Toortsie se Toeka Tokka oor Teater

In opdrag van Scrapydo.

Die slegte teater is die een in die hospitaal, een met wie ek al ‘n paar keer te doen gekry het. Genadiglik het dit nog altyd goed gegaan. 🙂

Maar daar is ook lekker teaters, waaroor ek natuurlik mal is. Die Artscape in die Kaap se operahuis is natuurlik my groot liefde. Al die kere verwonder ek my aan wát hul als regkry met dekor en beligting en wat nóg.

As ‘n lig nie uit die dak, amper op jou kop, val nie, reën dit op die verhoog,  of daar kom kerse uit die vloer, of ‘n boot roei in ‘n watervoor. Hul kry dit reg om jou deel van die produksie te maak,  die een oomblik hardloop die Phantom agter jou rond, die volgende oomblik verras hy jou op die verhoog.  Oee en die KATTE van Cats wat op die banke rondklouter soos wafferse katte is genoeg om jou mond in ekstase te laat oophang. En as dit hoe is, stap die mense op die verhoog weg en weg en weg en die verhoog hou net nie op nie!  Dan het ek nog nie eens genoem dat die verhoog in die rondte kan draai nie!

Van in die rondte draai gepraat. Iemand vertel my dat hy in Holland in ‘n teater was waar die GEHOOR in die rondte draai óm die verhoog! Die verhoog draai én die gehoor draai… dis nou as ék die storie reg het,  ek sal sowaar moet loop seker maak!

Terug na my storie. Ek het nog nie eens gepraat van die kostuums nie. Wat ‘n ongelooflikheid! War Horse is natuurlik ‘n klas van sy eie! Wat hul als met daardie perde aanvang is iets uit ‘n ander wêreld. Daardie handgemaakte perde word regtig PERD op die verhoog.
Binnekort is dit West Side Story. 🙂

Was jy lank laas in die teater? O, moenie dat so ‘n gelerntheid by jou verby gaan nie! Gaan en geniet dit! Dis élke keer ‘n belewenis,  en dis heel anders as die opvoerings wat jy sommer in ‘n saal sien.

Het ek die orkes genoem?

Toortsie, kry nou end!  😦 tsk

9 thoughts on “Toortsie se Toeka Tokka oor Teater

  1. Nou is ek lus vir ‘n goeie opvoering. Verstom my ook altyd aan die decor. Sal nie Holland se teater toe gaan nie…. net by die lees daarvan het my kop gedraai.

    Like

  2. Nou praat jy! Laaste keer, ek kan nie onthou wanneer nie, was by Monte Casino. Wonder of daar ‘n teater in Mosselbaai of George is? Ons gaan September in Kaapstad oorbly as ons Namakwaland toe gaan vir blomme kyk… miskien moet ons dan van die geleentheid gebruik maak.

    Like

Gesels saam, asseblief!