Meneer Bekker en die Rebel

Scrapydo se Toeka-Tokkel: Onderwysers

Ek het hierdie stuk voorheen geplaas, maar aangesien ek nie veel meer oor die onderwys as dit te sê het nie, plaas ek dit weer.

typewriterDit is Vrydagmiddag.  Behalwe vir ‘n paar skoonmaaksters wat met hulle skoonmaakmiddels soos skimme rond beweeg, is die groot meisieskool verlate.  Die gang waarin ek staan is somber, en koud.  Tydens die laaste periode van die dag is ek deur die skoolhoof aangesê om hier te staan.  “Jy gaan nie vandag huistoe voordat jy vir my vertel wat jy vir juffrou du Toit (die LO onderwyseres) gesê het nie.  Wanneer jy bereid is om te praat, klop aan my kantoordeur.”  Met dié het sy omgedraai, en mank-mank haar kantoor binnegestap.  Toe klink die deur toe.  Sy behoort te weet dat ek – sonder om my mond oop te maak – volgende week nogsteeds hier sal staan, of sit, of lê.   Sy is in vir ‘n lang wag.

Halfvyf gaan die deur oop, “Kom in.”  Sy gaan sit agter haar lessenaar, en wys na ‘n stoel, “Sit.”  Ek sien die moedeloosheid in haar oë, maar dit traak my nie.  Ek is lankal verby omgee oor ander se gevoelens.  “Jy gaan nie vir my sê wat jy vir juffrou du Toit gesê het nie?”  “Nee,” daar is uitdaging in my oë.  “Niemand wil meer vir jou klas gee nie.  Jy is onregeerbaar, en ontwrig alles.”  Sy blaai deur ‘n leêr op haar lessenaar“Volgens die skoolsielkundige wil jy ook nie jou samewerking vir haar gee nie.”  Sy verwag seker nie ‘n antwoord nie.  Sy kyk op, “Besef jy dat ek jou nie langer in die skool kan toelaat nie?”  Ek het dit lankal verwag, is net verbaas dat dit haar so lank gevat het om tot dié besluit te kom.  “Jou ma, jou arme, arme ma…… ek kan dit nie aan haar doen nie, hoe sê ek vir haar jy hoort in ‘n verbeteringskool?”  Daar is waaragtige omgee in haar stem, maar my hart bly kliphard.  Ek staan op.  Dan praat sy weer, “Ek hoop nie ek gaan die besluit berou nie, maar ek doen dit net vir jou ma; kom Maandag terug skooltoe…. ek gaan jou nog ‘n kans gee.”

Dit is tikperiode.  Ek sit in ‘n klaskamer op die tweede verdieping, en staar by die venster uit.  ‘n Mansstem ruk my terug na die hede.  In ‘n donkerblou pak klere staan hy daar; hy moet na aan aftreeouderdom wees.  Behalwe vir ‘n halfmaan grys hare om sy agterkom is hy heeltemal bles.  “Ek is Meneer Bekker, julle nuwe tikonderwyser.  Ek sal later julle name aanhoor, maar eers wil ek hê julle moet vir my ‘n spoedtoets tik.  Blaai na bladsy….”   Ek het klaar belangstelling verloor, en staar weer na buite.  Die klas begin lewe – vingers spoed oor sleutels; tikmasjiene se armpies slaan teen papier vas.  Dan praat hy hier langs my, “Hoekom tik jy nie?”  Ek kyk hom reguit aan; soos ‘n wilde perd skop die rebellie teen my bors.  “Ek tik wanneer ek lus is, en ek is nie lus nie.”  Ek sien die skok in sy oë, en dan kom die oorbekende woorde, “Loop uit my klas uit, en gaan sit buite!”  Ek tel my boeksak op, en stap buite toe.

Die klok lui.  Die deur vlieg oop, en meisies in bruin skooldrag bondel by die deuropening uit.  Ek tel my boeksak op.  “Wag, ek wil met jou praat.”  Ek volg hom terug die klas in.  Hy stap na die klein stoorkamer toe, en druk die deur agter ons toe.  Ek wonder of hy sy liniaal gaan breek.  Dit sal die hoeveelste bordliniaal wees wat in woede op my hande stukkend geslaan word.  Hy kyk na my; ‘n kyk wat inneem, en opsom dit wat hier voor hom staan.  Ek laat nie my oë sak nie, vol uitdaging kyk ek terug“Hoekom het jy nie getik nie?”  vra hy.  “Niemand vertel my wat om te doen nie; ek tik wanneer ek lus het, en ek was nie lus nie.”  Ek wag vir die stortvloed slegsê woorde om oor my te reën, en dan natuurlik vir die uitroepteken aan die einde, “Jy sit nie weer jou voete in my klas nie.”

“Ek wens jy was my dogter.  Die impak van sy woorde laat my innerlik steier; my voete is onder my uitgeslaan.  Dit is nie heuning om die mond smeer nie, dit is ‘n opregte wens wat hy uitspreek.  Daar is bewondering in sy oë.  “In al my jare van onderwys het ek nog nooit soveel vuur in ‘n student teëgekom nie.  Maar daardie vuur is verkeerd gekanaliseer.  Was jy my dogter sou ek jou met die regte leiding deur die regte kanale gestuur het, om groot hoogtes te bereik.”  My hart is verower, en my lojaliteit behoort aan Meneer Bekker.

Sonder vra word hy my kampvegter.  Ek word teruggeroep klasse toe, en nie weer uitgestuur nie.  Padlangs hoor ek dat Meneer Bekker koppe in die stafkamer gewas het, en dat hy met die klagtes teen my sal deel, en nie meer die onderwyseresse self nie.  Die huishoudkundejuffrou verontagsaam dit, en gryp haar bordliniaal.  Die volgende periode is tik.  Met bloedrooi opgeswelde hande stap ek die tikklas binne.  My vingers beweeg met moeite oor die sleutels, maar ek tik.  Elke sleutel wat ek druk, druk ek akkuraat; want ek doen dit vir Meneer Bekker.  Ek het hom nie sien kom nie.  “Draai om jou hande.”  Een kyk na my hande, en sy woede is iets om te aanskou“Wie!!” vra hy.  Halfhartig gee ek hom die naam.  Ek is nie gewoond daaraan dat ander my gevegte vir my veg nie.  Hy vaar by die deur uit.  Aan die einde van die periode sê hy saggies vir my, “Dit sal nie weer gebeur nie.”  Toe ek die volgende dag verby die huishoudkunde onderwyseres beweeg, sis sy deur haar tande, “Meneer Bekker se witbroodjie.”  Voorheen sou ek vir haar ‘n antwoord gereed gehad het, maar ek stap sonder woorde aan.

Die einde van daardie jaar kry ek ‘n onderskeiding in tik, en tot die onderwyseresse se verbasing is ek deur.  My matriekjaar volg dieselfde patroon.  Ek is onder Meneer Bekker se vlerk, en omdat ek hom nie wil teleurstel nie, gedra ek my so goed as moontlik in die klasse.  Ons nader die einde van die jaar.  Die leerlinge wat onderwys wil gaan swot word saal toe geroep.  Die interkom kraak, dan  kom die afkondiging, “Sal Kameel asseblief saal toe kom.”  Verwonderd stap ek saal toe.  Meneer Bekker wag my in.  “Ek het jou laat roep,” sê hy.  “Vir jou eie onthalwe vra ek jou vandag baie mooi, gaan leer vir ‘n onderwyseres, dit is die regte beroep vir jou.”  Verdwaas staar ek hom aan; om verder te gaan leer is nie op my agenda nie.  Hy lees my gedagtes, “Gaan leer verder Kameel, daar is ‘n dringendheid in sy stem.  Ek skud my kop, “Meneer, moet asseblief nie dit van my verwag nie, ek is moeg vir skool, ek wil gaan werk.”  My hart wil breek oor die teleurstelling op sy gesig, maar ek draai om en stap weg.

Van my beroepe in die daaropvolgende jare maak ek ‘n sukses.  Of dit net as gewone tikster in ‘n tiksterspoel is, of seketaressse van die Hoof Ingenieur Kernkrag;  elke stukkie werk wat uit my tikmasjien kom is die beste waartoe ek in staat is.  Dit is getik met liefde aan ‘n man wat my raakgesien het, en vir my ‘n baken op my pad was.

Advertisements
This entry was posted in 'In opdrag..... Bookmark the permalink.

28 Responses to Meneer Bekker en die Rebel

  1. Jinne,dis indrukwekkend!Soms steek daar meer in ‘n rebelse leerling,as wat mense dink.Dit kos net die regte benadering.

    Like

  2. karen sê:

    Sjoe, kan nie glo dit was jy nie! Ek dink jy sou ‘n uitstekende onderwyseres gewees het, met jou gawe vir kinders. Tog sukses was joune! Ai, daar is so baie kinders wat ‘n Mnr. Bekker nodig het in die lewe…

    Like

  3. Werner Olivier sê:

    ‘n Baie goeie skrywe kameel.Jy laat my ook baie jare terug dink aan ons skoolstelsel wat puik was,maar ongelukkig sommige onderwysers wat hulle magte misbruik het.Ek het vandag nog kontak met my standerd 9 en matriek,afrikaanse onderwyseres van veertig jaar gelede.Sy het in elke mens wat voor haar gesit het in die klas ‘n belangstelling gehad,wat baie beteken het vir my.Ek sien haar weer volgende week in die Kaap waar sy en haar man bly.Ek wil net een voorbeeld noem van ‘n ander onderwyser wat ons gehad het tydens ons matriek jaar,toe ons hom moes gaan sien het tydens beroeps keuses vir die volgende jaar.Ons was so 6 leerlinge wat dieselfde vakke gehad het, en die een leerling gaan sien toe die onderwyser en weet jy wat deel hy hom mee! met hierdie vakke kan jy niks doen nie.Ek het nie eers die moeite gedoen om hom te gaan sien nie.

    Na mening se mens nie so iets vir ‘n jong mens aan die begin van sy volwasse lewe nie.So daar was beslis Onderwysers en onderwysers gewees.Ek het al baie gewens ek kon so ‘n onderwyser vandag beet kry en vir hom sy fortuin vertel.

    Groetnis.

    Like

    • Kameel sê:

      Dankie vir jou insettinge Werner. Jy is bevooregd om iemand wat soveel vir jou beteken na veertig jaar nogsteeds te sien. Sou so graag in later jare vir Mnr Bekker wou sê hoe groot sy invloed op my was. Ek het vir die onnies reguit hulle fortuin vertel….. hulle het nie daarvan gehou nie. Ai, wonder hoeveel werklike geroepe mense in die onderwys staan?

      Like

      • Werner Olivier sê:

        Ek stem saam kameel.Ek wonder hoeveel ware Onderwysers in die beroep staan.Die juffrou wat ek vandag nog ken en sien het ‘n baie groot indruk op my gemaak.’n Juweel van ‘n mens.

        Groetnis.

        Liked by 1 person

  4. Toortsie sê:

    Dankie Kameel. Dankie dankie dankie mnr Bekker! Jy het ‘n aandeel daarin dat Kameel oor my pad kom loop het.

    Like

  5. Dit ruk aan my hart… Daar is soveel kinders wat so ‘gered’kon gewees het net deur iemand wat genoeg omgee

    Like

  6. seegogga sê:

    sjoe Kameel! marr jy was toe tog wel later betrokke by kinders en kon vir hulle baie beteken

    Like

    • Kameel sê:

      Ek dink seegogga Mnr Bekker wou vir my rigting en doel in die lewe gee. Hy het seker besef as ek die wêreld inbeweeg ek amok gaan maak. En ja, die grootste deel van my lewe bestaan uit kinders. Ek sê mos in hierdie lewe gee ek nie om nie, maar wil asb in die hemel nie in die kinderafdeling werk nie 🙂

      Liked by 1 person

  7. ekmyselff sê:

    Ai ek het nou lekker gelees, het jy kontak behou met meneer Bekker – ek lig my hoed vir hom.
    Onderwysers maak of breek n kind!

    Like

  8. nowathome sê:

    Dit is so hartseer dat daar nie meer Mnr Bekkers in ons skole is nie! Daar’s ‘n aanhaling wat se: If you teach, you touch a life!

    Like

  9. scrapydo2.wordpress.com sê:

    Nou het jy my ook laat tranerig word. Ek is so bly vir mr Bekker. Ek het self ook met die bemoeienis wat ek gemaak het met moeike leerders baie vir hul baklein in die personeelkamer as ons besprekings gehad het. Dankie vir die hart oopmaak skrywe wat jy met ons gedeel het

    Like

  10. Terug pieng: Toeka-Tokkel no 28 : Kleur | I scrap 2

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s