Hou jy maar net jou spoedjie…

Toe my pa my leer bestuur het op die grondpad, en ander motors kom vinnig van agter af aangery, het my pa gesê: “Hou jy maar net jou spoedjie, die ander kan verby kom as hulle haastig is.”

Ek besef nou dat dit baie meer beteken het as hoe vinnig ek ry. Eintlik het dit vir my ‘n lewenswyse geword. Sien, toe ons jonk was en geld en dinge verskriklik baie saak gemaak het, was daar GEEN manier wat ek by die ander kon byhou nie. Daar was net nie geld nie, en sou ek die mode probeer najaag, sou ek myself net te pletter gehardloop het en uiters depressief geraak het. Teen die tyd wat ek ‘n “in-die-mode-ding” kon aanskaf, was dit al lankal nie meer die inding nie, en was ‘n VOLGENDE ding in die mode. Ek het permanent agter gebly, en bly steeds maar agter!

Ek het maar net my spoedjie gehou, ‘n spoedjie waarin ek gemaklik was, waarin ek veilig was. Binne my vermoë het ek dinge gedoen na die beste van my vermoë, ek moes leer om dinge te sif, wat was werklik belangrik, wat was werklik nodig, en hoe en wat kon ekself maak om dit dalk te bereik? … Maar in die proses het ook ék ontwikkel. Ek het my oë oopgehou, my ore op die grond, probeer om my nie aan ander te steur nie, glad nie te kompeteer met die Jones’s nie, net my ou spoedjie gery…

Vandag het my lewe al totaal verander, die spoed waarmee ek die lewe ry, sowel as die spoed waarmee ek my motor bestuur. Baie mense het sekerlik by my verby gesteek, en ek gun hulle dit. Dalk het ek ook onbewustelik iemand verby gesteek, maar dis nie vir my van belang nie.

Ek is dankbaar vir my pa se wyse woorde: Ry jy maar net jou spoedjie, die ander kan verbykom as hulle wil. 🙂   Dankie Pa! Oeee ek was lief vir pa!

Toortsie

17 thoughts on “Hou jy maar net jou spoedjie…

  1. Ek sal verkies dat mense nie in die vinnige baan hulle spoedjie moet hou nie. 😉 Letterlik.

    Ek sien regtig nie die nut in om met die Jones’se kompetisie te hou nie. Ek hou nie waarvan die Jones’se hou nie, hoekom sal ek wil koop wat die Jones’se wil hê? Ek leef my eie leef.

    Liked by 1 person

Lewer kommentaar op Xena Phoenix Kanselleer antwoord