My eie sandhopie

Laat ek begin deur te sê ek verstaan dat selfsugtigheid lelik is, en meëdedeelsaamheid ‘n goeie eienskap is.  Maar is dit werklik verkeerd om jou eie sandhopie te wil hê?

In haar boek The Blue Castle, skryf L.M Montgomery van Valancy – ‘n vaal dogtertjie wat nie veel in die lewe het nie – en wat deur niemand geag word nie.  Teenoor haar is daar Olive, haar beeldskone niggie, populêr, en in alle opsigte Valancy se meerdere.  Tydens pouse het die dogtertjies sandhope gebou om te sien wie die grootste een kon bou.  Valancy was goed daarmee, en baie trots op haar sandhoop; maar tot hier kry sy nie erkenning nie.  Olive sukkel om ‘n sandhoop te bou, en die meisies besluit om haar te help deur hulle sand op haar hopie te gooi.  Valancy keer vir al wat sy werd is om haar sandhoop te behou, maar sy word sonder veel seremonie uit die pad uit gestoot, en haar sandhoop gestroop.  Desperaat begin sy ‘n ander een bou, maar ook dit word nie ontsien nie.  Soos sy groter word bly hierdie insident haar by, en al wat sy uit die lewe vra is om haar eie sandhopie te hê…. hoe klein dit ookal is.

20150820_141556-1Valancy en haar sandhopie het my aan die dink gesit.  Is dit nie maar hoe ek oor my “hot chocolate” en “post toasties,” voel nie?  In hierdie Voëlnes word daar daagliks koffie gedrink.  Nie Ricoffee nie, nee al die soorte Douwe Egberts koffies wat daar is, en dan nog koffie uit die filtermasjien, en koffie uit die pod masjien, koffie met melk, of net melkkoffie.  Swartkoffie, en koffie met room, cuppuccino’s, en koffie wat na vanilla ruik.  Mense kom kuier, die kinders kom kuier, en baie tyd en praat speel hom rondom die verskillende koffies af.  Ek gee nie ‘n flenter om dat ek vir die laaste dertig jaar nie koffie drink nie… “doctor’s orders.” Ek geniet die reuk van die koffie, en die gesels rondom dit, en drink my water sonder veel seremonie.  My man se koffie sandhopie staan hemelhoog.  Wanneer dit by drinkgoed kom het ek net een bederf; so af en toe drink ek ‘n koppie van Enrista se “hot chocolate.  “Waarom,” het ek my al dikwels in die verlede afgevra, “voel ek so verontwaardig wanneer my man in die “hot chocolate,” inklim?”  Nou verstaan ek; sy sandhoop is klaar so hoog dan kom vat hy nog myne ook.

Ontbyt is presies dieselfde storie.  Ek kannie spek en eiers eet, of saampraat oor ‘n lekker Wimpy ontbyt nie.  Ek sal saamgaan wanneer almal vir ontbyt uitgaan, of saamsit wanneer daar ‘n heerlike ontbyt gemaak word, maar ek kannie saam eet nie.  Ek sit met my bakkie pap, of stukkie roosterbrood en geniet die geselskap.  My ontbyt elke oggend is ‘n bakkie Post Toasties; daar is ander pappe in die kas, waarom myne ook nog eet?  Want ek soek my eie sandhopie?

Om te verstaan is om lig te sien.  Ek voel nie meer so sleg rondom my optrede nie; en daar is werklik geen rede om so aan my sandhopie vas te klou nie.

17 thoughts on “My eie sandhopie

    1. Hier sing ek nou sommer uit die bloute “Jy op jou klein hopie…. en ek op myne.” Ai, ek wil nie selfsugtig wees nie…… slaan tog net ag net my hopie 😦

      Like

  1. Ai, kry mens nog Post Toasties? Laat my nou ver draaie loop. Post Toasties toe ons kinders was het so suutjies Kelloggs geword, ek weet nie eers wanneer dit gebeur het. Jy is welkom aan jou sandhopie. Jy sing “Jy op jou klein hopie….. Weet jy ek het gesing “Elkeen in sy hoekie, ook ek en jy.” Ek is nou so lus vir Post Toasties gemaak met warm Nespray. Mensig.

    Like

    1. Vir my is dit altyd nog net Post Toasties. Weet daar is Kelloggs en Bokomo make. Tien teen een is dit Corn Flakes 🙂 Sal vanoggend aan jou dink terwyl ek my bakkie Post Toasties eet…… en was jy hier kon jy met groot liefde ook kry 😉 Het nie Nespray nie….. dit laat ‘n mens terugdink nê.

      Like

    1. Weet nie hoe ek nou eers jou kommentaar sien nie. Interessant… Post Toasties is net vir Sondae 🙂 Wat, as ek mag weet, word in die week geeët?

      Like

      1. Daardie kommentaar oor Post Toasties net vir Sondae, was maar so effe tong in die kies. Ons het vriende, wat hulle daardie luukse, net Sondae veroorloof. Ons ontbyt, is maar die normale, roosterbrood, met wat ookal beskikbaar is en natuurlik hawermout. Nou met die banting ding, natuurlik heelwat eiers en vleis vir ontbyt.

        Liked by 1 person

        1. Behalwe vir myself dink ek die hele wêreld bant nou. Een tjoppie met vet aan en ek wil vir dae nie weer kos sien nie. Jou vrou is sekerlik bly jy was die skottelgoed as julle al so vroeg in die oggend met eiers en vleis begin 🙂

          Like

  2. Die sandhopies wat ander ook van wil hê gebeur by my ook. Ek is ook eenkennig en baie”suinig op my klein hopie en dan sal ander dit sommer oorneem en opgebruik. Daar is maar dinge wat mens nie kan verstaan nie. Ek was lank wees n rice crispies eter. Nou is dit n weetbix met yogert en ek geniet dit elke oggend.

    Liked by 1 person

    1. Erens langs die pad het al julle kommentare my verby geglip. Ek is bly om te hoor jy het ook jou sandhopie waaraan jy probeer vasklou. Eienaardig hoe ander net inkom en sonder veel seremonie dit plattrap.

      Like

Gesels saam, asseblief!