Pondoland

Ekskuus! Ek reageer nie op julle kommentare nie en lees nêrens op ander blogs nie. Nee, ek is nie kwaad vir enige van julle nie, maar op ‘n vyf dae staptog in die noorde van Transkei. Pondoland.

Blykbaar is die Wildekus in drie dele verdeel en  hierdie roete waarmee ons besig is, is die noordelikste derde.

Die meeste van die tyd het ons geen sein nie en is ons heeltemal afgesny van die buitewêreld, maar vanaand slaap ons by ‘n hotel waar daar sein is. Die eerste twee nagte, asook die laaste twee nagte, slaap ons in permanente tente van Drifters.

Ons groeplede het mekaar ontmoet by Port St Johns, waarvandaan ons in bussies vervoer is tot by ons eerste oornagplek. Dit was die ongerief van ‘n uiters sleg pad werd toe ons letterlik in die paradys afgelaai is. Die brawes het met kano’s in die rivier op geroei.

Wat ‘n lekker groep mense! Ons klein groepie van ses het aangesluit by 10 ander. Ons doen die alles-insluitende staptoer waar ons kos, beddegoed en handdoeke voorsien word en ons bagasie van kamp tot kamp vervoer word, en word ons bederf!

Twee gidse loop daagliks saam met ons, maar vandag het ons ‘n bietjie verdwaal. Die gidse het op ‘n stadium gevra of hul mag omdraai omdat dit naby hul huise was en die laaste stukkie van die pad maklik is. Ons het al die hotel gesien, maar moes nog oor die rivier kom. ‘n Klompie van ons het toe ‘die pad bietjie byster geraak’… darem die plek weer gekry ook! 🙂

Dis ‘n ongelooflike ervaring. Ons sien die mooiste kuslyn, verkyk ons aan die branders. ‘n Walvis of twee voel hul moet ons die heel dag vermaak. Die geselskap is heerlik. Nuwe vriende word gemaak, oues word verstewig. Beeste en skape wei op die strand. En nee, waar ons stap sien jy nie eintlik van die plaaslike bevolking nie.

Vanaand het almal die selfoonsein benut en geniet, net om môre weer “van die lug af te verdwyn”.

Maar intussen, mooi loop tot ons weer ontmoet.

Groetnis

Toorts

(Wanneer hierdie verskyn op my blog, is ons hopelik al klaar gestap.)

12 thoughts on “Pondoland

  1. Heerlik, heerlik! Dis so lekker as dit n groep mense is wat mekaar verstaan en waardeer. Geniet dit(klink die moeite werd)

    Like

Gesels saam, asseblief!