Hoeveel is genoeg?

Ek baklei soveel keer dat mense tog net moet spaar vir hulle oudag, want as ons nie elke maand minstens 10% van ons inkomste spaar nie, waarvan gaan ons leef as ons afgetree het? Dan praat ek nie eers van WAAR jy moet spaar nie, dit gaan net oor die gedagte dat jy MOET spaar.

Vvuureoc het my kop nou weer aan die dink gesit. Hy vertel van ‘n persoon wat amper nie geld het om kos te koop nie. Dít, terwyl beide die man en die vrou hulle lewe lank gewerk het, ‘n pensioen én spaargeld opgebou het. Iewers is iets nie lekker nie. Toe hulle op 70 ophou werk, met pensioengeld en opgeboude spaargeld, het hulle 3 miljoen rand beskikbaar. Daaruit kry hulle ‘n skrale R5000 per maand. Te min om van te leef, of behoorlik van te leef. Ja, daar is baie mense wat NOOIT R5000 per maand het nie, maar dis ‘n ander dag se storie.

Ek het die som gaan maak: Sou hulle 100 jaar oud word, die geld in ‘n kis onder die bed hou, en dit so uitwerk dat hulle geld net mooi op is as hulle 100 is, en dat hulle nie ouer as 100 gaan word nie, gee dit vir my 30 jaar, wat 360 maande is, R8333 per maand. Dan is daar nou nie geld oor vir die wis en die onwis nie, maar soos dit vir my klink is daar in elk geval nie geld vir die wis en die onwis nie.

Maar sou hulle hulle geld net in die bank sit, nou praat ek nie eers van aandele of iets wat selfs ‘n hoër opbrengs kan bring nie, en ek bereken dit teen 5% rente per jaar, is die RENTE ALLEEN R12 500.00 per maand. So, sou hulle NOOIT van hulle kapitaal gebruik nie en op die rente alleen leef, kon hulle leef van R12 500 per maand!

Sou hulle besluit om die geld in die bank te sit teen 5% rente, maar dit só te gebruik dat dit als op is as hulle 100 haal, is daar ‘n volle R16 100 per maand beskikbaar…

Hoe het dit dan gebeur dat hulle slegs R5000 per maand beskikbaar het?  Het iemand vir hulle swak raad gegee? Besef hulle nie dat hulle wel meer geld tot hulle beskikking het nie? Vvuureoc, ek skimp nou nie op jou nie, dis eintlik net ‘n goeie voorbeeld van iets wat elke dag gebeur.

Die rede hoekom ek hierop antwoord, is omdat oumense en hulle geldsake vir my ‘n saak van kommer is. Baie keer voel die oumense die knyptang van te min geld aan hulle lywe, dat hulle soms DINK hulle het minder geld tot hulle beskikking as wat hulle regtig het. Hulle weet nie hoe lank hulle nog gaan leef nie, en gaan hulle geld hou? Veral in die ouetehuis praat mense met mekaar en hoor hulle hoe sleg dit gaan met die ekonomie, dat hulle hulleself ontneem van dinge wat hulle dalk kon bekostig.

Ja, weer eens, daar is baie mense wat van R900 pensioen per maand moet leef, maar ek praat van mense wie voorsiening gemaak het vir hulle oudag.

Ek dink soms is dit nodig om ‘n som met ons oumense se geld te maak en dit met hulle te bespreek. Ter wille van hulle eie gemoedsrus.

Groete

Toorts

Advertisements

About Toortsie

'n Flitsliggie wat oral inskyn, ook waar dit soms ongemaklik is... A Toortsie is a small flashlight, like a torch.
This entry was posted in Geldsake. Bookmark the permalink.

12 Responses to Hoeveel is genoeg?

  1. scrapydo2.wordpress.com sê:

    Sug!!!! Ek is een van daardie ouens wat gespaar het waar ek kon. Hard probeer maar…. Geldwaarde het so versleg dat daar nie regtig links of regs of agtertoe en vorentoe gegaan kan word nie. Maak my sommer moedeloos. Die beleggings wat jare terug gemaak is is gebruik vir daaglikse verblyf. Waarvan kom die ektra rente? Nie van die blyplek nie. Dit vra net ekstra uitgawe.

    Liked by 1 person

    • Toortsie sê:

      Ek besef dat die meeste ouer mense maar in die bootjie sit. Hoeveel is genoeg? Ek het sommer die som gemaak om te sien, hoeveel is jy veronderstel om te hê per maand met R3 000 000 kapitaal?
      Lewenskoste styg, pille raak meer, inflasie…

      Like

  2. HesterLeyNel sê:

    My mediese fonds alleen kos amper R3000 per maand. Dis maar ‘n pad vol slaggate.

    Like

  3. My skoonma was so gestres oor geld,dat sy in pyn verkeer het deur te spaar op pynpille.Toe manlief mooi met haar gaan sit en daarop wys dat sy genoeg het om nog tot op 110 jaar te leef,het sy eers ontspan.Soms moet ons steeds hard praat,want sy raak steeds benoud oor haar geldsake.

    Like

  4. Leef beskeie, moet dit nie te geil wil hê nie.

    Like

  5. Hoe ouer mens raak hoe groter word die bekommernis.

    Liked by 1 person

  6. Terug pieng: Spaar, Spaar, Spaar | Herriemerrie

  7. Wie in vandag se lewe hou nog geld in die bank? Koop eiendom en kry pasiewe inkomste

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s