykertyd hoe sy sukkel om haarself reg te maak.  Haar skouerbeen is gekraak, dus kan sy haar regterarm nie hoog genoeg oplig om haar hare te kam, en grimeering aan te sit nie. Al uitweg is om af te buig grond toe om by haar hand uit te kom.  “Dan sit jy nog ‘n lint in jou hare, en maak ‘n strikkie ook,” sê ek, en vou my arms om haar.  Wat ‘n kosbare, en unieke oudheid is hierdie mens nie.

18 thoughts on “‘n Oudheid met oë soos diamante

    1. Een van daardie mense wat oor jou pad kom en jou vir dae bybly. Sal haar nie vergeet nie. Daardie groot strik in haar hare was te kosbaar. 🙂

      Like

  1. Sommige mense word so mooi (van binne en buite) oud. Dan kry jy die ou stoutgatte ook wat jou agter jou hand laat lag en dis altyd ‘n plesier om hulle teë te kom. So jammer dat sommiges dink hulle lewens is om wanneer die eerste plooie verskyn en die rumatiek begin opkeil.

    Like

    1. Glimlag ek nou vir die piepie reuk. Die twee ou mense bly nog in hulle eie huis. Hulle is voorwaar ‘n treat. Sy sê hulle sal moet uitkyk vir ‘n aftreeplek want sy kop begin deurmekaar raak 🙂

      Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!