Die lewe is ‘n drama

Scrapydo se toeka-tokkel: Drama

wasat_theatre_masks_clip_art_26216Met hart en siel het ek daardie aand op die verhoog, mevrou Snip vertolk.  Na die konsert het ‘n tannie in die kleedkamer na my toe gekom, en my gelukgewens met my vertolking van die rol, en toe iets in die lyn gesê.  “Jy is ‘n gebore toneelspeelster, jou pad is vir jou uitgelê, sê vir jou ouers dit is wat jy met jou lewe moet doen.”  In die kar oppad huistoe het ek opgewonde vir my ma van die tannie vertel.  Sy het nie geantwoord nie.

Op hoërskool het my kop net een rigting toe gestaan; ek wou drama gaan swot. “Oor my dooie liggaam sal jy van een verhoog na ‘n ander beweeg, en al wat man is soen,” het my ma gekeer.  In haar oë was dit ‘n losbandige lewe, en nie ‘n plek vir ‘n dogter van haar nie.  As daar een mens is wat my moes verstaan het, was dit juis my ma.  Van kleintyd af het ek – terwyl sy voor die naaimasjien gesit en werk het – vir haar konserte opgevoer, en opera gesing.

Ek het toe nie drama gaan swot nie, maar my lewe het in ‘n drama verander.  Waar het dit begin?  Toe ek as tiener rebelleer, en chaos om my gesaai het?  Of was dit daardie storieboekdag toe ek op die bus geklim, en in die oë van daardie swartkopman gekyk het?  Ek weet nie, maar dat my lewe nie in normale kanale soos my susters s’n gevloei het nie, is verseker.  Soos skoonseun nou eendag droogweg opmerk, “Hierdie gesin het nie nodig om sepies te kyk nie, hulle hele lewe is ‘n sepie, en een episode wil meer dramaties wees as ‘n ander.”  Ons pastoor tussen die mielielande het beweer dat ons gesin die gemeente op hulle knieë hou.

Ek het dit al ten hemele uitgeskreeu dat ek nie gevra het vir soveel drama in die lewe nie.  Ek het emmers vol trane gehuil, en gepleit vir ‘n meer normale lewe, maar skaars sak die gordyn op een toneel, of hy maak op ‘n ander oop.  En nee, ek dramatiseer nie; diè wat my lewensverhaal hoor se eerste woorde aan my is altyd, “Skryf ‘n boek.”  Skryf ‘n boek?  Waar gaan ek al die woorde vind om hierdie “roller coaster” lewe te beskryf?

So sit ek nou ‘n paar jaar gelede in ‘n vroue bybelstudiegroep.  Ek is nuut daar. Iewers moes ek iets kwytgeraak het, want oppad parkeerterrein toe keer ‘n vrou my voor.  Volgens haar het dit wat ek gesê het haar nuuskierigheid geprikkel, en sy begin my ‘n paar vrae vra.  In die volgende uur en ‘n half trek sy stukkie vir stukkie my hele lewensverhaal uit my uit.  Aan die einde van die vertelling deel sy my mee dat sy ‘n sielkundige is, en dat my lewensverhaal wel een groot drama is, maar dat dit goed is so.  Sy kon my met ‘n veertjie omstamp.  Sy gaan verder deur te sê dat my hele menswees gebou is vir drama, en sou my lewe in meer egalige kanale gevloei het, ek die lewe sielsdodend sou vind.  Dit is die drama in my lewe wat my op my tone, en aan die gang hou.  Sonder dit sou ek wel bestaan het, maar nooit gelewe het nie.  Dit dan uit die mond van die geleerdes.

As naskrif; My ma het my kort voor haar dood om vergifnis gevra dat sy my gekeer het om verhoog toe te gaan.  Daar was niks om te vergewe nie. Die droom het lankal gesterwe, en ek het genoeg kinders gehad om lekker konsert mee te hou.

Advertisements
This entry was posted in 'In opdrag..... Bookmark the permalink.

13 Responses to Die lewe is ‘n drama

  1. ekmyselff sê:

    Jy hoef toe nie eers daarvoor te swot nie.
    Jammer oor jou drama, maar dit maak ons mos maar wie en wat ons is – ek het ook nogal n drama lewe.

    Like

  2. Toortsie sê:

    Dalk moet jy die ‘skryf ‘n boek’ bietjie oorweeg. Jy skryf fantasties, jy behou mense se aandag. Dalk moet jy ‘n slag deur al jou bloginskrywings gaan en iets daarmee doen?

    Like

  3. scrapydo2.wordpress.com sê:

    Hierdie sin is n besonderse mooi en goeie afsluiting vir jou dramatiese lewe.”Die droom het lankal gesterwe, en ek het genoeg kinders gehad om lekker konsert mee te hou.” Dit sê alles. Weet jy, toe ek in 2012 voluit beginskryf het oor my “verlede” Eintlik eie ervarings het ek agtergekom hoe baie daar gebeur het. My skryfklas elke Vrydag het gemaak dat ek nou n groot versameling van herinneringe het. Ek het hul toe gesorteer in NEw Zealand(of te wel vandag en nou) en Suid Afrika. Suid Afrika het ek weer opgedeel in voorskool, laerskool, hoërskool en eerste skoolhou. Dan het het die minimum oor my Getroude lewe geskryf omdat dit die swaarste, seerste tyd was. So my kas moet nog goed uitgeskrop word. Met tyd is al hierdie geskryf belangrik vir sielerus en vrede in die gemoed. (sjoe ek moet ophou dis nou te lank!) Jy is beslis n lekker skrywer. Omdat dit eie ervaring is werk dit goed uit. Hope liefde en n lekker stywe druk vir jou!

    Like

    • Kameel sê:

      Die skrywe van my ervaringe en die seer het baie dinge in my uitsorteer. Dit was ‘n gemaal en woel hier in my binneste….. nou voel dit meer ordelik. Ai scrapy, dink jy het meer moed as ek om orde aan die skryfwerk self te bring. Al gedink ek moet ‘n album daarvan maak…. sjoe, dit sal ‘n groot projek wees.
      Dankie vir die stywe druk…. ‘n stywe een vir jou ook daar in sprokiesland.

      Like

      • scrapydo2.wordpress.com sê:

        Die skrywery het my ook baie gehelp om insig in my eie omstandighede te kry. Groetnis uit n ysige NZ. Die sneeu fotos uit die Suid Eiland is absoluut asemrowend. Sal tog eendag n plan maak en gaan kyk.(op oomblik weet ek nie of dit ooit sal gebeur nie, mens weet nooit of n goeie feë dalk haar staf swaai nie!)

        Liked by 1 person

  4. Terug pieng: Toeka-Tokkel no 27 : Onderwys/ onderwysers | I scrap 2

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s