Die sebrapakkie

Dis wonderlik hoe ‘n mens se gedagtes van die een ding na die ander kan spring. So met ons gekletsery by my bloginskrywing oor die familiefees wat ons gaan hou, sê Scrapydo amper dieselfde ding en net daar besluit sy om “herinneringe” as een van haar Toeka Tokkel onderwerpe te maak. Die gedagte daaragter is dat ek dan sal kom vertel van die fees. Nabetragting hou.

Intussen beskou ek toe die foto en loop my gedagtes wye draaie.

image

Hierdie foto is geneem by Koppie Alleen by die De Hoop Reservaat. Hierdie geboutjie is opgerig vir groepe wat iets studeer. Ons het natuurlik die FAMILIE bestudeer! 😉  Hierdie gebou het ‘n rukkie terug afgebrand, maar ons het baie plesier daar gehad.

Daar was stapelbedjies in die slaapsale met sulke dun matrassies en as so ‘n groep mense soontoe gaan vir ‘n nag of twee, was slaap nie eintlik ‘n faktor nie!

My kinders was nog baie klein, toe het ek die lekkerste gestreepte lap gekoop en vir hulle en hul pa elkeen ‘n pajamapak gemaak, presies soos die bandiete van weleer. 🙂 Seuns s’n het gou te klein geword, maar Pappa het syne gedra, jaar vir jaar. Die vlootblou strepe was net later grys strepe.

Nou ja, by sulke kuiers het manlief dan slaaptyd getrou sy pajamapakkie aangetrek… net om die SEBRAjagters wakker te maak!

Groetnis
Toortsie

9 thoughts on “Die sebrapakkie

  1. Ha, dis nou rerig n bewys van hoe aansteeklik gedagtes deel, is! Sien in my gedagtes die zebra-pakkies! Die een gedagte lei tot volgende. Dis waarom my Vrydag “It’s write easy” so heerlik is. Mens skryf oor jou eie herinneringe en hoe meer die ouens van hulle dinge skryf hoe te meer kom nuwe dinge na vore! Dis lekker om so gedagtes en woorde te deel. Ek het herinneringe ingewerk by laaste week van Oktober. Jy kan maar begin neerskryf! Sal dit n vervolg moet maak dink ek. 🙂

    Liked by 2 people

    1. 🙂 Die uiteinde van die groot sebrapak was dat ek een keer, toe ons oorsee is, ewe plegtig vir my buurman gevra het of hy dalk die pak in veilige bewaring sal hou tot ons terugkom… manlief het die skimp gevang. 🙂

      Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!