Kleur

Scrapydo se toeka-tokkel – Kleur

Waar het ek my liefde vir swart en wit gekry?  Vir die eerste keer kom ek nou agter dat ek nooit my ma in of ‘n swart rok, of ‘n wit rok, of swart en wit saam gesien het nie.  So ook nie een van my susters nie; miskien ‘n swart baadjie of broek, maar altyd gekombineer met kleur.  Geen wonder my ma het elke einde van die maand so moedeloos geword as ek my nuwe klere vir haar gewys het nie. “Dit gaan tog net swart en wit wees,” sou sy vooraf sê.  “Maar kyk hoe mooi is dit,” antwoord ek, en hou triomfantlik ‘n wit leerbaadjie met swart moue omhoog.  My swart en wit manie moes vir my ma met haar liefde vir pastel kleure ‘n nagmerrie gewees het.

Later jare maak ek my eie klere, klim uit my swart en wit boksie, en eksperimenteer met kleur.  Kenneth ons kunskind sê op ‘n dag “Ma moet nie pers dra nie, dit laat ma soos die dood lyk.”  Vandag kyk ek na die fotos van daardie tyd, skud my kop en wonder wat my besiel het.  Gelukkig het ek op herfskleure afgekom wat blykbaar die regte kleur vir my is.  Maar ek voel nogsteeds die beste aangetrek in swart en wit tailleerde klere.

Ek hou ek nie van kleure wat teen mekaar skreeu nie, dus was my huis heel stemmig wat kleur aan betref.  Was ek sonder kind of kraai, sou alles seker wit gewees het.  Ek is ‘n pyn wanneer dit by kleur kom.  Kleure moet by mekaar inskakel, en ek sal dae lank loop en soek na ‘n ding wat net die regte kleur is.  Maar ook hier het ek so wan en dan myself verloor, en mal gegaan.  My sonskyn sit- en eetkamer was een so ‘n fase.  Oranje “sunfilter” gordyne, oranje geblomde meubels (en ek hou nie eers van geblomde lap nie.)  Oranje mat; gelukkig was die mure nie ook oranje nie. Wanneer ‘n mens van buite af die vertrek binnegekom het, was dit ‘n skok op jou gestel.  Dit het gevoel jy stap die son self binne.

En dan was daar die jare van die “country” styl. Alles was gefril, en my eens bestendige sitkamer met sy roomkleurige meubels ondergaan ‘n metamorfose.  Pienk meubels, pienk muur, blou en pienk blommetjies gordyne (en ek hou nie eers van geblomde lap nie.)  Die kombuis het gespog met goudgeel gepofte gordyne, en alles wat op die kaste gestaan het, het geel oortreksels met kant op gekry.  Maar soos met alles het ook dit tot ‘n einde gekom, en kon ek terugkeer na aardse kleure toe.

20150703_091521Ek verkyk my aan mense wat met kleur kan speel. My haarkapster is een so ‘n mens.  Sy gaan soos ‘n vlinder deur die lewe, en volgens haar is haar huis die ene kleur.  As ek na die kombers kyk wat sy besig is om te hekel glo ek haar.  Ek sou ook graag so kleurvol deur die lewe wou gaan, maar dit is nie wie ek is nie.

24 thoughts on “Kleur

  1. Die swart nommertjies is vandag nog steeds gewild. Ek is self ook nie te kleurig nie. Rooi is vir my mooi. Ek sien in my gedagte daardie stadiums wat jy hier beskryf. Dis presies hoe dit gaan. Hier in NZ is hul BAIE swart georiënteerd. Meeste vroue dra swart, dis eintlik opvallend.

    Like

    1. Ek dra ook so wan en dan my bloedrooi baadjie by ‘n swart broek… of my rooi bloes by wit broek en maak my lippe bloedrooi 🙂 en voel heel goed daarin. MAAR ek is voorwaar nie braaf genoeg en kombineer dit met ‘n ander helder kleur soos ek sien party mense doen nie. Ek is bly daar is die kleurvolles tussen ons…. almal in swart laat my dink aan ‘n spy fliek 😆

      Like

          1. Ek is ongelukkig nie tall nie so, dis bietjie verby my. Moet baie elegant lyk so lank en slank en dan in swart

            Like

  2. Ek is nou weer nie so goed met die aardse kleure nie. In my universiteisjare was beidge en bruin mode. Ek het dit gedra. Ek hoor eendag dat ‘n kêrel wat by my vriendin kom kuier het, vir haar gevra het of ek aan een of ander siekte ly, ek is so bleek.
    Maar swart en wit kan GOED werk!
    Ek is seker jou huis is een van rustigheid, vrede, liefde.

    Like

    1. Ek het nou kliphard gelag vir jou sieklyk 😆 Tog eienaardig hoe ‘n groot rol kleur speel. Ek kry die meeste komplimente wanneer ek herfskleure aanhet. My haarkapster sê nou eendag ek sal nooit my hare grys kan laat word nie…. dit sal lyk asof ek dood rondstap. Kyk nou hoe mooi lyk jy met jou grys hare.

      Like

  3. Grys is glo die nuwe swart, of so se die mense wat gereeld deur modetydskrifte blaai. Ek is baie aangetrokke tot gelukkige kleure. Enige iets helder en opgewek trek my soos ‘n magneet in ‘n klerewinkel.

    Dis nogals interessant om te google oor watter kleure by ‘n mens se gelaatskleur pas. Meeste dames met ‘n ligte vel en blonderige hare lyk goed in aardse keure, terwyl helder kleure soos donkerpers glo goed vir donkerkoppe met blas velle werk.

    Like

    1. Hoekom is ek nie verbaas dat Sparkle van gelukkige kleure hou nie 🙂 As jy jou klerekas oopmaak en dit is vol kleur is jy ‘n vlindermeisie soos ek hulle noem. Behalwe vir ‘n paar oranje items, en my rooi baadjie en bloes lyk my klerekas heel eentonig.
      Grys is definitief meer prominent nou se dae as vroër jare.

      Like

    1. Gesien my dogter trek ook niks kleurvol aan werk toe nie…. ek weet hulle het ‘n dress code, maar dit is sekerlik nie teen kleur nie? Miskien lyk swart meer professioneel 🙂

      Like

Gesels saam, asseblief!