Gesegtes/Aanhalings (2)

Hierdie gedig van Elisabeth Eybers was my gunsteling op skool. Ek het hom met groot passie voorgedra vir ons matriek mondelingse eksamen. Later jare het my Sondagskoolklas hom “opgevoer.”

Maria

’n Engel het dit self gebring,

die vreugde-boodskap – en jy het

’n lofsang tot Gods eer gesing,

Maria, nooi uit Nasaret!

Maar toe Josef van jou wou skei

en bure-agterdog jou pla,

het jy kon dink eenmaal sou hý

die hele wêreldskande dra?

Toe jy soms met ’n glimlag langs

jou liggaam stryk … die stilte instaar …

wis jy met hoeveel liefde en angs

sou hý sy hellevaart aanvaar?

Die nag daar in die stal – geeneen

om in jou nood by jou te staan –

het jy geweet dat hy alléén

Getsemane sou binnegaan?

Toe vorste uit die Ooste kom

om nederig hulde te betoon,

wis jy hoe die soldate hom

tot koning van die volk sou kroon?

En toe hy in jou arms lê,

sy mondjie teen jou volle bors,

het jy geweet dat hy sou sê,

toe dit te laat was: Ek het dors!

Toe dit verby was en jy met

sy vriend Johannes huis toe gaan –

Maria, vrou van smarte, het

jy tóé die boodskap goed verstaan?

Elisabeth Eybers (1915-2007)

Uit: Belydenis in die skemering, 1936

7 thoughts on “Gesegtes/Aanhalings (2)

Gesels saam, asseblief!