Wasdag en wasmasjien nukke

Scrapydo se toeka-tokkel: Wasdag/wasgoed

As kind het ons ‘n wasmasjien gehad met twee rollers waardeur die wasgoed gevoer was om van die oortollige water ontslae te raak.  Ons het nie gewaag om ons hande naby daardie rollers te bring nie; daarvoor het my niggie se arm vol lelike letsels gesorg.  As klein dogtertjie het haar arm in hulle wasmasjien se rollers beland.

Dit was eers na my troue dat ek besef het wasgoed kom nie vanself skoon, en beland gestryk in jou kas nie.  Ek was nie voorberei vir die lewe buitekant my ouerhuis nie, en het myself suur gesukkel, veral wat wasgoed aan betref. Timothy se vuil doeke het opgehoop, en ek het stadig maar seker tot die besef gekom dat ek, en ek alleen verantwoordelik is vir die was daarvan. Uiteindelik het ek uit my slaap ontwaak en die lewe vierkant in die oë gekyk. Om wasgoed met behulp van ‘n wasmasjien te was, het vir my ‘n plesier geword.  Dit is lekker om wasgoed te week, (Ken sê ek week alles) te was, en dan skoon op die draad te hang.  Ook maar goed ek het geleer om daarvan te hou; min het ek geweet dat daar ‘n tyd in my lewe sou aanbreek dat ek elke dag ‘n “berg” wasgoed sou moes was, (o.a drie mans se vuil oorpakke,) en gedurende die nag sal moet opstaan om deur die taak te kom.

Toe ek en Ken bymekaar uitgekom het was ons te arm vir ‘n wasmasjien.  Ek het wasgoed in die bad getrap, en nadat Kenneth bygekom het sy doeke met die hand gewas.  Groot was my blydskap toe Ken op ‘n dag sê hy het vir ons ‘n “twin-tub” gekoop.  Met die jare het die huisgesin uitgebrei, en die “twin-tub” het goeie diens gelewer, maar toe begin hy lol.  Ken het sy skete met stukke draad, en plank gedokter, maar ‘n mens moes jou oog heeltyd op hom hou.  Sonder waarskuwing sou hy die water oor die kombuisvloer uitspoeg, en dan weer vir dae homself goed gedra.  Ek het werklik begin hoop op ‘n nuwe wasmasjien.

washing_machine_clip_art_18532So staan ek op ‘n dag in die Ok voor ‘n ”Speed Queen top-loader.” My begeerte is na die masjien, maar ek weet hoe geldelik onmoontlik die situasie is.  Ken kom aangestap en trek sy wenkbroue op.  “Dit help nie jy kyk na daardie wasmasjien nie, ons kan hom nie bekostig nie” sê hy, en voeg toe sommer by dat ons nie eers ‘n goedkoper wasmasjien nou kan koop nie.  Traag draai ek om maar loer vir oulaas na die prys; R499… ‘n plaas se prys vir ons.  Ek wil soooooo graag diè wasmasjien hê, sug ek.

Sowat ‘n week later werk ons in die tuin toe Ken ‘n oproep kry.  Dit is van ‘n prokureur; volgens hom het iets verkeerd geloop toe ons, ons huis in die verlede verkoop het, en ‘n uitstaande bedrag van R499 word per tjek aan Ken gepos.  “Dit is vir my wasmasjien,” juig ek, maar Ken skud sy kop.  Nee, die geld gaan bank toe, en dit is belaglik om so ‘n duur wasmasjien te wil koop.  Ek bly stil maar diep binne my weet ek dat die geld vir daardie wasmasjien bedoel is; ‘n geskenk van God.

My skoonouers kom kuier. Ek sorteer die wasgoed in wit- en bond bondels, en besluit om diè dag die wit bondels te was.  My skoonma sit by die kombuistafel en toekyk.  Die “twin-tub” was soos ‘n droom, geen nukke of grille nie.  “I don’t understand why you say the washing machine gives problems,” sê my skoonma, “it seems fine to me.”  “He is behaving himself well today,” antwoord ek, en sit die laaste bondel in die water.  Kort hierna begroet ‘n doodse stilte ons van die wasmasjien se kant af.  Ek draai knoppies, en ruk ‘n slag of twee aan die masjien, maar niks wat ek doen bring lewe in hom terug nie.  Gewoonlik spoeg hy water, of maak onaardige geluide, maar hierdie keer is hy stil…. so asof hy stilweg doodgegaan het.

Ken kom huistoe, vat die masjien buite toe en begin aan hom werk.  ‘n Ruk later kom hy in en verklaar dat die wasmasjien nie reggemaak kan word nie.  “Vat Maandag die kar en ry in dorp toe,” sê hy, “Gaan koop daardie wasmasjien wat jy so graag wil hê…. heel duidelik is die geld daarvoor bedoel.”  Hoe groot was my blydskap, en dankbaarheid nie.

13 thoughts on “Wasdag en wasmasjien nukke

    1. Jy is voorwaar een van ‘n soort…. handwas!!!! Dit is net so vreemd as iemand wat hou van stryk. In my lewe het ek nog net een vrou teëgekom wat styk as terapie gesien het 🙂

      Liked by 1 person

    1. Ek glo hy het dit in sy hart geweet, maar wou nie byt nie.
      Kort na ons die masjien gekry het, het die ark se deure mos oopgegaan en ons tentpale is vergroot…. ons gesin het amper oornag aangewas tot agt. Daardie masjien was so noodsaaklik…. en hy het getrou diens verrig. 🙂

      Like

  1. Sjoe dis darem maar n bestiering daardie geldjie wat spesiaal gekom het asof dit so bedoel was.Jou ondervindings lees soos n verhaal! Ek het ook in die begin wasgoed in die bad gewas met die hand. Dit was toe daar hope doeke was om te was. Gelukkig het my man ook van wasgoedwas gehou en hy het met plesier na nagskof in die bondel doeke ingevaar, gewas, opgehang en opgevou as hul droog was. Ai hoe mis ek nou die ou wederhelf van my. Dis nou vandag 23 jaar dat hy dood is!

    Like

    1. Ai Scrapy, dink jy ‘n mens vergeet ooit rêgtig? Daar is die swaar tye, maar dan ook weer soveel mooi en lekker tye tussenin. Goed om die mooi herinneringe uit te haal!!!

      Like

  2. Oee, ek het al vergeet van die rollers… en van die tweeling se doeke wat ek met die hand moes was!
    Jou storie oor die R499 val só mooi in by my Toevallige storie van nou die dag. 🙂

    Like

    1. Ek sien God se hand in daardie R499. Hy wat weet van elke haar op ons kop, en die begeertes van ons harte ken 🙂
      Baie bly ek het nie tweeling se doeke gehad om met hand te was nie!!!!

      Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!