Die lekker van teaters

Scrapydo se Toeka-Tokkel: Teater

stock-illustration-30964584-vector-theaterOm na ‘n teater toe te gaan en ‘n goeie vertoning by te woon, is een van die lekker dinge in die lewe.  Die Romeine het ook so gedink; ek is dankbaar ons vertonings is nie meer so bloeddorstig soos hulle s’n was nie.  Het ek in daardie jare gelewe was my begeerte om in ‘n teater op te tree miskien vervul deurdat ek vir die leeus gegooi was – en met die gejuig van die skare in my ore – gesterf het.

Terug na die werklikheid.  Ek het voorheen geskryf dat ek as kind saam met my ma Operahuis toe was, en dit baie geniet het.  Deur my lewe was ek by heelwat teaters waar ek operas, balletopvoerings, Spaanse danse, toneelstukke, films en wat nog meer gesien het.  ‘n Besoek aan ‘n teater bly maar besonders, al is dit net om jou kleinkind se akrobatiese danskonsert by die Aula, (Pretoria Universiteit) by te woon.

Ek en Ken was lief om Civic teater toe te gaan; een vertoning se naam was, “My Fat Friend.”  Waarom die naam by ons vasgehaak het, weet ek nie.  Nie een van ons twee kan vandag meer onthou waaroor die toneelstuk gegaan het nie, maar die naam het gekom om te bly.

Nie lank gelede nie, kom ek, my vriendin, en my twee dogters van ‘n teater af waar ons “The Sound of Music,” gaan kyk het.  Op ‘n donker, en baie gevaarlike plek gaan staan die motor.  Marlè, bang dat iemand van agter af teen ons gaan vasjaag, boender ons by die motor uit.  Gestrand, sit ek en my vriendin elkeen op ‘n klip in die veld, en wag.  Daar was iewat van ‘n benoudheid aan die gesittery in ‘n donker veld.  Dit is Afrika hierdie, en wie weet wat skuil daar nie alles in die donker nie?  Dit het sowaar drama tot die aand gevoeg.  As ek so dink is die hele wêreld maar ‘n teater waar daar dag na dag tonele afspeel; ons moet net ons oë oophou.

Ek dink nostalgies terug aan die bioskoopteaters in Johannesburg.  Daar was iets “classy” aan His Majesty’s en Die Colusseum.  Die volvloermatte, die swaar gordyne, die blink handreelings, en die man met sy flitslig wat jou sitplek aangewys het.  Die mense het deftig aangetrek, en daar was ‘n ongesproke gedragskode wat almal gerespekteer het.  ‘n Onvergeetlike film wat ons (ek en Andrè, en my vriendin Des, en haar verloofde) gesien het, was Madame X.  By die deur is daar aan elkeen ‘n pakkie sneesdoekies uitgedeel.  Op ons vraag “waarom?” het die persoon geantwoord dat ons dit nodig gaan kry.  Dit was toe ook so; in daardie teater was daar nie ‘n droë oog nie.  Oral het jy ‘n gesnuif, en ‘n sagte gesnik gehoor.  Met die uitloopslag het niemand gepraat nie; maar sneesdoekies was oral sigbaar soos mense trane afgevee het.

By die huis aangekom sit my ouers, my ousus, en haar man in die sitkamer. Verwonderd wil hulle weet hoekom ons vier se oë so dik gehuil is.  Om te hoor is nie dieselfde as om te beleef nie, dus belowe ek hulle teaterkaartjies vir die volgende Saterdag se vertoning.  Vol afwagting sit ons daardie Saterdagaand, en wag dat hulle van die teater af terugkom.  Soos ons verwag het, het hulle met dikgeswelde oë by die huis aangekom.  Al wat my swaer gesê het was dat die mens wat nie in daardie fliek gehuil het nie, nie ‘n hart het nie.

Ek dink ‘n heerlike ondervinding sal wees om by London se West End, ‘n Andrew Lloyd Weber, “musical,” te gaan kyk.  Jy mag saamkom Scrapy, en jy ook Toorts. Lank lewe die teater!!!

Advertisements
This entry was posted in 'In opdrag..... Bookmark the permalink.

16 Responses to Die lekker van teaters

  1. Kelkiewyn sê:

    Ek kom heeltemal te min by teaters uit. Pure fliekvlooi, ekke.

    Liked by 1 person

    • Kameel sê:

      Om te gaan fliek is seker net makliker. Daar is oral plekke om te gaan fliek, terwyl ‘n lewende vertoning vra dat jy partykeer vêr moet ry. 🙂 Geniet jou flieke, dit is ook lekker!!!

      Like

  2. Olga sê:

    Ek moet altyd ver ry om ‘n teater opvoering te sien. Ek is nie regtig ‘n teater/fliek /partydjie mens nie. Dis net soms moeilik om vir ‘n musical my neus op te trek.

    Liked by 1 person

    • Kameel sê:

      Het jy The Sound of Music gaan kyk toe hy nou onlangs gewys het? Dit was werklik baie goed….. die moeite werd om vêr daarvoor te ry.

      Like

  3. Oooooo daardie Madam X was beslis n tranetrekker. Ek was nog op kollege en het alleen gaan kyk in een van teaters in Pretoria(kn nie meer die naam onthou nie). Dan die werklike opvoerings bly maar wonderlik. Seder val in Waterkloof, dan ook Sandra Prinsloo in lewende lywe. Ook ballet en orkes opvoerings. Dankie vir uitnodiging na West End. Laat weet wanneer ons gaan! Dankie vir jou heerlike teruglewing

    Like

  4. Terug pieng: Toeka-Tokkel no 31: BRANDHOUT | I scrap 2

  5. Toortsie sê:

    Hier sien ek nou eers jou stuk!
    Dankie vir die uitnodiging!
    In 1984 is ek as jongmeisie saam met volwassenes op ‘n toer en beland by Evita! Ek het natuurlik nie die storie verstaan nie. Al wat by my vassttek, is die mense wat so rouende om Evita se kis geloop het.
    In ongeveer 1994 kom die fliek toe uit. Ek het heelwat daaroor gelees en was beter voorberei. Ek wonder hoeveel keer het ek die fliek gekyk?

    Like

    • Kameel sê:

      My dogter was net so gaande oor Evita. Ek het die fliek gesien….. maar dit voel al vir my of ek meer as net die fliek gesien het. Wonder of daar ‘n boek oor Evita is wat ek miskien gelees het?
      Wou jou nog vra het jy Francine Rivers se boeke oor die Romeinse tyd gelees. Te lui om nou in my boekrak die name te gaan kyk…. sit lekker onder ‘n duvet, met warm boontjiesak op my skoot 🙂

      Like

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s