Toorts se Toeka Tokkel oor Wasgoed/Wasdag

In opdrag van Scrapydo.

Dit was net een dag, en baie baie lank gelede, wat my aandele in my skoonma se oë gestyg het as gevolg van wasgoed. Ek moet sê, ek en skoonma kom regtig goed reg, daar is darem nie eintlik aandeleprobleme nie… maar hierdie oggend baie vroeg het ek staan en wasgoed ophang toe sy daar aankom. Ek kon sien dat sy sommer baie daarvan gehou het. Dis ‘n opmerking wat ek baie gehoor het, dat vir iemand laat blyk is dat die persoon ‘n goeie huisvrou is omdat haar wasgoed al vroeg op die draad hang… ek mis daai prys!

Net soos Scrapydo, onthou ek dat Maandae in my kinderdae wasdag was. Ek kan wel vaagweg onthou dat die vroue daar buite op die wasklip die wasgoed met die hand gewas het, maar eintlik was ek nog baie klein toe ons ‘n wasmasjien gekry het. Of dit die eerste een was, weet ek nie. Dit was ‘n bo-laaier wat so heen en weer ge swiesh-swiesh het. Groot stories. Maandae is gewas, en Dinsdae is gestryk. Die strykysters is op die AGA-stoof warm gemaak, en met sulke dik vatlappe gevat sodat die mense se hande nie brand nie. Mens kon die brand ruik as die vuurwarm strykyster so op die klere neergesit is.

In my huis is dit iets van die verlede. As die weer reg is, en soms as die weer verkeerd is, en daar is genoeg wasgoed vir die masjien, word dit gewas. Toe my huis nog vol kinders was, is daar ook elke middag gestryk.

Ek hou daarvan om my wasgoed in die son uit te hang, die tuimeldroër word net in uiterste omstandighede gebruik.

Scrapydo noem ook die ander was, die was van die lyf. Ek was bevoorreg om in ‘n huis met ‘n badkamer groot te word, maar ek het by twee tannies loseer terwyl my ma op die dorp skoolgehou het. Hulle het nie ‘n enjin gehad nie, en ook nie ‘n badkamer nie, so dit was lampe en kerse, en komme en bekers, en ‘n buite-toilet bedags, ‘n piepie-potjie snags. Deur die week moes ek soggens en saans die nodige was in die waskom, tannie Mags het die water op die stoof warm gemaak, maar Donderdagaande is die sinkbad ingedra. Dan is daar behoorlik gebad, voor Vrydag wat ek huis toe gaan.

Dis mooi herinneringe. Mag ons nog lank badkamers met WATER in hê, en die voorreg van ‘n lekker skoon lyf geniet.

Groete

Toortsie

15 thoughts on “Toorts se Toeka Tokkel oor Wasgoed/Wasdag

  1. My aandele by my skoonma het nooit gestyg nie; het net kop geskud omdat ek die matte elke dag gestofsuier het.
    Jou nagpotjie ens laat my terugdink aan die plaaslewe. Harde manier van lewe gewees, maar lekker.

    Like

    1. Ek weet hoe jy voel. Om die waarheid te sê, ek weier om te bad. Ek hou van ‘n vinnige stort wat al die vuil van jou vel afpiets en wegvoer in die drein in. My man kan weer heerlik lê en ontspan in ‘n warm bad – hy sê dis goed vir die seer spiere.

      Liked by 2 people

  2. O nou het ek heerlik terug gelewe! Het skoon van die toiletgeriewe vergeet. Water aandra om bak vol te maak omdat die waterwerke nie werk nie. Dit was tog maar anderse dae. Ons het ook maar kerse en parraffien lampe gehad. Nie baie lig om saans in te was of skrop nie!

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!