Omgewing

Scrapydo se toeka-tokkel: Omgewing

Ek het voorheen geblog oor Threadneedlestraat, en sy omgewing waar my eerste gewaarwordinge lê.  Ons het Parkhurst toe getrek, en behalwe dat dit ‘n bietjie “grander” was as Hursthill, het dinge nie veel verander nie.  Die kinders het in die strate gespeel, grootmense het vriendskappe gesmee wat lewenslank gehou het. Oom en tannie Louw, oom en tannie Niewoudt, oom Herkie, en tannie Lydia met haar sewe seuns, en baie praat, was van kleintyd af deel van ons lewe, en was by elke verjaarsdag, troue, doop en begrafnis teenwoordig.  Familiebande was sterk, maar probeer soos ek wil, ek konnie tred hou met die hordes neefs en niggies nie. Dan was daar nog die dominee, en al die kerkmense wat kom teedrink het.  Dit was ‘n gesonde omgewing, met gesonde mense, en gesonde verhoudings.  Die dissipline was streng, seks ‘n verbode onderwerp, maar daar was ‘n standvastigheid wat jou geborge laat voel het.

In my tienerjare het my ouers ‘n huis in Randburg laat bou.  Die meeste mense van my kinderjare was nog deel van ons lewe, maar daar was nie die gees van eenheid wat ek in my kindertyd leer ken het nie.  Die bure was vreemd, en het vreemd gebly.  Daar is nie koppies suiker, of eiers oor en weer geleen nie.  Die huise, en karre was groter maar die mense het jy nie gesien…. of gehoor nie.  Dit is behalwe vir daardie nag toe ek wakker geword het van ‘n vreeslike lawaai by die huis aan ons linkerkant.  Deur die kamervenster het ek sit en kyk hoe die buurman sy vrou al skellende by die deur uitboender, en haar uitsluit.  Sy het geskreeu, gehuil, aan die deur gehamer, later moed opgegee en die donker nag ingeloop.  Niemand het hulp aangebied nie, en ek het gewonder of ek die enigste toeskouer was van die drama.

Tot my pa se misnoë het ek eenkeer ‘n man wat te veel gedrink het ons huis binne gebring.  Dit was laataand.  ‘n Kar het op hoë spoed die pad byster geraak, ‘n gedeelte van die buurman se muur platgery, gerol, en in die veld langsaan tot stilstand gekom.  Ek het instinktief gehardloop, en ‘n paar treë van die kar af gestop.  Wat as die mense in die kar dood is, en ek is al een in die donker veld?  Net toe roep ‘n stem, “I’m ok, please help me out!!”  Die kar het op sy dak gelê.  Ek het die man uitgehelp, en met hom na ons huis toe gestap.  In die lig het ek ‘n goedgekleede man met snymerke aan sy gesig gesien; die reuk van alkohol het sterk aan hom gehang.  Hy het ons telefoon gebruik; daarna het ek hom so stil as moontlik badkamer toe geneem om na die wonde te kyk.  Ek wou nie my ouers wakker maak nie.  Dit was terwyl hy op die rand van die bad sit, en ek besig was om die bloed van sy gesig af te was dat my pa in die deur verskyn het.  My pa se gesig het boekdele gespreek.  Die volgende dag het die man teruggekeer; hierdie keer sober om dankie te sê vir die vorige aand se bystand.

My en Ken se eerste blyplek was in Hillbrow.  Wat ek in die Sodom en Gomorra gesien, en beleef het is verstommend.  Saterdagaande was ons clubaand.  Jy kon kies en keur waar jy wou gaan dans.  Die lekker deel van Hillbrow was dat dit nooit tot rus gekom het nie.  Ons het party nagte wakker geword, opgestaan, en sommer vir die lekkerte deur die strate gaan stap, lemoensap by Fontana gekoop, en al drinkende teruggestap woonstel toe.  Ek het in Hillbrow swanger geraak, maar gelukkig nie my kind daar grootgemaak nie.

Alhoewel ek gesê het ek wil nooit op die platteland gaan bly nie, het ons ‘n paar jaar later tussen die mielielande ingetrek.  Dit was my kinderlewe weer van vooraf.  Kinders het in die strate gespeel, buurmense het mekaar geken, die pastoor was ‘n vriend aan huis, en lewenslange vriendskappe is gesmee.  Ons kyk nostalgies terug op daardie jare.  Dit was die beste, en vrugbaarste tyd van ons lewens.  En toe maak ek my mond oop, en sê el wil tog nooit weer in die stad bly nie.

20150612_114233Nou amper vyftien jaar gelede trek ons Pretoria toe.  Weereens is alles om ons “grander,” maar bure bly vreemdelinge.  Ek wonder partykeer hoekom die buurman met sy mooi stem nie meer sing nie.  Hy bly agter ‘n hoë muur, dus kan ek hom nie vra nie.  Langs ons bly swartmense wat jy net eenkeer ‘n jaar hoor.  Voor die tyd roep die man jou oor die muur, en vra by voorbaat omverskoning want hulle gaan partytjie hou, en dit mag lawaai.  Ons gee glad nie om nie, geniet julleself, vul die lug met musiek, en lag, more is julle weer doodstil.  Die vrou skuins oorkant die pad het vir haar die “glashuis” laat bou.  Alhoewel daar nie gordyne voor die vensters hang nie, weet ek glad nie hoe sy lyk nie.  Nie dat die straat nie lewe nie; mense stap met hulle honde, en laat die Rottweilers beserk gaan.  Drawwers draf, en karre ry.  Daar is iets vriendeliks aan diè omgewing met sy gesiglose bure – ek voel dit in die lug.

Advertisements
This entry was posted in 'In opdrag..... Bookmark the permalink.

15 Responses to Omgewing

  1. Lekker gelees soos gewoonlik.

    Like

  2. Parkhurst se straat kafeetjies in (ek dink) 14de laan was van ons gunsteling plekke voor ons Suid Kaap toe gekom het… Daar is tog bietjie nostalgie as ‘n mens die stadslewe in heinnering roep.

    Liked by 1 person

  3. Onthou ook nog Hillbrow in my jonger dae. Die Bomboo Inn in Kotze straat… Ai jy vat my ver terug.

    Goed geskryf.

    Like

    • Kameel sê:

      Dankie vir die inloer. Weet nie hoe Parkhurst nou lyk nie….. maar Hillbrow lyk beroerd. Dit was lekker….. heerlike herinneringe van goeie ou dae!!!

      Like

  4. seegogga sê:

    Ons het self eenkeer so 2-3vm ‘n gebraaide hoendertjie by Fontana gaan koop. Ai waar is die jare van on Johies van daardie tyd.

    Like

  5. scrapydo2.wordpress.com sê:

    Nostalgies om so die goeie uit die mgewing te hoor en sien. Daar is tog altyd lekker en goeie dinge om te onthou. Baie dankie vr hierdie terugflits van hoe dit was en nog steeds is.

    Like

    • Kameel sê:

      Lekker om so te kan terugdink Scrapy. Ons het in ‘n goeie tyd groot…. en “wys” geword.

      Like

      • scrapydo2.wordpress.com sê:

        Ja en hoe. Na ek jou stuk gelees het vanoggend verlang ek sommer terug na daardie ongebonde lekker tye. Selfs my getroude tyd het besonderse grootword en omgewings ondevindings opgelewer.(Was net 13 jr getroud)

        Like

  6. Kameel sê:

    Ek is so dankbaar vir daardie jare…. en ook dat ek my kinders in ‘n besonderse tyd kon grootmaak. Vandag voel alles so onveilig… en wêrelds. Wil net vir jou sê ek haal my hoed vir die vroue af wat basies alleen hulle kinders moes grootmaak. Julle is besonderse mense!!

    Like

  7. “Gee, gee, gee – gee jou hart vir Hillbrow…” Jou vertelling laat my dink aan Kerkorrel se pragtige liedjie, oor ‘n plek wat nie meer is nie. Gelukkig is Pretoria nog daar en ja – dit is ‘n vriendelike omgewing ten spyte van die stadsatmosfeer en -gewoontes.

    Like

  8. Terug pieng: Toeka-Tokkel no 26 : Drama | I scrap 2

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s