As kinders as wapens gebruik word

Son het ‘n verskriklik roerende stuk geskryf oor die verlies van kinders, maar meer nog, die verlies van ‘n stiefseun wat hulle só bitter liefgehad het, maar van wie die pa geweier is om hom te sien. Nou is hy dood.

Dankie vir soveel ma’s wat hul geskeide mans toelaat om hul kinders te sien, maar ongelukkig is daar soveel rillerverhale van ma’s wat enige ding uitdink, net sodat die pa’s nie die kinders kan sien nie. Baie keer het die hof toegang toegestaan, maar sy het net altyd die een of ander verskoning…

Ek het ‘n buurman gehad wie altyd Struisbaai toe gekom het met sy twee kinders. Ek het my verstom aan die kwaliteit aandag wat hy dan aan die kinders gee. Hy het sy volle aandag aan hulle gegee, saam met hulle gespeel, maar ook allerhande interessante goed uitgedink om dit vir hulle lekker te maak. Hy het selfs een nag met die kinders in ‘n tentjie hier by ons in die veld kom slaap. Hy het stapafstand van hulle gewoon. By sy huis in die Kaap was daar ‘n boomhuis, hanslammers, hoende, eende. Alles om vir hulle ‘n wonderlike kinderlewe te gee. Toe kry die ma ‘n lawwe idee in haar kop… en hy word ALLE toegang tot die kinders verbied.

Ek ken ‘n jongman wie finansieel dit nie breed het nie, maar hy’s regtig die sout van die aarde. Mooi geaardheid. Sy meisie raak swanger, hul trou, maar hy moes terug gaan Amerika toe vir sy werk. Hy reël dat sy ook Amerika toe kan kom. Hy kry ‘n skeibrief van haar af. Intussen betaal hy maandeliks onderhoud, meer as wat vasgestel is. Die seuntjie is nou al sewe jaar oud en hy het nog NOOIT die voorreg gehad om die kind eers te sien nie, wat nog te sê tyd te spandeer met die kind. Dit word net altyd geweier.

Mammas, julle moet regtig mooi dink oor hierdie ding. Ja, julle ís baie lief vir julle kinders, julle wil hulle nie verloor nie. Jy het sekerlik redes hoekom jy jou kind van jou gewese man weerhou, maar as dit nie gevaar vir die kind inhou nie, HOEKOM DOEN JY DIT?  As jy dit doen om die man te straf, slaag jy uitstekend daarin, maar het jy al ooit aan die gevolge vir jou kind gedink?

Besef jy dat jy jou kind van iets regtig groots ontneem, om deur sy biologiese pa liefgehê te word? Daar’s dinge wat ‘n biologiese pa vir sy kinders leer, maar jy ontneem hul die LIEFDE van hul eie pa. Dit kan selfs bydra tot onsekerhede in die kind se gemoed, wat hy sy hele lewe saamdra, bagasie wat onnodig is. Pa’s is nie net daar as geldmasjiene nie, hul is deel van jou kind en moet deel wees van sy opvoeding.

Jy is dalk bang jy verloor jou kind. Weet jy, jy behoort nie. Selfs al bederf die pa die kind. As jy vir hom standvastigheid en liefde in jou huis gee, sal hy altyd terugom na jou toe. Weet jy wat, deur hom toegang tot sy pa te gee, sal hy juis toeneem in sy liefde vir jou, omdat jy hom nie sy pa ontneem het nie. Wat verkies jy? Jou kind se volle ontwikkeling, sy geborgde gevoel omdat beide sy ouers hom liefhet, of jare later se verwyte omdat jy hom van sy pa weggehou het?

Ekskuus vir die preek, maar kinders se belange lê my na aan die hart. Hulle het immers nie gekies om in die wêreld te kom nie, dit was ‘n keuse van jou en sy pa. Deur die pa toegang tot jou kinders te gee, verlig jy jou eie las!

Moenie jou kind sy pa ontneem nie. Asseblief nie. En moenie hul laat skuldig voel omdat hul die ander ouer ook liefhet nie. Moenie hul laat kies nie.

Toortsie

Advertisements

About Toortsie

'n Flitsliggie wat oral inskyn, ook waar dit soms ongemaklik is... A Toortsie is a small flashlight, like a torch.
This entry was posted in Opheffingswerk; Opvoeding, Ouerskap en ouerleiding. Bookmark the permalink.

42 Responses to As kinders as wapens gebruik word

  1. scrapydo2.wordpress.com sê:

    Jy praat weer na my hart! Veral daardie kind skuldig te laat voel omdat hy/sy ook lief vir die ander ouer is. Ek het bv nie my seun se pa ontsê om hom te besoek en saam met hom erens heen te gaan. My seun is steeds lief vir sy pa omdat hy n goeie pa was en die geleentheid gehad het om hom te ken

    Like

    • Toortsie sê:

      En ek glo jou seun waardeer dit gewis.

      Like

    • Toortsie sê:

      So bly jy het hul nie laat kies nie. Soveel keer is ‘n ouer só seer ná die skeiding dat hul nie waak oor wat hul sê voor die kinders nie. Die kinders kry so verskriklik swaar, voel baie keer hul is die oorsaak, en voel skuldig omdat hul steeds lief is vir die ander ouer.

      Like

      • scrapydo2.wordpress.com sê:

        Beslis so! Ek is net bly dat d jaar en n half wat ons geskei was en voor my man sy eie lewe geneem het, vir my kind steeds vastigheid gegee het wat ons liefde vir hom betref.

        Like

        • Toortsie sê:

          Oe! Moes jy nog ‘n eie lewe neem ook deurgasn? Dis verskriklik!

          Like

          • scrapydo2.wordpress.com sê:

            Ja, dit was nie lekker nie. Toe ekskei het my man sy werk gestop en n boemelaar geword nadat die huis teruggevat is deur die bank. Ek het maar tussenin hoem onderhou tot ek nie meer kon nie en dis toe dit die einde vir hom was. Hy kon nie meer saamleef met homself en omstandighede nie

            Like

            • Toortsie sê:

              Dis baie baie erg. Erg het erger geword.

              Like

              • scrapydo2.wordpress.com sê:

                Gelukkig het ek krag gekry van n Hoër Hand wat my gehelp het om nie ook te verval nie. Familie ondersteuning was ook maar nie baie groot nie. Het wel vriendinne gehad wat my gedra het.

                Liked by 1 person

                • Toortsie sê:

                  So ‘n selfmoordstorie is BAIE BAIE ERG. Soos jy sekerlik weet.

                  Like

                  • scrapydo2.wordpress.com sê:

                    Ja, hy was toe nog nie dood nie en ek moes op einde besluit om masjiene af te sit ook! Ek soek nie simpatie nie maar dit is werklik trauma wat maar altyd weer na vorev kom afhangende van gebeure wat om mens plaasvind. Baie mense kan nie verstaan hoekom mens so bly klou aan die dinge nie. Dit gebeur net en ek kan net niks daaraan doen nie. Augustus is dit al 22 jaar gelede wat als gebeur het

                    Like

                    • Toortsie sê:

                      Dis nie bly klou aan die dinge nie. Dis dinge wat iewers in jou brein sit, vir altyd daar sal sit, en dan is dit klein dingetjies, soos my simpel bloginskrywing, wat dit weer oopkrap, wat goed na die “bokors” bring, wat maak dat ‘n mens dit weer ‘n keer hanteer… maar… deur dit keer op keer weer te hanteer, word dit dalk tog verwerk. Dis hoe ek hoop dit met jou die geval is.

                      Like

                    • scrapydo2.wordpress.com sê:

                      Dit het al baie gekalmeer. Ek kon vir jare nie die woord selfmoord gebruik nie. Nou kan ek al daaroor praat wanneer dit opduik. As sommige mense so alwetende en ongenaakbaar daaroor praat en nie self dit deurgemaak het nie staan ek net op en loop liewers uit. Dit is egter nodig om daaroor te praat en te redeneer selfs oor hoekom en waarom. Gelukkig het ek die laaste keer met berading n baie goeie berader gahad wat nog gestudeer het. Sy het my geval as haar gevalle studie aan die klas voorgehou en baie goed gedoen.(Sy was al n ouer dame wat skielik die roeping gekry het om trauma-berading te doen)

                      Like

                    • Toortsie sê:

                      Weet jy, my broer het mos jare terug ‘n baie ernstige selfmoordpoging gehad. Wat my nogals “gered” het, was dat ‘n predikant “toevallig” ‘n ruk VOOR dit gebeur het, by ‘n bybelstudie oor selfmoord kom praat het en dat God kyk wat in jou hart aangaan, dat wanneer jy so ‘n stap doen, jy gewoonlik nie rasioneel dink nie, dat God nie jou laaste fout in jou lewe teen jou sal hou as jy ‘n kind van Hom was nie. sjoe! Dit het my ongelooflik baie gehelp. Maar dat dit sleg is vir die familie, is nie altemit nie, Dis die slegste sleg wat my ooit in my lewe getref het. Want dis nie ‘n ding wat gou gebeur en dis oor en verby nie. Daar’s baie baie dinge wat verwerk moet word deur baie mense. Moeilik. Maar My genade is vir jou genoeg. 🙂

                      Liked by 1 person

                    • scrapydo2.wordpress.com sê:

                      Moet daarby voeg – as my geloof nie so vas gestaan het nie sou dit alles anders uitgedraai het. Ek is seker so maand na alles verby was opgeneem in n inrigting waar ek op einde weer helder kon dink en my kind kon bystaan. Hy het bv eers n jaar later werklik geknak en kon ek hom bystaan om te aanvaar dat sy pa nie hel toe is soos sy onderwyseres n week voor dit gebeur het te vertel dat dit grootste sonde is en sulke mense gaan hel toe. Wys jou weer hoe mense net in die verbygaan dinge kwyt kan raak sonder om dit behoorlik te oordink

                      Like

                    • Toortsie sê:

                      En daai in die verbygaandinge is wat vassteek.

                      Like

                    • scrapydo2.wordpress.com sê:

                      Netso! Het rerig baie jammer gevoel vir my kind. Toe ek aan hom verduidelik dat pa beslis hemel toe is omdat hy n gelowige mens was en goeie mens ook het hy rustig geraak

                      Liked by 1 person

                    • seegogga sê:

                      ek dink dis baie baie swaar vir iemand om selfmoord te verwerk. Maar die verlies aan ‘n kind is seker die seerste seer.

                      Like

                    • Toortsie sê:

                      Absoluut. Genadiglik is dit my nog gespaar. Mag dit altyd so bly

                      Liked by 1 person

                    • seegogga sê:

                      AI Ek loee nou eers van die groot hartseer. Dit is baie erg.Ek hoop jy het al klarigheid daaroor gekry.

                      Like

                    • scrapydo2.wordpress.com sê:

                      Dankie, dit is maar n gedoente. Soms kom dit net tevoorskyn wanneer mens dit nie verwag nie. Ek het gelukkig met baie genade koers gehou tot nou toe. Dankie vir belangstelling

                      Liked by 1 person

  2. Kameel sê:

    Ek is deur die vuur wat hierdie saak aan betref. Die skade, en verlore jare kan nooit weer herstel word nie. Jy lewe met ‘n leemte in jou wat nie deur enigiets anders gevul kan word nie. Of dit vir ‘n man makliker is weet ek nie.

    Like

  3. seegogga sê:

    Vandag hoor ek van n stiefpa wat 2 klein kindertjies doodgeslaan het terwyl hulle onskuldig le en slaap het… weereens was d kinders die pionne. Hoe kan een persoon n ander so haat dat hy nie d kinders ontsien nie? Was die mammas wat hulle kinders van hulle pappa af weghou dalk bang hy doen hulle kwaad aan?

    Like

  4. Son sê:

    Dankie Toorts – vreeslik dankie dat jy hierdie geskryf het. Hoe meer mense lees en hoe wyer dit uitkring, hoe beter. Dalk, net iewers, help dit iemand tot ander insigte bring. En nee Kameel, dis nie makliker vir ‘n man nie. Mans steek net hul gevoelens meer weg.

    Liked by 1 person

  5. Toortsie, waar woorde en ek hoop dit, net soos Son se blog artikel maak harte oop….

    Liked by 1 person

  6. Olga sê:

    Ek weet nie regtig hoe ek hieroor voel nie. Dit het die pa (wie toegang tot sy kind ontsê word) vrygestaan om hof toe of welsyn toe te gaan. Hoekom het hy nie? Was hy maar te bly om van die verantwoordelikheid ontslae te wees? Ek weet van een pa sie se stiefseun probeer het om sy dogter te molesteer. Die kind het gekla en ‘n helse pakslae op die hals gehaal. Hy het eenvoudig sy vrou se telg se woord bo sy eie kind sn geneem. Jare later, het dieselfde seun probeer om sy sesjarige halfsuster ook te molesteer. Toe word hy, (paar maande voor sy matriekeksamens) vinnig na sy eie pa in Australië gepos. Dan kry jy ook ma’s wie hulle kinders van die pa’s af weghou sodat die kind nie kan vertel die nuwe pappa rand vir mamma (en soms vir hulle ook) aan nie. Ek dink as so iets met een van my seuns moet gebeur, sal ek sorg dat hy (hulle) elke dag as dit moet, by die hof en of welsyn staan om klarigheid te kry.

    Like

    • Toortsie sê:

      Ai dit bly maar sleg. Al kante toem
      .

      Like

    • Kameel sê:

      Olga ek dink dit hang af van waste toesig verkry is. In my geval kon ek alleen die kinders onder toesig sien. Hy het met die kinders bly vlug, dus was dit moeilik. Ek het teruggegaan hof toe; daar was vir my gesê dat hy my nie toegang tot sy huis mag weier sou ek uitvind waar hy bly nie. Sou hy weier om die deur oop te maak, kon ek polisie toe gaan, en hulle sou die reg hê om indien moontlik die deur af te breek. Is dit werklik wat ek wil hê om met polisiemanne, wat miskien geweld mag gebruik, by my kinders uit te kom? Die antwoord was nee!!!

      Liked by 4 people

    • Son sê:

      Olga, ek dink nie jy het regtig ‘n idee wat se bakleiery dit afgee wanneer mens oor kinders begin baklei nie. En erger nog as mens 1600 km van jou kinders af is, omdat dit is waar jy werk kon kry en ‘n nuwe lewe probeer bou. Die welsyn is useless tensy ‘n kind se lewe in gevaar is en selfs dan. Jy kan nie ‘n staatsprokureur kry as jy ‘n sekere inkomste het nie. Na R17000 aan prokureurs en steeds geen daadwerklike resultate nie, omdat die ma doodeenvoudig meer geld vir prokureurs het en elke prokureursbrief terugbaklei met ‘n prokureursbrief van haar kant af, begin mens die hopeloosheid van die situasie besef. Dan begin mens mooipraat en smeek en voor geslote hekke staan. Dan hoor jy by die stiefpa hy sal die kinders gaan vra of hulle hul pa wil sien. Net om weer buitentoe te kom en te sê nee hulle wil nie. Hoe verduur jy dit dat jou 8 en 10 jarige kinders sulke keuses moet maak? Hoe weet jy ooit of hulle regtig gevra is? Die ma en stiefpa is nie slegte ouers nie. Sy het net besluit sy kan hulle pa nooit vergewe nie omdat hy haar ophou lief gehad het. SY het besluit. Sy het ook besluit om te vergeet dat hy man alleen die seun, wat nou oorlede is, die eerste jaar na sy geboorte grootgemaak het, omdat sy nageboorte depressie gehad het en niks met die kind te doen wou hê nie. In hoeveel stukke dink jy breek n mens se hart as die jarelange bediende jou by die begrafnus vertel hoe jou kinders gehuil het en jou meisiekind op die vloer geval en n tantrum gegooi het en gehuil het “I want my daddy!” daardie kere wat jy voor geslote hekke moes omdraai. Nou is die seun dood, op net 24 jaar. Die dogter is ‘n verlore, dwalende 21-jarige. En jy wonder altyd oor wat as… Dan is vergifnis damn moeilik. Indien enigsins moontlik.

      Liked by 1 person

  7. Van beide kante is daar baie ongeregtighede

    Like

  8. Orange Blue sê:

    Seer en eina storie. Oumas en oupas loop ook maar deur wat besoekregte tot hulle kleinkinders betref.

    Liked by 1 person

  9. Terug pieng: Familie | Toortsie, Kameel en Bokbaaivygie

  10. ekmyselff sê:

    Kinders kry altyd die swaarste omdat ouers nie oor hul issues kan kom nie. Dis so seer en sad, praat uit ondervinding.

    Like

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s