My kind word groot…

Die oorgee, aangee van jou kinders bly maar ‘n groot ding. Veral vir die mammas. Veral ook vir my.

Ek dink soms mense is so uitermate behep met hulle kinders, hoekom kan hulle nie aanvaar hulle kinders word groot nie… tot ek besef, ek is maar net so!  Ek is NET SO behep met my kinders, indien nie meer nie! En nee, dit IS NIE maklik om te laat gaan nie.

Dit het ek maar net weer eens besef toe my dogter oorsee wou gaan saam met ‘n vriendin. Eers skop ek hande viervoet vas. NEE! Nee, nee, nee! Beslis nie! Dis my allerlaaste laatlam!

Maar met tyd besef ek: My kind word groot. “Practise what you preach.”  Vertrou jou opvoeding.

MAAR EK VERTROU MY OPVOEDING!

Nou hoekom dan die weerstand?

Want ek gaan nie saam om haar te beskerm nie. (Asof ek haar nog kan beskerm.)

Ja, ek kan haar nie beskerm nie, maar ek kan haar darem help dink in ‘n krisissituasie.

Die stemmetjie fluister…

… Toe ek so oud was soos sy nou is, was ek al besig met trouplanne…

… Sy kom al hóé lank op haar eie reg hier in ons land…

… Jy sal MOET laat gaan, sy het haar eie lewe wat syself moet lei…

… Jy het mos ‘n selfstandige kind grootgemaak…

Ek gee my toestemming, en keer op keer as die angs wil kom, word dit maar weggewerk…

Met ‘n traan in die oog waai ek totsiens op die lughawe. Die moedige kind stap alleen deur die hekke…  Ek bid konstant. Beskerm my kind, bring haar veilig terug…

… My maag is skielik op ‘n knop. Die kos wat ek bestel het, kry ek om de dood nie in nie…

Getrou stuur sy boodskappe om te laat weet dit gaan goed… Op die foto’s sien ek net vreugde en opwinding…

… en my maag begin ontspan.

Laat jou hart nie ontsteld raak nie, glo in God, glo ook in My.”

Ek glo mos!

Om te laat gaan is NIE maklik nie, maar ter wille van ons kinders MOET ons dit doen… Soms oorreageer ons, dis menslik, maar ons móét laat gaan.

Maar MAKLIK IS DIT NIE!

Groete

Toorts

Sy het veilig teruggekom. Vreugdevol, verruk, opgewonde, met skitter-ogies… en die má het dit ook oorleef… net-net, maar darem. Hoe hou die ma’s dit wie se kinders in ander lande woon?

18 thoughts on “My kind word groot…

  1. 2005 en my enigste kind is op lughawe om NZ toe te gaan. My keel trek toe toe ek die laaste keer vir hom waai! Vir 4 jaar het ons ge-sms en later ge-email. Hy het my laat nag, vir hom, nou en dan gebel sodat ek sy stem kon hoor. Dis maar nie lekker om so ver weg te wees. Alles was maar erg gewees as mens so terugdink. Ek byt op my tande en hou my mond styf toe want hy is nou “groot” en het sy eie persoonlikheid ontwikkel. Mens moet maar spasie gee sodat hul kan ontwikkel

    Like

  2. dank voor je bezoek en lieve woorden
    ja ik wandel graag , maak ook altijd gein
    zingen kan ik niet 😉
    Ja kinderen worden groot en zijn dan blij met een mooie opvoeding , soms is het loslaten van de kinderen niet zo makkelijk , maar op een dag vliegen ze toch uit , meestal dan toch
    geniet de dag

    Like

  3. My middelste dogter het vyf jaar in verskillende lande gewoon…stoksiel alleen op haar eie na die snaakste plekke getoer.My senuwees was by tye gedaan,maar ek het dit onderdruk.vandag is sy ‘n selfstandige vrou met veggees soos min…ai ons ma’s darem!

    Liked by 1 person

  4. Ai, raak jy darem nou ‘n hartsnaar of twee aan…! Nooit maklik nie, NOOIT! Ons wil altyd ons kinders om ons hou. En wat gebeur toe met ons? Dis die ouers wat trek…! Ons ÍS mos hoeka Voortrekkers! Nou bly ons en die kinders in drie verskillende lande. En die beste land: Kaapland! 🙂

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!