Om ‘n toer aanmekaar te sit

Jare gelede nooi ek ‘n vriendin, ons twee moet oorsee gaan. Sou dit Europa wees? Sy doen vinnig aansoek vir ‘n paspoort. Op daardie stadium is al wat vliegtuig Europa toe vol. Wat dan van Engeland? Nee daar was ook ‘n probleem. Dan Griekeland! O, maar die Griekse Eilande is dan al toe. Op die ou end is ons nie weg nie, sy het verniet haar paspoort gekry en ek en manlief is later iewers anders heen op ‘n heel ander tyd.

Ek is nou nog skaam oor dié storie. Sý het ‘n groot les geleer: Wees versigtig met hierdie Toorts, want jy gaan, of jy gaan nie… 😉

Ons het al meermale getoer saam met ‘n sekere toeragentskap. Hulle neem 4×4 toere in Afrika in. Eintlik was ons lanklaas saam met hulle. Verlede jaar, toe hulle hulle toerbeplanning vir my epos, kry ek so ‘n krieweling onder my voete, en ek stuur dit vir my man en broer aan. (Broer is makliker om te oortuig as man!) Broer stuur dit aan vir Nefie. Intussen het ek al lánkal vergeet dat ek dit selfs aangestuur het!

Een dag vertel skoonsus vir my dat nefie so opgewonde is oor die Namibië toer. Namibië toer? Ja, man, die een wat jy aangestuur het!

Weer heeltemal vergete van dié storie sê ek vir manlief: “Ek het darem nou lus vir ‘n Frank toer.” Hy sê, wat dan van die Nam toer?

Een Saterdagaand laterig 😉 besluit die familie: Ons gáán Namibië toe. Bel net daar vir Frank (toerleier). Ongelukkig is die Nam toer vol, maar daar’s nog plek vir Pondoland, heel aan die ander kant van die land! Bespreek tentatief, maar een wie graag wil saamgaan, kan nie dan nie. Soek op die internet vir nog Pondoland toere en ontdek ‘n staptoer. En ja, daar is sowaar nog plek in ‘n tydgleuf wat ons pas… en so mettertyd het die groeplede bygekom, ander het weggeval… Sommige dae sal ons rustig kan wees, ander dae moet ons spring om toerlede te akkomodeer wat ook ander verpligtinge het…

So, mense, as jy met my saam wil toer, moet jy weet, die kans is goed dat ons gaan…of nie…  maar nie noodwendig waarheen ons aanvanklik beplan het om te gaan nie, en dalk met ‘n hele paar ander ompaaie tussenin! 🙂

That’s life!

Toorts

Aanpasbaarheid… 😉

9 thoughts on “Om ‘n toer aanmekaar te sit

  1. Ek ken ook van beplanning en beplanning en nog beplanning! Op einde gaan ek tog maar op my eie(dit was voor ek getroud was) want dit pas nooit almal nie! Lyk of julle darem tog wel toer beplan of te not!

    Like

      1. Ja, so is dit!Een vriendin vertel juis hul het een jaar op n NZ paspoort Indië toe gegaan. Hul moes visa hê wat hul nie gehasd het. Hul moes net mooi weer op vliegtuig klim en buite (kan nie onthou waar) Indië wag vir tydelike visa. HUl kon dit nie in Indie kry nie – net gedeporteer word!

        Like

  2. Moeilik in vandag se lewe om iets te reel wat almal pas, ek het nou al gesien, reel dit net, die wat regtig daar wil wees sal n plan sien om te kan gaan.
    Ek moet se ek sal nou kan doen met n toer.

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!