‘n Tas vol Blues songs

 Op ‘n stadium terwyl ek hierdie boek lees, sms ek vir ‘n vriendin dat ek nie kan verstaan nie, ek is só lief vir Susan Coetzer se boeke, maar hierdie een ervaar ek so negatief? Die een vrou wil skei, die ander een soek haar ou liefde, die ander een wil haar troue afstel… en nog baie meer…

Die nag lê ek en wonder, hoekom hou ek nie op lees nie? Sit die boek net neer, so maklik soos dit. Maar dit is nie so maklik nie… want sy skryf so goed. Sy kry dit reg dat, terwyl die hoofkarakter smoorkwaad en teleurgesteld is in haar man, ek nie vir mý man ook kwaad word nie, dis tog immers wat gewoonlik gebeur. Sy beskryf haar pyn, die rouheid so goed, jy wíl haar nie los nie, jy wil by haar staan.

Die boek bly egter nie negatief nie. Met tyd kom daar verandering, leer ken jy ‘n vrou wat bereid is om haar verlede in oënskou te neem, haar pyn in die oë te kyk, te sien waar sy foute gemaak het, reg te maak wat sy kan.

Ek lees raak van mense wat in die “naam” van Christenwees, erge dinge aanvang, vriende wat mekaar vermy in krisissituasies, maar ook vriende wat bereid is om by haar te staan, ten spyte daarvan dat dit dalk nie goed is vir die “image” nie. Ek sien mense wat bereid is om nie die stroom te volg nie, maar bereid is om af te wyk daarvan en die regte ding te doen…

Ek sien ‘n vrou wat heel word, vir wie haar verhouding met God belangrik is, al loop sy nie te koop daarmee nie. Ek sien opregte Christene.

Ek sien mense, al is daar slegte hoofstukke in hulle lewe geskryf, wat bereid is om die groot stap te neem, verantwoordelikheid vir hulleself en hulle lewe te neem, en doelbewus ‘n nuwe hoofstuk in hulle lewensboek te begin skryf.

Soos elkeen van Susan Coetzer se boeke wat ek nog gelees het, is hierdie een ook ‘n UITSTEKENDE een, ‘n boek oor die lewe. Pragtig geskryf. Ek wil dit graag aanbeveel.

Groete

Toortsie

Ek lys al die boekbeskrywings wat ek doen, by Pinterest en op ons Faceboekblad.

9 thoughts on “‘n Tas vol Blues songs

      1. Beslis. Ek het Sondag vir my seun gelag omdat sy woordkennis nie te wyd is nie(dis nou Afrikaans) Ek praat v murasie(ruins) Hy sê daar is nie so woord nie. Hy soek dit op en kry dit wraggies op sy foontjie. Toe praat ek van bejaarde mense- hy verstaan dit toe nie!. Wys my toe dat hy nie n wye Afrikaanse woordeskat meer het nie. Net maar skool Afrikaans nou! Ek moes dit gou vir jou vertel.

        Like

          1. Ja, maar die spelling! Ook maar goed daar is n spellcheck anders weet ek nie so mooi nie. Hy het bv nooit in Afr die dubbel klanke geleer in graad 2 nie. (Juffrou het nie n saak gehad nie!) Ek moes inspring en hom ekstra spraak/spel lesse laat neem. Die skase is egter gedoen.

            Like

Gesels saam, asseblief!