Familie

Scrapydo se Toeka-Tokkel: Familie

Hierdie skrywe gaan nie vir my maklik wees nie; ek trap baie suutjies hier.

Die dag toe Jay in haar trourok staan, en haar skoonma se arm gly om haar lyf en sy sê die woorde, “Nou is sy myne,” het ek nie besef watse implikasie dit vir my kind inhou nie.  Ek het nie geweet hoe hierdie familie saamgestel is, en hoe hulle dinge doen nie.

Laat ek begin deur te sê hulle het geld; nie bietjie geld nie, baie.  Die pa is baas van die plaas, en sy kinders se vlerke word vroeg-vroeg geknip.  Enige droom wat ‘n kind het om te vlieg, en sy eie lewe te lewe word doodgesmoor.  Sy droom is die familiebesigheid, en almal moet daarby inval.  Trou die kind word van die skoonkind verwag om sy/haar beroep prys te gee, en deel te word van die besigheid.

Hulle lewe nie buitekant toe uit nie.  Die familie werk saam, kuier saam, gaan saam kerk toe, en hou saam vakansie.  Daar word gesê hoe jy moet aantrek, dink, jou kinders grootmaak, ens.  Stadig maar seker verloor jy jou eie identiteit, en glo later jy is niks sonder hulle nie.  Jy word totaal beheer.  As troosprys kry jy ‘n goeie salaris, jou kinders se klere word gekoop, jou huis, en elektrisiteit word betaal, en jy ry ‘n spogkar.

Nie dat hulle kinders nie probeer vlieg, en wegkom het nie – maar een of twee probeerslae en hulle het moed opgegee.  Jay se man was anders; hy het aanhoudend probeer wegkom – hy het groot drome vir homself gehad – maar hy kon dit nie daarbuite maak nie.  Hy het sy toevlug tot dwelms geneem.  Jay het by haar man gestaan, en ons nie die ware toedrag van sake vertel nie.  Ons het van sy dwelmprobleem geweet, en van die probleme wat daarmee gepaard gaan, maar hoe afgebreek sy was, en hoe sy oorheers word, dit het ons nie geweet nie.

Toe bou die familie hulle eie kompleks sodat almal saam kan bly.  Nie klein meenthuisies nie; nee elkeen kry ‘n pragtige groot moderne dubbelverdieping huis.  Jay se man se huis was net klaar gebou toe ons daarna gaan kyk het.  Hulle sou oor ‘n week of wat intrek.  ‘n Paar dae later sit ek en bid vir Jay toe ek ‘n visioen sien.  Ek sien die kompleks met sy hoë mure om.  Bo-oor die mure sit daar ‘n massiewe seekat wat die kompleks in sy “arms” vashou. (Ek weet nie wat die Afrikaanse naam vir tentacles is nie.)  Die volgende oomblik begin hy stadig maar seker in die kompleks afsak, en trek sy arms binne die mure in.  ‘n Lig gaan vir my op; ek besef as Jay eers agter daardie mure is, sy nooit weer daar gaan uitkom nie. Ek vra die Here om hulp, en los dit net daar.

Binne ‘n dag verander Jay se omstandighede.  Die een oomblik dink sy nog sy gaan in die kompleks intrek, toe bevind sy haar hier by ons in die stad met haar twee kinders.  Daar word gesê dat sy nie op haar eie sal regkom nie, en kort voor lank sal terugkruip, maar Jay was losgemaak.  Daar het vir haar ‘n nuwe lewe vorentoe gewag.

Nou kom ek by ‘n moeilike deel uit – die kinders. Wetend hoe die familie werk, en hoe hulle elkeen “brain wash,” en beheer, sien ek gevaarligte vir my twee kleinkinders.  Alles daar lyk so aanloklik, en sal enigeen verblind wat nie wakker loop nie.  Ons as die grootmense in die verhaal, mag nie negatief van hulle teenoor die kinders praat nie.  Hoe waarsku jy hulle teen die strikke?  Dit is nie dat hulle nie liefde daar ontvang nie; ek glo hulle ouma en oupa is lief vir hulle.  Dit is hulle manier van doen wat my pla.  Die kinders se pa bly daar, dus gaan kuier hulle vir lang tye daar.  ‘n Skoon breek, met geen verdere kontak na daardie kant toe nie, sou my meer gerus gestel het.  Maar nou kan dit nie.  Toortsie het hieroor geskryf; As kinders as wapens gebruik word.  Dit is net nie altyd so eenvoudig nie.

Advertisements
This entry was posted in 'In opdrag..... Bookmark the permalink.

14 Responses to Familie

  1. ekmyselff sê:

    Sjoe ja, dit is ‘n mondvol en in n mate kan ek nogal saam praat.
    Dis nou hier – jou kind het nie n gans van julle dam, n pit van julle pampoen gaan trou nie. MAW iemand wat soos SY grootgeword het nie.
    EN EK OOK NIE
    My drie broers het al drie getrou met ganse van ONS dam – hulle vrouens kom uit huise soos ons eie ouerhuis. Maar nee ek moes toe mos nou anders wees en vandag betaal ek die prys, my kinders nog meer as ek….
    Sterkte – voorspoed vir haar vorentoe!

    Like

  2. Toortsie sê:

    Ai Kameel. Nee, dis NOOIT maklik nie.

    Like

  3. Sulke goed hou jou op jou knieë Sterkte

    Like

  4. scrapydo2.wordpress.com sê:

    Dit is nou n hartseer ding die. Bly Jay het kon wegkom maar dis soos jy sê die jong kinders word as speelbal gebruik om te bewys dat ouers nie sonder die familiegroep kan lewe nie. Daardie breinspoeling het ook baie bid en ondersteuning nodig. Sulke mense is so oortuigend in hul doen en late in die ttussentyd is hul net manipuleerders van die eerste waters. Sterkte vir jou en jou ondersteuning van jou dogter en kleikinders.(Kleinkinders kan ook baie arrogant teenoor die omgee ouer en grootouers wees net omdat hul opgesteek word)

    Like

  5. Terug pieng: Toeka-Tokkel no 30 : Teater | I scrap 2

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s