Senamè en die Barbiepoppe

Die dag voor prinses Senamè se vyfde verjaarsdagpartytjie was dit yskoud; die wind was baie kwaad, en het die bome heen en weer gepluk.  Die grootmense het mekaar met groot oë aangekyk.  “Wat gaan hulle met die Barbiepoppe doen wat na die partytjie toe genooi is, as die weer so lyk?  Prinses Senamè was nie bekommerd nie.  Daardie aand toe sy en haar pappa saam bid fluister sy saggies vir hom, “Vra vir Jesus om asseblief vir ons more ‘n mooi daggie te gee.”

Die volgende oggend glimlag die son breed; die koue wind het sy tasse gepak en Noordpool toe vertrek.  Nuuskierig loer Kameel by die deur in waar die partytjie gehou gaan word.  Dit is te pragtig. Behalwe vir ‘n bietjie wit is alles pienk.  Daar is tot ‘n groot glashouer met pienk melkskommel in.  Die partytjiekamer lyk vir Kameel soos ‘n groot pienk spookasem, en die kersie op koek is Prinses Sesamè in ‘n pragtige pienk netrok, met ‘n silwer kroon op haar kop.  Die Barbiepoppe begin aankom, en Kameel verkyk haar aan al die gesiggies, en klere.

Die Barbiepoppe gaan staan om die ronde tafel, en sing alte mooi vir prinses Senamè.  Nadat prinses Senamè die vyf kersies op haar Barbiepopkoek doodgeblaas het, kry elke Barbie ‘n pienk handsakkie met ‘n mooi blink hangertjie daarby.  Binne in die handsakkies is daar heerlike eetgoed, en ‘n lekker verrassing; ‘n regte lipstiffie vir elkeen.  Maar voordat die Barbiepoppe die lipstiffie mag aansit moet hulle eers na die tannie toe gaan wat hulle naels verf, en hulle hande onder ‘n lig hou wat die verf vinnig laat droogword.  Hulle word grimeer, en dan eers mag hulle, hulle eie lippe verf.  Kameel se oë rek toe sy sien hoe die Barbiepoppe se mondjies verander. Party se lippe word baie dik, terwyl ander lyk asof hulle van oor tot oor glimlag. Een of twee Barbies se lippe sit so skeef teen een wang, en daar is tot ‘n Barbie wie se hele gesig amper net lippe is.

‘n Rukkie later stap ‘n gelukkige klomp Barbies met handsakkies in een hand, en ballonne in die ander buitekant toe.  Daar wag ‘n springkasteel op hulle.  Voor Kameel se oë gebeur daar ‘n wonderwerk; die oomblik toe die Barbies hulle blink skoentjies uitskop verander hulle in dogtertjies wat skreeu, en jil…. en tot baklei. Een dogtertjie gryp prinses Sesamè aan die hare, en die grootmense moet help vrede maak, en trane afvee.

Daar is egter ‘n groot probleem. Die kasteel is deur drie groot reuse beset wat daarvan hou om dogtertjies te teiter.  Hulle lyk soos seuns, en gedra hulle ook soos seuns.  Van daar bo-af spring hulle tussen die dogtertjies in, en lag te lekker wanneer die dogtertjies hoog die lug in trek, en oor mekaar tuimel.  Die reuse kry raas, staan vir ‘n paar minute terug maar neem dan weer hulle plek bo-op die kasteel in.  Die dogtertjies raak gewoond aan die reuse, begin meer lag, en minder huil, en laat tot toe dat die reuse hulle daar van bo-af ondertoe gooi.

Kameel sien twee swaaie met dogtertjies op.  Sy hou mos baie van swaai, en stap daarheen.  “Kan ek julle maak?” vra sy.  Die dogtertjies knik hulle koppe.  “Kan ek julle hoog maak?” vra sy weer.  Weer knik die dogtertjies hulle koppe.  “Nou goed, hou styf vas, en sê vir my wanneer dit hoog genoeg is.”  Tot Kameel se vreugde kan sy die dogtertjies hoog, hoog swaai.  Sy stop eers wanneer hulle so half van die sitplek af wip.  Dit is mos soos ‘n mens swaai!!!  Maar o weë, Kameel het vir haarself ‘n lat gepluk.  Die dogtertjies wil almal swaai, en almal wil hoog swaai, en Kameel se arms word moeg, sy kry warm, en haar tong hang uit van die dors.  “Ek kom weer,” belowe sy die dogtertjies, “ek moet eers bietjie rus.”  Styf en seer stap sy en gaan haal vir haar ‘n koeldrank.  Later die middag, na baie swaai, gaan sit Kameel op die lugkasteel se stoep.  Die stoep gee onder haar pad, en daar lê Kameel op haar rug, met haar bene al skoppend in die lug.

Een van die reuse kom sit langs Kameel en sê hy is nou baie moeg;  “Waar,” vra hy “kry die dogtertjies al hulle energie?”  Dit wil Kameel ook graag weet.  Dit is al laat wanneer mammas, en oumas opdaag om hulle Barbiepoppe te kom haal.  Daar is egter nie een Barbiepop te sien nie, net baie vuil, kaalvoet dogtertjies, met deurmekaar hare, en skewe rooi lippe.

Advertisements
This entry was posted in Die lewe met 'n tikkie humor. Bookmark the permalink.

23 Responses to Senamè en die Barbiepoppe

  1. Ag wat ‘n heerlike beskrywing van ‘n heerlike partytjie!

    Liked by 1 person

  2. Sparkle sê:

    Dit klink of die juffies hulself gate uit geniet het. As kind het ons nie eintlik partyjie gehou nie. Al die kinders in die buurt was wel genooi vir tjippies vol MSG en aanmaakkoeldrank☺. En dan was daar die koek met die pop wat in die middel ingedruk was. Die eerste ding om te waai was die rok se smarties!

    Liked by 1 person

    • Kameel sê:

      Ag ek dink net die bymekaar wees met ‘n koek is al wat tel. Daardie afeet van die smarties was net so lekker, indien nie lekkerder nie as die duurste koek. Glimlag ek vir die pop wat in die middel van koek ingedruk was 🙂

      Like

  3. Klink baie baie spesiaal … dis ‘n vooorreg!

    Liked by 1 person

  4. HesterLeyNel sê:

    Lekker gelag vir die skewe lippies. Klink asof hulle dit geniet het.

    Liked by 1 person

  5. Dis te heerlik om so n klomp “kleintjies” te sien partytjie hou. Hul gaan voluit vir alles. Die aantrek is belangrik maar daardie skoene uitskop en klim en klouter is die hoogtepunt. Daardie swaaiery is heerlik. Ek hoop jy het ook geswaai. Een van die reuse moes jou maar gestoot het! Ek dink dit moet lekker wees om Ouma te wees. Dankie vir jou heerlike mengelmoes van avontuur vir almal.

    Liked by 1 person

  6. Terug pieng: Toeka-Tokkel no 33: Pantoffels | I scrap 2

  7. nowathome sê:

    Ag dis te kostelik! Ja hulle kan mens lekker uitput.

    Liked by 1 person

  8. Toortsie sê:

    Oeee maar dis ‘n mooi storie… dis mos dieselfde prinses wat ‘n jaar gelede op die dogtertjie-eiland was. 🙂

    Liked by 1 person

    • Kameel sê:

      Dieselfde prinses ja…… maar dit was twee jaar gelede dat sy saam die seediertjies partytjie gehou het. Verlede jaar was Kameel te.lui om oor die partytjie verslag te doen.

      Liked by 1 person

  9. ekmyselff sê:

    Ag lekker. Wys jou net, ons girls kan van jongs af al meer as een rol vertolk. 🙂

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s