Die mense in my fotos

Scrapydo se toeka-tokkel: Prente/Fotos

20140730_133916-1Almal wat my ken weet van my groot liefde vir fotos.  In my tienerjare het ek ‘n kamera as geskenk gekry, en van daardie oomblik af is my lewe in fotos vasgevang.  Kosbare oomblikke – maar nie almal gelukkig nie.

Sou ek een enkele foto kon uithaal, opskeur, en so die gebeurtenis wat daardie foto verteenwoordig uit my lewe wis, watter foto sou ek kies?  Dit is die vraag wat ek myself afgevra het – die antwoord was maklik.  Die foto waar ek met my roomkleurige jas, en oranje hoed langs Andrè staan die dag toe ons getroud is.

Maar so eenvoudig is dit ook nie.  Was daar nooit so ‘n dag nie, sou my fotos heeltemal anders gelyk het.  Timothy se gesig sou wel daar gewees het, maar nie een van my ander kinders, skoonkinders, of kleinkinders s’n nie.  Ook nie Ken of Shane se gesigte nie.  Al my vriende wat ek later in my lewe gemaak het sou ook afwesig gewees het.  Ek sou in ander huise gebly het, op ander plekke vakansie gehou het, saam met ander huismense gelewe het.  Tot my bediendes sou nie liewe Bettie, moederlike Maria, en goedgeaarde Florah gewees het nie.

Is dit wat ek wil hê?  Ek kan die lewe glad nie indink sonder die mense wat uit die fotos vir my glimlag nie.  Nie dat hulle engeltjies is nie… vêr daarvandaan.  Diè naaste aan my het elkeen sy deel aan my vreugdes en trane.  My hart is al hoeveel keer aan flarde geruk.  So seer was ek al, dat ek op ‘n dag die fotorame waaruit hulle gesigte vir my geglimlag het, met ‘n armbeweging van die Singermasjien afgevee het.  Daar het ek tussen die gebreekte glas gestaan en huil oor diè mense wat God in my lewe geplaas het.  Maar sonder hulle lewe?  Dit kan ek my nie indink nie.

Miskien moet ek met meer deernis na die foto van my en Andrè se troudag kyk.  Die pad daarna was nie ‘n maklike een nie, maar die mense op my lewenspad elkeen kosbaar.  Hulle het gehelp om my te slyp, en te vorm; en sal aanhou om dit te doen tot die einde toe.

“Only God can transform a sin-flawed soul into a masterpiece of grace.”

14 thoughts on “Die mense in my fotos

  1. Amper het ek my huiswerk vergeet.

    Interessante hoek op die opdrag. Om ‘n foto te vernietig en daarmee ‘n gebeurtenis uit te wis. Dit is dalk waar dat dit wat jy vandag as kosbaar sien, nie daar sou gewees het nie. Aan die anderkant, was daar dalk iets beters. Kon net so maklik slegter gewees het. Dalk sou die lewe in elk geval met jou die pad geloop het.

    Liked by 1 person

    1. My dogter Jay sê nou eendag sy moes nooit met haar eerste man getrou het nie. Dan sou jy nie vir J en J (haar dogter, en seuntjie) gehad het nie, antwoord ek. Ek sou ander kinders gehad het, was haar redenasie. Ek kan my egter nie indink om nie daardie twee blondekoppe as kleinkinders te hê nie. Wie weet watter draaie die lewe met ‘n mens sou loop.

      Like

    1. Jou naam pas voorwaar by jou!! Jy los alyd ‘n sparkle hier op ons blog. Dan is die moeilike goed amper soos kougom 😉

      Like

  2. Pragtige bydrae vir Toeka-Tokkel se fotos! Die lewe is steeds baie leersaam en interessant asook hard en hartseer. Ek het na my “gewese” man se selfmoord alles wat foto is weggebêre. Diep weg! Noudat ek hier in NZ is en na 20 jaar het ek die troufotos geraam en teen my een muur opgehang. Die mooi van trou en die geluk straal uit ons gesigte. Dan het ek fotos van my en my seun opgesit. Hy in std 9 saam met my en ons twee honde en dan een van ons twee met sy diplomaplegtigheid.
    Laaste een is verlowingsfoto met ons twee en liefie. Nou moet ek nog hul troufoto opsit. Daar is ongelukkig nie een met my saam met hul nie!(seker nie so belangrik nie!)

    Like

    1. Elkeen se pad wat hy gestap het is uniek…. en fotos vertel daardie storie. Jou troufoto teen die muur sê vir my daar het al groot genesing plaasgevind. Scrapydo as daar nie ‘n foto van jou saam met hulle geneem is nie, is dit belangrik. Miskien nie vir hulle nie maar wel vir jou. Sulke dinge maak seer.

      Like

      1. Presies, ek probeer nie daaraan dink nie maar dit sal hul om die einde tog raak. Gelukkig het ek dat die fotograaf twee fotos saam met my seun laat neem net voor die troue.(nie gekleurd nie maar swart en wit) Daar is tog n doel mee!

        Liked by 1 person

    1. Netso Toorts. Ek dink dit wat ons lewe is, en wie in ons lewe is, is die instrumente wat God gebruik om ons te vorm. Ek kannie dink daar is ‘n mens wat my ooit sou kon slyp soos Ken nie. Laat ek nou nie verder praat nie 😉

      Like

  3. Is dit altyd die gebeurtenisse of die mense betrokke by die gebeurtenisse wat ons wegwens? Ook ‘n onderwep wat jou soos ‘n esel sal laat om en om loop. Maar jy het die wa deur die drif getrek Sally.

    Like

    1. Die gebeurtenisse wat op daardie troudag gevolg het Olga. Pluk vandag nog die vrugte daarvan. Kyk oor die pad terug en kannie glo waardeur ‘die wa’ al gekom het nie. Net deur God se genade alleen. Mooi naweek vir jou…. een sonder klippe teen die kop, blaffende honde ens. 🙂

      Like

Gesels saam, asseblief!