Toorts se Toeka Tokkel oor onderwys

Ek moet eintlik oor “onderwys” skryf,  maar Scrapydo se bloginskrywing het my laat dink aan ‘n man, kom ons noem hom Jan. (Jan is BESLIS nie sy regte naam nie.)

Hier op die plase kry ons mos ook maar met baie mense te doen. Wat ook hier op die plase gebeur, is dat ons telkemale met dieselfde mense te doen kry. Want sien, die persoon werk by ons, sy “sin raak op”, hy “trek op”, en so ‘n paar jaar later staan hy weer voor jou voordeur om werk te soek.  Party werkers bly jare by jou, ander skuif maar gereeld na ‘n volgende plekkie, op soek na iets beters.

Toe ons jare gelede ‘n plaas gekoop het, het ons Jan se gesin saam met die plaas geërf. Hardwerkend, maar as die voggies betaalnaweke sy werk begin doen… chaos!

Só het Jan al verskeie kere by ons gewerk, hy kán ‘n trekker en implement hanteer, hy het ‘n ongelooflike aanleg daarvoor, ‘n absolute aanwins op enige Rûensplaas… maar ja…

Scrapydo skryf van soveel kinders wat innerlik mooi is, maar wat dalk deur omstandighede omvorm is om iets anders te wees. Weet julle, in Jan se oë sien ek daardie absolute begeerte om beter te wees. Hy wíl regtig graag… maar ai, as hy net van die verslawing kon loskom. Hy het ‘n pragtige geaardheid as hy hý is, maar…

Soms kan ‘n mens iemand help tot iets beter, soms wil jy bitter graag help, soms wil die persoon self ook gehelp word, maar die vaardigheid, die deursettingsvermoë, die “verstaan” is net nie daar nie.

Jan is ‘n voorbeeld van soveel mense in ons land, mense wat so graag beter wil wees, maar nie weet hóé nie. Mense wat vasgevang is in die spiraal van drank en tik en dwelms. Ons het ‘n groot opvoedingstaak!

Ons moet net nie moed verloor nie. Daar is sekerlik baie Janne in die wêreld vir wie die hoop minder skraal lyk, maar daar is ook baie Janne in die wêreld wat met baie “tender loving care” dalk tog die verslawing kan breek. Daar is ook baie klein Jannetjies in die wêreld, wie dalk tog deur goeie onderwys, liefde van die gemeenskap, omgeemense, kan uitstyg bo hulle omstandighede.

Ons ALMAL het ‘n opvoedingstaak. Ons kán ‘n verskil in ‘n kind se lewe maak, selfs al is dit nie ons eie kind nie. Ons kan ‘n verskil maak deur “uitkykanties” te word, uit te kyk vir kinders in nood, en die kind te probeer help, selfs al ken ons nie die kind nie.

Toorts

(“uitkykanties” geleen by ‘n toneelstuk wat sy oorsprong in Bredasdorp het, jammer ek het die naam daarvan vergeet)

 

12 thoughts on “Toorts se Toeka Tokkel oor onderwys

  1. Dis ‘n moeilike ding ja. Ek ken iemand wie by ‘n plaasskooltjie betrokke was. Van die kinders het Vrydae met die broodjies wat die skool verskaf het die laaste kos vir die naweek geeet.

    Like

  2. “Uitkykanties” is n mooie woord om te gebruik vir die tannies! Ja, ek kan nog baie positiewe uiteindes vertel. Die laaste 4 jaar wat ek by privaatskool(net swart) skoolgehou het was die jonger kinders baie angstig om te wil leer. Hul het ook baie geleer omdat hul die dinge wat ons as alledaags ken nie van weet en daarvan moes leer. Dankie vir die mooi stuk oor leer en deurdruk om beter te wees.

    Like

      1. Ek sien. Kyk hul op straat of meer by huise self? Daar was altyd kindertjies wat gebedel het by ons biblioteek

        Like

  3. Verslawing Toorts is een bose kringloop. Mooi mense, wat in monsters verander wanneer die dwelms, of drank praat. Twee dwelmverslaafde skoonseuns later….. en die chaos wat hulle in hulle families gesaai het eis nogsteeds sy tol. Al daardie mooipraatjies wanneer hulle “nugter” is, en die hoop dat dinge nou gaan verander…. dit is hel op aarde.

    Like

    1. Dis erg. Die substans neem heeltemal beheer oor die brein. Jan het altyd vir my gevra: Het ek mevrou dan nou heeltemal teleurgestel, net om ‘n dag later sy vrou omtrent dood te slaan. Ai.

      Like

Gesels saam, asseblief!